Hy deel weekliks op Huisgenoot.com slim raad en praktiese inligting oor daai gesondheidsvrae wat jy liefs nie wil vra nie.

Gewoonlik is die eerste vraag wat mense met ’n veluitslag of -siekte my vra: “Is dit aansteeklik?”

Omdat veltoestande baie sigbaar is – anders as byvoorbeeld oorontsteking – is mense dikwels bekommerd oor die aansteeklikheid daarvan. Hoe meer prominent, hoe meer besorg is hulle. Watter toestande is aansteeklik, en watter nie?

Vier toestande wat nie aansteeklik is nie:

  • Vitiligo: Dis ’n toestand waar die vel plek-plek pigment verloor en ligter en selfs wit raak.
  • Psoriase: Die verdikte areas van die vel het ’n silwer, skubberige voorkoms.
  • Kontak-dermatitis (ekseem): Dis ’n allergiese reaksie van die liggaam tot ’n stof. Die rooi, geïrriteerde vel kan aansteeklik lyk, maar is glad nie.
  • Aknee: Anders as wat dikwels geglo word, is aknee as sodanig nie ’n aansteeklike velsiekte nie.


Vyf toestande wat wel aansteeklik is:

  • Herpes simpleks (tipe 1 en 2): Koorsblare en genitale herpes is albei aansteeklike toestande en word maklik tussen mense oorgedra.
  • Atleetvoet en ringwurm: Tinea-infeksies versprei maklik van mens tot mens of deur die omgewing. Onthou: Ringwurm-infeksies is nie ’n werklike wurm nie; dit is ’n fungus. Dit word so genoem omdat dit ’n ronde, opgehewe letsel veroorsaak wat soos ’n wurm onder die vel lyk.
  • Jeuksiekte (skabies): Hierdie parasitiese siekte is hoogs aansteeklik en kan deur kontak, beddegoed en klere oorgedra word. Die letsels is meestal ’n opgehewe kolletjie met ’n rooi lyn wat daaruit loop wat erg jeuk.
  • Impetigo: In die algemeen kan hierdie bakteriële velinfeksie maklik onder kinders oorgedra word. Dit lyk soos ’n rooi seerplek wat nie gesond wil word nie en het goudkleurige rofies. Antibiotika word dikwels benodig om hierdie toestand te behandel.
  • Brandnetel-uitslag: Alhoewel die toestand nie in die ware sin van die woord aansteeklik is nie, kan brandnetelgif wat op ’n vel agterbly na iemand anders oorgedra word as die mens daaraan raak. Dis waarom die wanpersepsie bestaan dat ’n brandnetel-uitslag aansteeklik is.


Het jy ’n vraag vir dr. Owen Wiese? Gaan na sy Facebookblad om met hom te gesels.

  • Nuwe episodes van Dokter-Dokter wys elke Maandag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Sondae om 22:30.