Foto: Cecile Britz speel model vir Diaan se nuwe reeks en René Ferreira van Follicle On The Move wend haar grimering aan.

René se vyf grimeer-wenke

•Jy wil nie onnodig stres op jou troudag nie, dus is dit beter om die grimeerwerk in die hande van ’n professionele grimeerkunstenaar oor te laat. Moenie dit self probeer doen nie. 
•’n Grimeerkunstenaar analiseer jou gesig en oogvorm en besluit dan watter grimeerstyl en kleure jou vel en oë die beste sal komplimenteer. 
•Professionele grimeerkunstenaars gebruik ook die beste produkte op die mark wat verseker dat jou grimering vir die res van die dag hou. 
•Maak seker jy en jou gevolg gebruik die regte skakering onderlaag indien daar nie ’n grimeerkunstenaar is nie. Onthou, dit moet beeldskoon in persoon én op die foto’s lyk. 
•Grimeerkunstenaars weet watter grimeer-neigings aan die gang is en kan sodoende jou grimering modern maar tog tydloos laat lyk. 

Ek het al by bruide opgedaag wie se grimering ’n totale ramp was omdat hulle hul vriendin gevra het om te help of dit sommer self probeer doen het. Dis belangrik dat jy goed lyk en voel op die foto’s. Meeste bruide hou ook van ’n meer natuurlike voorkoms, maar grimeerkunstenaars sal meer grimering aanwend as waaraan jy gewoond is. Foto’s wat in ’n natuurlike lig geneem word, haal die lig uit jou gesig uit en lyk jy soos ’n spook op die foto’s. Dit mag dalk soos te veel grimering voel, maar op die foto’s en vir die res van die mense gaan jy beeldskoon lyk. 

Onthou ook om altyd ’n proeflopie voor jou troudag met die grimeerkunstenaar te reël. Die grimeerkunstenaar weet dan watter grimering jy wil hê en so ook weet jy of jy van die grimeerkunstenaar se styl hou. 

Van asemrowende troues en beeldskone grimering, tot volgende week! 

– Diaan Daniels