Hier is al vanaand se resepte:

Anthony en Ronel

Ronel en Anthony

Varkfilet-burgers

Bestanddele

3 varkfilette (400 g)

vleissagmaakmiddel

steakmarinade

knoffel-en-kruie speserye

6 broodrolletjies

botter

Metode

Verdeel die drie filette in ses en maak sag.

Marineer in ’n steakmarinade van jou keuse en geur met die speserye.

Laat rus tot die braai reg is.

Braai 3-5 min. aan elke kant oor lae hitte sodat die vleis gaar word maar nie uitdroog of brand nie.

Plaas in ’n broodrolletjie wat met botter gesmeer is.

Gekaramelliseerde uie

Bestanddele

1 kg uie, in repies gesny

2 koppies bruinsuiker

1 koppie balsemieke asyn

Metode

Braai die uie in ’n pan tot sag.

Voeg bruinsuiker en balsemieke asyn by en kook tot dit lekker taai is.

Aspersies in spek

Bestanddele

24 aspersies

12 spekrepe van goeie gehalte

Metode

Draai twee aspersies saam toe in een reep spek.

Draai dit lekker styf sodat dit nie lostrek nie.

Braai ’n paar minute tot die spek krakerig is.

Die aspersies moet steeds ferm wees.

Braaisampioene

Bestanddele

125 g botter

2 eetlepels fyn knoffel

6 groot braaisampioene

sout en vars gemaalde peper na smaak

Metode

Meng die botter en knoffel.

Vul die sampioene en plaas eenkant tot braaityd.

Geur met die sout en vars gemaalde peper.

Braai tot die botter smelt en die sampioene sag is.

Ronel en Anthony

Mieliebrood

Bestanddele

2 eetlepels suiker

2 eetlepels botter

2 eiers

½ koppie meel

1 eetlepels bakpoeier

1 koppie melk

1 blikkie suikermielies

1 eetlepel vanielje-geursel

Metode

Meng die suiker, botter en eiers goed.

Voeg die meel en bakpoeier by en meng goed.

Voeg die melk, suikermielies en vanielje-geursel by.

Skep in ’n uitgevoerde broodpan.

Bak 30 min. teen 180 C.

Sjokolade-ment-braaikoekies

Bestanddele

1 pakkie sjokolade-ment-koekmengsel (Snowflake)

250 ml water

125 ml olie

2 eiers

roomys en sjokoladesous vir voorsit

Metode

Meng al die bestanddele in ’n bak.

Braai soos ’n plaatkoekie op ’n warm plaat oor die kole.

Sit voor saam met roomys en sjokoladesous.

Bennie en Ina

Bennie en Ina

Braaivleis

Bestanddele

skaaptjops

varkrepies

wors

speserye van jou keuse

Metode

Geur die skaaptjops en varkrepies met die speserye van jou keuse.

Pak die rooster en braai die vleis oor matige tot warm kole.

Maak seker die wors is nie te droog nie.

Braai die tjops en varkrepies na jou verlangde gaarheid.

Mengelslaai

Bestanddele

gemengde blaarslaai

avokadopeer

kersietamaties

wortels, gerasper

nartjies

babamielies

pekanneute

komkommer

pecorinoskaafsels

Metode

Sny en voeg al die bestanddele in ’n slaaibak bymekaar.

Sit voor saam met tuisgemaakte balsemieke slaaisous.

Tuisgemaakte balsemieke slaaisous

Bestanddele

250 ml Modena-balsemieke-asyn

650 ml bruinsuiker

20 ml Aromat

15 ml vars gemaalde growwe swartpeper

60 ml water

Metode

Plaas al die bestanddele in ’n dikboomkastrol op hoë hitte.

Roer aanhoudend om te verhoed dat dit aanbrand.

Sodra die mengsel begin kook, draai die hitte af na baie laag sodat die suiker kan smelt.

Kook ongeveer 10 min.

Giet in ’n gesteriliseerde glasbottel terwyl dit nog warm is.

Bêre wat oorbly in die yskas om enige tyd oor ’n slaai te geniet.

Bennie en Ina

Braaibroodjies

Bestanddele

witbrood

botter

blatjang

mayonnaise

tamaties

goudakaas of cheddarkaas

fetakaas

uie

Metode

Smeer die broodjies aan die buitekant met botter.

Smeer blatjang aan die een binnekant en mayonnaise aan die ander.

Pak gesnyde tamatie, gerasperde kaas van jou keuse en uieringe bo-op.

Braai oor matige kole tot die kaas gesmelt en die broodjie krakerig en goudbruin is.

Gebakte sjokoladepoeding

Bestanddele

250 ml bruismeel

30 ml kakaopoeier

80 g gesmelte botter

1 groot eier

125 ml melk

125 ml suiker

250 ml sjokoladestukkies

geklopte room of roomys vir bediening

Vir die sous

200 ml bruinsuiker

30 ml kakaopoeier

Metode

Voorverhit die oond tot 160 °C.

Sif die bruismeel en kakaopoeier saam.

Klits die botter, eier, melk en suiker saam tot goed gemeng.

Voeg die droë bestanddele by en meng deeglik.

Roer die sjokoladestukkies by die mengsel.

Skep in ’n oondvaste skottel of individuele bakkies wat met kossproei bespuit is.

Meng die twee bestanddele vir die sous.

Sprinkel oor die poeding en giet stadig 325 ml kookwater oor.

Bak 35-40 min.

Sit warm voor saam met geklopte room of roomys.

Chimone en Danie

Danie en Chimone

Skaaprib

Bestanddele

2 kg skaaprib

braaisout

Metode

Maak seker die vuur is lekker warm.

Plaas die rib in ’n rooster en geur goed met die braaisout aan albei kante.

Plaas regop aan die kant van die braai.

Draai elke 15 min. om tot gaar.

Skaaptjops

Bestanddele

12 lamstjops

braaisout

Metode

Plaas die lamstjops in ’n toeklaprooster en geur met die braaisout.

Plaas op die kole en draai gereeld om tot mooi bruin en gaar.

Aartappelslaai

Bestanddele

10 groot aartappels

2 groot eiers

2 bottels mayonnaise (Crosse & Blackwell Tangy werk goed)

1 blikkie kondensmelk

mosterd na smaak

sout en vars gemaalde peper

pietersielie vir garnering

Metode

Kook die aartappels tot sag maar steeds ferm.

Kook die eiers hard.

Meng 2 bottels mayonnaise met 1 blikkie kondensmelk.

Voeg die mosterd by na smaak.

Skil en sny die aartappels terwyl dit nog warm is, maar pasop vir brand.

Dop die eiers af, sny dit fyn en voeg by die aartappels.

Giet die sous soos verlang oor en meng versigtig deur. Dit is nie nodig om alles te gebruik nie.

Geur met die sout en vars gemaalde peper.

Laat eers buite die yskas afkoel voor jy dit in yskas plaas.

Giet nog ’n bietjie sous oor net voor voorsit en garneer met die pietersielie.

Danie en Chimone

Botterskorsie-beet-slaai

Bestanddele

2 middelslag-botterskorsies, geskil en pitte uitgehaal

8 middelslag-bete, geskil

fetakaas

pampoensade

balsemieke asyn-reduksie

Metode

Sny die botterskorsies en bete in blokkies, ewe groot indien moontlik.

Plaas dit op ’n bakplaat in die oond teen 180 °C vir 35 min.

Sodra dit gaar maar ferm is, haal uit die oond en laat afkoel.

Strooi die fetakaas en pampoensade oor soos verlang.

Drup die balsemieke asyn oor.

Rum-rosyntjie-kaaskoek

Bestanddele

1 koppie rosyntjies

1 koppie rum

1 pakkie Tennis-beskuitjies

3 eetlepels sagte botter

1kg gewone jogurt

1 blikkie kondensmelk

Metode

Week die rosyntjies 30 min. in die rum.

Krummel die beskuitjies en meng met die botter.

Druk in die onderkant van ’n ringbak.

Meng die jogurt en kondensmelk goed.

Meng die rosyntjies by die jogurtmengsel.

Plaas 4 min. op hoog in ’n mikrogolfoond.

Haal uit en giet in die ringbak.

Laat in die vrieskas afkoel tot yskoud en gestol.