Cecile Brits in ’n rok uit Diaan Daniels se nuutste trourokversameling, wat klasiek, dog modern is. Fotograaf: Andrew Howes One2One Group

Moenie jou trourok-afspraak te laat in die dag maak nie! 

• As dit jou eerste ervaring is om rokke by ’n ontwerper of bruidshuis aan te pas, vra eerder vir ’n afspraak in die oggend as in die middag. Doodeenvoudig omdat jou ontwerper of bruidskonsultant dan vars en vol energie sal wees om jou beter te kan help.

Fokus op jou silhoeët! 

• Fynere details op jou trourok is belangrik, maar voor jy te vasgevang word in alles wat jy op jou droomrok wil hê, moet jy eers seker maak jy kry die regte silhoeët wat jou lyf goed sal pas. Vergeet van die modegiere en spits jou eerder toe op wat by jou persoonlikheid en styl pas.

Moenie jou bostuk afskeep nie

• ’n Mooi, lang sleep aan ’n trourok met kantwerk bly maar mooi, maar dink ook aan wat die mense die meeste gaan onthou. Die bostuk van jou trourok is belangrik, want dit bly ’n fokuspunt. Dit lyk veral mooi wanneer jou gaste foto’s met jou neem van die middel af op. 

Moenie net ’n trourok kies om te kies nie

• Moenie net ’n trourok kies omdat die styl op die oomblik in die mode is nie. Trourokke moet tydloos wees. As jy na jou ouers se troufoto’s kyk, sal jy sien iets wat elegant en tydloos is, is altyd die beste keuse. As jy sexy maar tog elegant voel met ’n bietjie vermenging van tradisioneel en modern, weet jy jy het jou droomtrourok gevind!

Jy moet jou kamera bring

• Neem jou kamera saam as jy rokke by ’n bruidswinkel gaan aanpas. Dit werk selfs beter om jouself op jou selfoon af te neem. Jy sal duidelik sien die spieël jok nie, en jou trourok moet uit elke hoek mooi lyk. Dit is baie belangrik dat jou rok by jou lyf pas. Op ’n foto sal jy ook min of meer kan sien of jou rok se fynwerk mooi op kamera vertoon.

Jy móét ’n trourok aanpas

• Party trourokke lyk glad nie mooi op ’n hanger nie. Dit is belangrik dat jy en jou gevolg nie te vinnig ’n trourok afkeur voor jy dit aangepas het nie. Dit sal anders vertoon aan jou lyf as op ’n hanger en jy sal verbaas wees dat dit dalk net jou droomtrourok is. Luister na die raad van jou ontwerper of bruidskonsultant wat jou help en trek meer as een rok in meer as een styl aan.

Ek en ander ontwerpers/bruidshuise wil jou glad nie deurmekaar maak met al die keuses en opsies wat beskikbaar is as jy jou droomrok soek nie. Ek beveel sterk aan dat jy nie te min, maar ook nie te veel rokke aanpas nie. As jy al 20 rokke aangepas het, is die kanse goed dat jou eerste keuse die regte keuse sal wees. 

Tot volgende week!