Die Kokkedoortjie-beoordelaars, Mari-Louise Guy en Nic van Wyk, sê ouers kan gerus ’n tree terugstaan.

Mari-Louise waarsku teen inmenging. Sy sê ouers moet ook nie hul kinders te veel voorsê nie.

“Hou eers ’n beraad: Maak ’n lys van wie wat doen. Probeer om nie hul pret te bederf nie,” stel sy voor.

Ouers is dikwels te bang om hul kinders met skerp voorwerpe, soos messe, te laat werk, sê Nic.

“Ideaal moet ’n ouer ’n kind leer hoe om met ’n mes te werk, want wie anders gaan hulle touwys maak?”

Nic stel ook voor kinders word gedwing om nuwe dinge op die proef te stel.

“Jy moet jou kind verplig om sekere goed te probeer eet. Ek sê altyd vir my dogtertjie sy moet iets minstens een keer eet. As sy dan nie daarvan hou nie, is dit oukei.”

Kokkedoortjie word elke Woensdagaand om 20:00 op kykNET uitgesaai.