Nadia Beukes en haar strooimeisies geklee in hul ontwerpers rokke deur Diaan Daniels. Foto: Hanri Human

Moenie kla oor jou rok

Strooimeisies moenie kla oor hul rok nie, veral nie as die bruid daarvoor betaal nie. Dit is een dag in jou grootmenswêreld dat jy moet ja sê en glimlag. Dit is dalk nie jou kleur of styl nie, maar vyf ander meisies moet ook inpas. Bruide moet ook nie hul strooimeisies rokke met groot satynstrikke laat dra nie. Kies ’n kleur en as elkeen se lyf anders is, gee hulle verskillende style as dit moontlik is, maar hou die kleurskakering dieselfde. 

Dis die bruid se rok, nie joune nie

Wat ’n nagmerrie vir enige ontwerper of bruidshuis as die bruid vyf strooimeisies saambring om haar droomrok te kies. Alle strooimeisies moet daar wees vir morele steun. Dink aan wat by jou vriendin, die bruid, sal pas en nie waarvan jy hou nie. Dit is nie jou dag nie en sy neem jou saam om alles opwindend te maak. Respekteer haar besluit, want dikwels vind ’n meisie haar volmaakte rok, maar daardie een strooimeisie sal ’n bruid onseker laat voel. Dan gaan julle van winkel tot winkel en kry niks, want daardie selfde vriendin is tevrede met niks. Bruide, neem eerder een of twee meisies of jou ma saam. 

Wees ’n spanspeler

Dit is nie ’n kompetisie oor wie die beste vriendin kan wees nie. Maak seker jy bombardeer nie die res van die bruidsgroep om reëlings te tref sonder die bruid en hoofstrooimeisie se toestemming nie. Wees ondersteunend en moenie ’n onderonsie begin voor die groot dag nie. 

Die henneparty 

Moenie aanneem elke bruid wil ’n aand uit met baie drank en ontkleedansers hê nie. Neem die bruid se persoonlikheid in ag, want dit is nie ’n partytjie-geleentheid vir jou en die res van die strooimeisies nie. As hoofstrooimeisie moet jy eerder die bruid vra wat sy verkies. Alles hoef nie altyd ’n verrassing te wees nie. 

Moenie die bruid gespanne maak nie

As jou bruid ’n bietjie veeleisend is en jy te veel op jou vurk het as hoofstrooimeisie, moet jy nie die bruid nog meer gespanne maak en kla oor die ander strooimeisies nie. Kla by ’n vriend of vriendin wat nie die bruid ken nie. 

Om ja te sê as strooimeisie is ’n groot voorreg, maar dit kom met baie verantwoordelikheid, tyd en dalk geld wat jy moet bestee. Wees die anker vir jou bruid, maar onthou die doel hoekom julle hierdie dag vier en dit sal beslis die moeite werd wees. 

Van asemrowende trourokke tot volgende week!