Diaan is besig om op die laaste nippertjie die bruid, Ismini, se hare te doen. Foto: Ryan Graham
  • Jy beplan om net een keer te trou. Neem dus ’n oomblik so tussen die reëlings deur en herinner jou aan waaroor dit eintlik gaan. Dit is om jou liefde aan jou verloofde te verklaar.
  • ’n Troukoördineerder klink dalk na ’n mors van geld, maar as jy ’n besige program het en gou stres is hierdie mens jou lewensredder. Hulle maak seker jy bly binne jou begroting, kry die beste diensverskaffers en maak seker probleme word met gemak hanteer. Hulle beantwoord ook vrae van jou gaste op die dag sodat jy dit net kan geniet.
  • Jy en jou bruidegom moet genoeg slaap die aand voor die tyd. ’n Bruidegom moenie die aand voor die tyd tot laataand kuier nie. Die volgende dag gaan jy broos wees en moet jy die vrou van jou drome in die oë kyk sonder rooi oë en ’n babbelas.
  • Indien jy ’n rok dra wat jou skouers wys, moet jy onthou om nie ’n bra die aand voor die tyd en die oggend van jou troue te dra nie. Dit los partykeer merke op jou vel en lyk nie goed op foto’s nie.
  • Maak seker jy het jou nuwe trouskoene uitgeloop, want die aand raak lank en kaal voete is nie ’n opsie as jou rok te lank is by die onthaal nie.
  • Gee jou en jou gevolg genoeg tyd om klaar te maak. Maak seker jy eet ontbyt – jy wil nie voor die kansel flou val nie. Maak seker jy en jou strooimeisies gee jou haarkapper en grimeerkunstenaar genoeg tyd, veral as iets dalk verander moet word.
  • As jy nie op die dag ’n troukoördineerder het nie, moet jy steeds ’n vriendelike houding hê. As die blomme of jou hare nie uitkom soos jy gehoop het nie, is dit beter om kalm te bly en jou diensverskaffers vriendelik te hanteer pleks van skree. Onthou, met ’n positiewe gesindheid sal jy meer kan vermag.
  • ’n Noodsakkie is altyd nuttig op die dag. Daarin hou jy ’n naald en gare, ’n klein skêrtjie, parfuum, sneesdoekies, pynpille en lipstiffie.
  • Hou matigheid voor oë, soos hulle sê. Geniet jou aand, maar maak seker jy het geëet en drink baie water. Doen wat ek doen, hou by een soort drankie – tequila, water, tequila, water. Ek spot sommer! Julle weet wat ek bedoel.
Die beste raad wat ek kan gee is dat jy elke oomblik geniet, want dis in ’n oogwink verby. Klim op daardie dansvloer en skoffel jou toekoms in sodat jy mooi herinnerings sal hê.

Van asemrowende trourokke, tot volgende week.

– Diaan Daniels