Die bruid, Megan, wys haar Imaani-skoene, wat haar Diaan Daniels-trourok afrond. Fotograaf: NikkiM

Chrystal se wenke: 

• Trouskoene moenie net mooi wees nie; dit moet van ’n goeie gehalte wees, inpas by die huidige modegiere en natuurlik baie gemaklik sit. Kry jou trourok by die beste ontwerper en jou trouskoene by ’n skoenspesialis. 

• Hoekom is die gehalte van jou trouskoene belangrik? Dit het ’n invloed op hoe dit lyk en hoe gemaklik dit is. Jy gaan die skoene heeldag en -aand aanhê, en min dinge lyk so sleg soos ’n bruid wat kaalvoet ronddans (behalwe as jy op die strand trou of jou troue ’n strandtema het). 

• Die kleur van jou skoene moet by jou rok en persoonlikheid pas. Jou trourokontwerper sal jou goeie raad kan gee. Die huidige neiging vir trouskoene is roosgoud. Dié kleur pas by alle velkleure en kan natuurlik vir ’n latere geleentheid ook werk. Roomkleurige skakerings, beter bekend as beige of bleek (nude), is ook baie gewild. Dan is daar vanselfsprekend ook die klassieke silwer.

• ’n Skoen met ’n hak van sowat 8 cm is die gemaklikste hoogte vir die meeste vroue en help om jou trourok goed te vertoon. As jy nooit hakskoene dra nie, is die 8 cm-hak ’n baie goeie opsie. Vir die bruid wat nog hoogte benodig, is Imaani se gemaklike 10 cm-hakke ideaal. 

• Kyk uit vir skoene met enkelbandjies oor die voet. Dit sal keer dat die skoene van jou hak afglip. Wanneer jy bandjies vasmaak, glip die gespe tot agter aan die buitekant van jou been sodat dit uit die pad is. 

• As jy wil dans, moet jy buitesole en hakpuntskoene kies van materiaal wat nie maklik gly nie. Kry vir die buitelugfotosessie silikoonhakstoppers wat jou hakke pas. Imaan verskaf dit op hul webtuiste en gee ook raad oor die verskillende groottes vir die verskillende hakstyle.

• Vermy skoene waar jou voet oor die sool hang. Maak seker die skoen is breed genoeg vir die breedste deel van jou voet wanneer jy dit aanpas. 

As jou trouskoene asemrowend is en die hele voorkoms afrond, maak seker jy vra jou fotograaf om mooi kiekies te neem van jou in jou trouskoene. Vir oulike idees, kyk gerus op Pinterest en Instagram. Wees op jou troudag jou eie Cinderella in haar glasskoen. 

Van asemrowende trouskoene tot volgende week! 

  • Skakel elke Woensdag om 17:30 in vir nuwe episodes van My droom-trourok op VIA (DStv-kanaal 147) en Sondae om 15:30 vir die heruitsendings.