Op die oggend van 10 Augustus 2012 het David Dennison, ’n bedryfsbestuurder by Nood Mediese Dienste Limpopo, toevallig ’n ander roete werk toe gevolg. Op pad werk toe het ’n toutrokbestuurder hom voorgekeer en vertel van ’n ongeluk tussen ’n motor en ’n trein. David het toe na die toneel gegaan en Eugene Schreiber vir gevorderde lewensondersteuning gebel. ’n Uitdagende situasie het op hulle gewag.

David het sowat vyf minute ná die ongeluk op die toneel verskyn. Lede van die privaat ambulansdiens, Masilo Meela, Michiel van Heerden en Davy Matlejoane, was ook op die toneel. Die bestuurder van die motor was beseer maar stabiel en die vroulike passasier op die agtersitplek het geen tekens van lewe getoon nie.

David het vinnig aandag gegee aan die vroulike pasiënt, wat steeds agterin die motor was. Sy was in ’n ongemaklike posisie, wat die assessering bemoeilik het. Dit was duidelik die pasiënt se ernstige kopbeserings het haar lewe geëis. David het met die bestuurder van die motor bevestig dat die vrou agt maande swanger was.

Sonder enige tekens van asemhaling of hartklop het David haar maag ondersoek op soek na tekens van lewe. Hy het nie ’n hartklop gehoor nie, maar toe voel hy ’n skop.

Die span het onmiddellik ’n noodbevryding uit die motor begin. Die pasiënt is op ’n draagbaar geplaas en kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is toegepas om bloedsomloop aan die fetus te verskaf. Die vrou is geïntubeer en KPR is tydens haar vervoer voortgesit. David het die toneel verlaat en is na die provinsiale hospitaal in Polokwane om te verseker ’n pediater en ginekoloog is gereed om ’n noodkeisersnee uit te voer.

Die verkeersafdeling het die ambulans met ligte en sirenes na die hospitaal vergesel.

Terwyl die paramedici onderweg na die hospitaal KPR toegepas het, het dr. Masudu – wat nie daardie dag by die hospitaal moes wees nie – hom voorberei om die noodkeisersnee (keisersnit?) uit te voer. Omdat die pasiënt reeds dood was, het die dokter besluit om die operasie op ’n draagbaar in die ongevalle-saal uit te voer. Die baba is binne ’n rekordtyd gebore.

Die baba is op die ma se bors geplaas, maar het nie ’n polsslag gehad of asemgehaal nie. David en Eugene het na mekaar gekyk en onmiddellik basiese KPR begin toepas. Binne drie tot vyf minute het die baba ’n sterk polsslag gehad, maar steeds nie self asemgehaal nie. Eugene het die baba geïntubeer om met ventilasie te help, ’n binneaarse buis in die naelstringaar geplaas en die pasgebore baba warm gehou.

Die pediater het by ongevalle aangekom om hulp te verleen en die baba is in -haar sorg gelaat. Die baba het sowat ’n halfuur later self begin asemhaal en effe begin beweeg. ’n Helikopter van mediese nooddienste is ontbied om die baba na die Mangkweng neonatale waakeenheid te neem. Die volgende oggend was die baba geëkstubeer en in ’n stabiele toestand.

Ten spyte van die feit dat hulle al 20 jaar sulke werk doen, was dit die eerste keer dat enige van die noodpersoneel so iets teëkom – insluitend die twee paramedici wat die baba gered het en ’n kans op lewe gegee het.

Kyk die video hier:

Bewakers: David Dennison (bedryfsbestuurder,  KSA (Kritieke Sorg Assistent), Eugene Schreiber (KSA ), Limpopo mediese nooddienste; Masilo Meela ( NST Noodsorg Tegnikus), Michiel van Heerden en Davey Matlejoane ( BAA Basiese Ambulansassistent), Protoscape privaat ambulansdiens.

In memoriam  – Davey Matlejoane is die oggend van 16 Maart 2014 in ’n motorongeluk oorlede.