LeRoux van Warm Karoo se venue is in ‘n Country styl atmosfeer in die hartjie van Bloemfontein geleë. Foto: Eye Poetry

Beplan jou dag

Om al die stres op jou troudag te vermy, ruim ’n bietjie tyd in om vooraf die klein fieterjasies af te handel. Hoe meer inligting jy die trouplek kan gee, hoe beter verstaan hulle wat jy graag wil hê, sê LeRoux. 

Navorsing van troulokale

Voor jy jou troulokaal bespreek, doen navorsing oor al die venues waarin jy belangstel. Kyk ook na wat vorige bruide en gaste te sê gehad het oor die venue wat jy in gedagte het. Lees resensies oor die lokale. Moenie vasgevang word in leë beloftes van ’n troulokaal nie. Konsentreer op die feite van kliëntediens, buigsaamheid, personeel en die persoonlike aandag aan die fynste besonderhede wat ’n geleentheid soos ’n troue kan maak of breek. Vra jou af: Is hulle gewillig om die tweede myl vir hul bruide te loop?

Wat is ingesluit en uitgesluit? 

Elke venue het verskillende pakkette. Moenie net na die huur van die lokaal en die prys per persoon kyk nie. Maak seker jy is bewus van wat op die groot dag ingesluit is. Algemene goed wat bruidspaartjies miskyk, is die drankies vooraf en die ekstra koste van ’n troukoördineerder. Die huur van ’n buitekoördineerder kan gou ’n groter koste byvoeg, want by sekere venues word hierdie koste ingesluit by jou pakket. 

Eksterne troukoördineerder

Warm Karoo en meeste ander venues verwelkom jou eie buitekoördineerder en ag hulle net so belangrik soos die bruid. 

Proe jou spyskaart

Meeste venues raai ’n spyskaartproe vir elke paartjie aan om seker te maak hulle is gemaklik met die spyskaart. Bruide moet wel besef dat dit dieselfde moeite verg om vir vyf mense kos te berei as vir 150. Dus is die spyskaartproe in die meeste gevalle nie gratis nie.

Ontspan 

Jou venue wil hê jy moet die perfekte dag hê en sal alles in hul vermoë doen om jou dag spesiaal te maak. Onthou, sodra jou ma of strooimeisie begin inmeng met jou reëlings en tussenganger speel met die troulokaal, kan die hele beplanning verander en dalk nie soos wat jy en die venue ooreengekom het nie. Jy het jou venue vir ’n rede gekies; vertrou hulle dus om jou droom waar te maak. 

Bespreek vroegtydig

Liewer te vroeg as te laat. Goeie venues is gewoonlik sowat ses tot 12 maande vooruit bespreek. Daar is duisende details op jou groot dag, maar net jy weet hoe jou dag moet verloop. Moet, ter wille van jou en die koördineerder se stresvlakke, nie toelaat dat die klein goedjies wat dalk kan skeefloop, jou hele ervaring bederf nie. As jy dit geniet, gaan jou gaste dit ook geniet selfs al reën dit!

Van troulokale tot asemrowende trourokke, tot volgende week! 

  • Skakel elke Woensdag om 17:30 in vir nuwe episodes van My droom-trourok op VIA (DStv-kanaal 147) en Sondae om 15:30 vir die heruitsendings.