Leandri in haar Diaan Daniels-trourok wat perfek by haar lyf pas. Foto: Warren Williams

1. Die onderkonstruksie van jou rok maak ’n verskil! 

Of jy jou droomrok laat maak by ’n ontwerper of dit by ’n bruidshuis koop, dit is belangrik dat jy tevrede is met die vorm van die rok en hoe jou borste vertoon as jy ’n lae hals dra en ook jou middellyf vertoon. As die “bridal cups” in jou rok nie genoeg ondersteuning gee nie, kan ’n skouerlose bra net die ding vir jou wees. Jou ontwerper ken al die truuks; vra hom gerus. As jy gewig verloor voor jou groot dag, maar nog om jou middel ongemaklik voel, kan Spandex of ’n aparte korset onder jou rok wat die middel intrek jou lewe red. Maar dit hang natuurlik af van jou rok se ontwerp.

2. Wat om te dra as jy rokke aanpas! 

Jy hoef glad nie met te veel grimering opgedollie aan te kom by jou ontwerper of bruidshuis wanneer jy rokke aanpas nie. Wend dit ligweg aan, want jy wil nie die duur rokke beskadig nie. Veral verbronsers is ’n groot nee! Sit net genoeg grimering aan dat jy darem soos ’n bruid lyk wanneer jy later na die foto’s kyk. As jy lang hare het, is dit beter om dit in ’n poniestert te dra sodat jy al die lyne van die rok kan sien. As jy ’n sluier aanpas, bied dit ook ’n lekker plek om dit aan te haak. Trek ’n toppie aan met knopies vir maklik aan- en uittrek en bring ’n skouerlose bra. Nog ’n goeie idee is om ’n spanbroek (leggings) aan te trek sodat jy nie heeltemal hoef te ontklee nie, veral as jy skaam is.

3. Moenie net ja sê vir elke rok nie

As ’n ontwerper of bruidskonsultant jou help om die perfekte rok te soek, moenie net die heeltyd in ’n sagte stemmetjie ja sê vir elke rok nie. Ons gevoelens gaan glad nie seergemaak wees as jy nie van ’n rok of twee hou nie. Ons kan nie jou gedagtes lees nie. Wees eerder eerlik, want so kan die ontwerper vir jou beter raad gee. Ontwerpers en konsultante wat weet wat hulle doen, sal jou baie gou laat weet as jy nie in iets pas nie.

4. Doen die kanseltoets om seker te maak

Voor jy die finale besluit neem dat jy jou droomrok gekry het, sit die sluier en al die bykomstighede aan. Loop, sit en draai in die rondte by die bruidshuis of ontwerper se winkel om seker te maak jy voel en lyk goed van elke kant. As dit die perfekte rok is, sal jy dit glad nie wil uittrek nie.

5. Trourok soek is emosioneel

As jy ’n paar afsprake op een dag gemaak het om trourokke aan te pas of om verskeie ontwerpers te gaan sien, wees gewaarsku. Dit is baie emosioneel en selfs fisiek dreinerend om verskeie rokke aan te pas en uit te trek. Dit is ’n groot besluit en jou emosies kan met jou wipplank ry. Maak seker jy kry genoeg slaap voor die tyd, neem alles in en moet dit nie afjaag nie. Moenie toelaat dat ’n bruidshuis jou dwing om ’n rok te koop of jou druk om dadelik te betaal as hulle byvoorbeeld ’n uitverkoping het nie. Dit is dalk net ’n bemarkingsfoefie. Gaan huis toe en neem daardie besluit rustig. Die rok sal nog die volgende oggend daar wees. Trou is nie perdekoop nie en so ook nie trouroksoek nie.

As jy jou ma saamneem na die aanpassessies, hou in gedagte dat hierdie spesiale geleentheid vir haar net so ’n groot oomblik is en dat sy saam met jou droom van kleintyd. Maak dit vir mamma spesiaal deur een rok aan te pas wat haar keuse, is al hou jy niks daarvan nie. Sy sal in jou ogies sien as jy nie daarvan hou nie, maar dalk verbaas jy jouself en kies haar rok. Dit is ’n wen-wen-situasie en jy gaan beslis konflik vermy. 

Van asemrowende trourokke, tot volgende week!