Die enigste ding mooier as om te sien hoe ’n vaal, lewelose skoolgebou nuwe energie kry (danksy ’n splinternuwe voorkoms), is om te sien hoe kinders se gesigte verhelder wanneer hulle dié indrukwekkende prentjie voor hulle sien vorm kry.

En dis presies wat Afrikaans.com vermag met hul muurkunsprojek, waarmee hulle hoër- en laerskole in die Wes-Kaap met kleurvolle verf, sketse en leerders se unieke sê-goed opdollie sodat die skoolgebou net so vol lewe kan wees soos die kinders wat daar opgevoed word.

Kinders word geïnspireer deur die gebou se opwindende nuwe voorkoms en die unieke Afrikaanse sê-goed wat die mure versier. Dit poog om kinders aan te moedig om in hul moedertaal te dink en droom.

Die vlerke wat deel vorm van die kunswerk, is 'n simbool vir die doel om leerders toe te laat om hul drome na te jaag en vlerke te gee – in Afrikaans. Leerders word uitgenooi om op só 'n manier voor die muur te staan dat dit lyk of húlle self vlerke het en dan ‘n selfie te neem en op sosiale media te deel met die hutsmerk #droomgroot17.

Die boodskap agter die geverfde muur by hoërskole is dat enigiemand bo omstandighede kan uitstyg en deur harde werk hul drome kan ewenaar. Vir laerskoolkinders herinner die muurkunsprojek dat hul taal, Afrikaans, 'n taal vol sprokies is. 


LAERSKOOL: "My Afrikaans is vol sprokies"

Die Augsburg Landbougimnasium by Clanwilliam se Afrikaans.com-laerskoolmuur is op 29 Maart bekendgestel met ’n spesiale vertoning deur die plaaslike groep rieldansers - die Nuwe Graskoue Trappers, wat al drie jaar die onoorwonne wenners van die ATKV-Junior Rieldanskompetisie is. 

Die mees onlangse Afrikaans.com-mure wat in die Wes-Kaap onthul is, het plaasgevind op 2 Junie by beide Laerskool Parkfields en Irista Primêre Skool. Die gaskunstenaar by hierdie skole se inhuldigingsgeleenthede was die welbekende kletsrymer, Hemelbesem. 

HOËRSKOOL: "My drome kry vlerke - in Afrikaans!"

By Hoërskool Graafwater is leerders aangemoedig om hul talente in Afrikaans voor die muur ten toon te stel. Die muur is op 31 Maart bekendgestel saam met die tema dat elke suksesstorie met ’n droom begin.

Afrikaans.com se opwindende nuwe wedstryd vir hoërskoolleerders, #droomgroot17, is ook hier bekendgestel. Leerders kan ’n prys wen wat in hul droom belê sal word deur hul gawes in 'n video ten toon te stel.

Afrikaanse sê-goed soos flaterwater, laaitie, ja’nee, heita en daaikanniewiesie versier die muur en moedig leerders aan om Afrikaans in alle vorme te vier en verken.

Besoek Afrikaans.com se webtuiste vir meer inligting en droom saam in jou Afrikaans.


Elmarie Wright van Afrikaans.com, Robin Brandt, Nicole Joubert, Leonelle Adamz en René Arendse