Ons ken haar as ’n sangeres en sy is gereeld in ons tydskrifte. .

Op Skoonma-se-tong spook een man se vrou én sy ma dit uit om sy gunstelinggereg te berei. Hy moet dan albei geblinddoek proe en die beste een kies.

[post-slider]

Wie het jou geleer kos maak en wat is die eerste gereg wat jy bemeester het?

My ouers het my leer kos maak. My pa en ma is baie goeie kokke. My ma maak wonderlike Italiaanse kos en my pa maak goeie pasta, en hy speel met speserye.

Ons het nooit kleintyd gekyk hoe ons ouers kos maak nie, want ons was altyd besig met atletiek en dans, en toe ek op my eie is, kon ek nie eens rys maak nie. Ek moes my ma bel! Maar so het ek geleer om lekker spaghetti bolognaise te maak.

Wat is jou spesialisgereg?

Ek maak ’n lekker bredie (veral in die winter), potjiekos en souse – veral slaaisouse! Daar is ’n spesiale, geheime bestanddeel in my slaaisouse.

Wat is jou kosmaak-mantra?

Gewoonlik, wanneer ek ’n stresvolle dag gehad het, kook ek met ’n glasie wyn. En ek hou nie van te lank vat in die kombuis nie. Ek sê altyd dit vat drie uur om te kook en net 20 minute om dit te eet. En ek hou dit eenvoudig en gesond: ek stoom groente en ek gebruik net klapperolie.

Watter drie bestanddele is altyd in jou kombuiskas?

Daar is eintlik vier: knoffel, suurlemoen, ’n bietjie basilie en ook klapperolie.

Van watter resepteboek in jou kombuis hou jy die meeste?

Ek is mal oor Jamie Oliver se boeke, want hy het sulke vinnige tjoef-tjaf-resepte.

Wat het jou laat besluit om by Skoonma-se-tong aan te sluit?

Ek hou baie van die konsep. Dis spontaan, dis ’n werklikheidsprogram en dit gaan oor kos. Ek is mos mal oor kos! Ek hou ook van die drama rondom twee vroue in een kombuis –my ouma het altyd gesê dit werk nooit nie. Op hierdie program kombineer ons pret met kos op ’n onpretensieuse manier.

Hoekom moet kykers op Skoonma-se-tong inskakel?

Ek dink net aan toe ek en Joost getroud was; dan dink jy jy moet kan kers vashou by jou skoonma se kos. Hulle kook op die oudtydse manier en jy dink jy moet dit op dieselfde manier doen, maar dit gaan nie daaroor nie. Dit gaan alles oor selfvertroue.

Enige snaakse agter-die-skerms-stories wat jy met ons kan deel?

Een vrou het haar skoonma “tannie” genoem. Ek vra haar hoekom dan so en toe sê sy: “Ek noem haar tannie en sy weet hoekom: my ma het my grootgemaak en ’n ma werk vir daai titel – om ma genoem te word.”

Watter ander planne is vir jou in die pyplyn?

My nuwe album, Die Tyd, is pas uitgereik. Ek vier my 15de jaar in die bedryf en dis my agtste album. Dis heerlike Afrikaanse musiek: dis ouer, meer eg en ek het die liedjies self geskryf. Elke liedjie is ’n weerspieëling van die reis waarop ek was.

Wat is die grootste flater wat jy al die kombuis gemaak het?

Ek het een keer ’n hoender in die oond gesit en ek het skoon vergeet van die ding, want ek was besig met die kinders. En toe ek terugkom, was dit pikswart. Ek het dit drie uur lank in die oond gelos!

’n Nuwe aflewering van Skoonma-se-tong word elke Donderdag om 17:30  op VIA uitgesaai.