Nadia Beukes se Moeder Eureke het haar baie ondersteun op haar troudag en het beide pratig gelyk in hul Diaan Daniels ontwerpe. Foto: Hanri Human

Wie se troue is dit? 

Nuusflits: Ma, al is dit jóú geld wat uitgegee word, moet jy besef hierdie dag is jou dogter s’n en sy gaan jou geld sit waar sý wil en nie jy nie. Die beste is om vrede hiermee te maak, want bruide van vandag wil nie meer by al die tradisies hou nie. 

Sê ja vir háár droomrok

Jy het reeds die prentjie in jou kop van hoe jou dogter moet lyk wanneer sy in die paadjie afstap. Daar is miskien twee trourokopsies en jou hart lê by die een rok met ’n lang sleep en jy pink al ’n traan, maar jou dogter het haar hart op rok nommer twee, wat baie onkonvensioneel is. Ondersteun jou dogter se keuse en laat sy dit met gemak kies al is dit hoe moeilik. 

Een deur maak toe en ’n ander maak oop!

Jou rol as moeder het ’n hele ander betekenis as wat jy dink. ’n Troue verander alles en hier moet jy terugstaan as die deur toeslaan in jou gesig. Jou opinie oor haar trourok mag dalk op dowe ore val. ’n Nuwe deur maak oop en jou nuwe posbeskrywing as ma is om raad te gee oor haar nuwe lewe as getroude vrou. Jul verhouding groei in iets meer belangrik as jou opinie oor ’n troukoek. 

Die moeder van die bruid se rok

Bruide, hier is ek definitief aan jou ma se kant (soort van). Sy is nie deel van die strooimeisies nie. Moenie dat sy by die kleur van jou troue pas nie, want as jou trouskema rooi is, pas dit dalk nie haar gelaatskleur nie. Sy is, naas jou en die bruidegom, die belangrikste gas daardie dag. Kies dus iets tydloos in kleur en styl wat by haar pas en nie by jou trouskema nie.

Die ma is ook nie die  bruid nie en moenie die blinkste rok dra en met die grootste hoed opdaag nie. 

Die groot dag breek aan 

Deesdae begin die bruid en haar vriendinne al vroeg klaarmaak. Mamma, as sy jou nooi om saam met hulle aan te trek en deel te hê in die pret, sê ja. Al “tease” die haarstilis jou hare hoër as wat jy daarvan hou, moenie ’n bohaai maak en jou dogter se dag omverwerp nie. Neem die stilis eenkant toe en sê jy sal gemakliker voel met iets anders. My punt is:

Geniet die laaste oomblik saam met jou dogter en laat haar minder stres, want wat nou gebeur sal verewig onthou word. 

Ek het jou nou voorberei op jou dogter se spesiale dag as moeder van die bruid met meer as net jou uitrusting. Jy wil hê jou dogter moet terugdink en sê: “Ek het die beste ma in die wêreld,  sy het my ondersteun deur hierdie hele proses en my dag was die mooiste.” Dit is die sleutel tot ’n suksesvolle troudag, sonder die Bridezilla of Momzilla. 

Van asemrowende trourokke, tot volgende week!