Die fotograaf Andrew Howes neem die perfekte foto van ons model-bruid Cecile in haar Diaan Daniels-trourok.

Andrew se wenke

• Jy moet eers kyk na die styl waarvan jy hou. Kyk op die internet om te sien waarvan jy hou en nie hou nie. Dis die eerste stap na jou perfekte fotograaf. 

• ’n Goeie gedeelte van jou begroting moet eenkant gesit word vir ’n fotograaf naas jou trourok en venue. Dit kan ’n groot teleurstelling wees as jou foto’s van swak gehalte is. Hierdiedag kan nie herhaal word nie. 

• Doen jou huiswerk en maak seker jy lees resensies oor die fotograaf waarin jy belangstel. Kyk na die foto’s van ander troues op hul webtuiste, maar gaan kyk ook na die foto’s by jul afspraak. Fotograwe sit net die beste werk op hul webtuistes. Vra vrae soos hoe lank hulle al in die bedryf is, watter kwalifikasies hulle het, ens.  

• Maak ’n afspraak met die fotograaf van jou keuse sodat jy gemaklik met jou keuse kan voel. As jy van hul foto’s hou, beteken dit nie altyd jy gaan van die fotograaf as persoon hou nie. Dit is ’n persoonlike keuse wat jy maak, want hierdie persoon moet jou op jou gemaklikste laat voel. 

• Gee jou tydskedule vroegtydig vir jou fotograaf sodat hy/sy genoeg tyd het om julle af te neem. Wees duidelik oor watter foto’s vir jou belangrik is sodat die fotograaf daarop kan fokus. Vra ook vir die fotograaf advies.

• Kyk mooi na die foto’s wat hy/sy jou wys en wys uit van watter tipe foto’s jy hou.

• Vergelyk die verskillende pakkette van die fotograaf. Weet hoeveel ure en wat presies in die pakket ingesluit is. Dit help om sekere kostes uit te skakel.

• Jy het ook regte oor die foto’s en nie net die fotograaf nie. Gaan deur jou kontrak en maak seker jy stem met alles saam. 

• Hoekom wag jy so lank om jou troufoto’s te kry? Fotograwe neem in grootmaat foto’s af sodat die kwaliteit van die foto’s die beste is. ’n Normale troue kan tot 40 uur se werk hê wat dan sowat 3 maande kan neem om te redigeer en te versorg, ens.

Ek het al die mooiste trourokke ontwerp vir bruide en dan kom die teleurstelling na die tyd as die foto’s nie jou droomrok vasvang nie. Doen die regte ding en spandeer die ekstra geld om ’n professionele fotograaf te huur. Jy kan nie ’n waarde heg aan dié herinneringe nie.

Van asemrowende rokke tot trou-foto’s, tot volgende week!

  • Skakel elke Woensdag om 17:30 in vir nuwe episodes van My droom-trourok op VIA (DStv-kanaal 147) en Sondae om 15:30 vir die heruitsendings.