Adv. Pieter Botha (vir Henri) het die verhoor begin deur ao. André Hitchcock onder kruisverhoor te neem. Hitchcock was die forensiese toneelontleder die oggend van die moorde. Hy het die toneel afgeneem en bewysstukke ingesamel.

Hitchcock het Donderdag 1 Junie ook getuig van bloed wat in die stort gevind is.

Onder kruisverhoor het Hitchcock getuig dat hy aanraak-DNS as bewysstuk ingesamel het van die oop kasdeure om vas te stel of ’n vreemdeling dit oopgemaak het. Die resultate is nog nie bekend nie.

Botha het hom uitgevra oor die bloed wat in die stort gevind is. Ene kapt. Joubert se hand verskyn op die foto wat deur Hitchcock geneem is. Hy getuig dit was om aan te dui waar die bloed op die handvatsel van die stort was.

Botha het dit aan hom gestel dat die vermeende bloedmonster in die stort nie positief vir bloed getoets is nie. Hitchcock het gesê dit het soos bloed gelyk.

Hy kon nie verduidelik hoekom bewysstukke 113 en 117 se nommers verskil nie. Hy het ook die adres verkeerdelik as Göskestraat 13 pleks van 12 aangedui.

Volgende aan die beurt was 39 foto’s van skoenafdrukke wat Hitchcock geneem het. Dit was afkomstig van afdrukke in die huis. Hy het bevestig Johan Hanekom het hom gehelp om dit as skoenafdrukke te identifiseer.

Botha het na die foto’s van die byl verwys wat op die trap gevind is en Hitchcock uitgevra oor watter deel daarvan hy vir bloed getoets het. Hitchcock het gesê hulle het die skerp kant van die byl getoets. Op bewysstuk 44 het hy geskryf dit was aanraak-DNS. Botha het dit aan hom gestel dat dit dus nie bloed was nie. Hitchcock het gesê dit wil so voorkom.

Hy het die byl na Worcester gestuur waar dit vir vingerafdrukke getoets sou word.

Botha het dit aan hom gestel dat hulle foto’s van die byl gesien het met baie bloed op die lemgedeelte. Hitchcock het gesê hy het ’n bloedmonster van die stomp kant van die byl geneem, maar is onseker of hy daaraan geraak het en of hy ’n oorstokkie gebruik het om dit in te samel.

Die saak duur voort.