Die broers Marius en Martin Oosthuizen het pas stof in die oë van die ander spanne geskop en weggestap met die titel as die eerste wenners van VIA se nuwe Afrikaanse vasvraprogram Die Grootste Genoot kompleet met ’n stewige kontantprys van R100 000 in hul sak.

Marius en Martin 4

Die broers is albei mal oor lees en Marius meen “Martin het die geheue van ’n olifant, so hy onthou eenvoudig alles wat hy lees.” Tog het hulle dit nie self oorweeg om in te skryf nie.

Hul suster het Marius benoem, maar sy kon nie die opnames bywoon nie en Martin was ingeroep om sy broer se spanmaat te wees. “Marius het op die ou end die meeste van die praatwerk gedoen, maar ek dink dit was darem ’n spanpoging,” sê Martin.

Marius is eintlik bly sy broer was saam met hom daar. “Ek het al voorheen aan ’n vasvrakompetisie deelgeneem en ek het gedink dit sal lekker wees om die ervaring met my broer te kan deel,” vertel hy.

Die broers het op ’n flinke pas gedraf deur die vrae wat deur die radiopersoonlikheid Rian van Heerden aan hulle gestel is, maar hulle erken dat hulle nie vreeslik hard voorberei het nie. “Ons het een van die Huisgenoot-gedenkbundels ontvang, maar daar was nie rêrig tyd om dit op te swot nie, so ons het maar op ons algemene kennis staatgemaak,” vertel Martin.

Hulle sal nog lank met ’n glimlag terugdink aan Die Grootste Genoot. “Dit was die eerste keer dat ek iets met TV te doen gehad het en dit was regtig ’n lekker ervaring,” vertel Marius. “Die deelnemers was almal baie vriendelik en hulle moes ons partykeer stilmaak omdat ons so lekker tussen die verfilming gesit en kuier het!”

Screen Shot 2016-09-09 at 10.37.57 AM

Martin meen dit was ook ’n eer om saam met Rian van Heerden te werk. “Ek het hom voorheen nog net op die radio gehoor, maar nou kon ek ook met hom gesels.”

Die geluk stroom behoorlik in Martin se rigting. Hy het onlangs pa geword en sy dogtertjie, Lorenza, is nou drie maande oud. Daarom sal die prysgeld ook nuttig te pas kom. “Noudat ons ’n gesin is, kort ons beslis ’n groter kar, so ek gaan die geld neersit as ’n deposito daarvoor.”

Die Grootste Genoot het die afgelope drie weke elke weeksaand op VIA (DStv-kanaal 147) gewys. Gaan loer hier as jy van die vasvrae uit die program wil aanpak.