Die eerste drie seisoene van Vallei Van Sluiers (2010-2014) is nou beskikbaar op Showmax en maak van die kyker ’n vlieg teen die muur vir intriges en skandale wat afspeel in die geborge gemeenskap van vrugteboere in die Boland.   

VRUGTEGELD

In Vallei Van Sluiers is daar drie families wat met vrugte boer en wedywer om alleenreg op hul produkte te hou: die De Bruyns, die Robertses en die Van Rhijns. “Vallei van Sluiers is soos Dallas in die Boland,” sê die uitvoerende vervaardiger, Johan van Jaarsveld. “Dis ’n storie oor mense en hul interaksie, asook die onmin, twiste en skandale in hul lewe.”

Hier is nog vyf redes waarom jy dié reeks nie kan misloop nie: 

  • Uitmuntende akteurs: Die reeks spog met ’n rits bekende Afrikaanse akteurs, soos Albert Maritz, At Botha, Brendon Daniels, Erica Wessels, Lida Botha, Nico Panagio, Stian Bam en Tinarie van Wyk-Loots. Die karakters is uniek, elk voer ’n innerlike stryd en daar is groot skokke en kinkels.
  • Asemrowende landskaptonele: Die reeks is op vrugteplase in die Ceres-distrik in die Wes-Kaap verfilm. Die tonele in die boorde en die landskapskote is prentjiemooi – maar dit beteken nie dit het produksie makliker gemaak nie. Omliggende geraas het die verfliming telkemale onderbreek. “Ons is vooraf gewaarsku oor die geraas van vliegtuie en helikopters wat die boorde besproei. Soms was dit ontwrigtend, maar ons het ’n plan gemaak en rondom die geraas gewerk,” sê Johan.
  • Stomgeslaan: Kykers sal geraak word deur die hartroerende storie van Beulah Robertse (Tinarie) – sy sê nie ’n woord in die eerste seisoen nie omdat sy jare gelede haar twee boeties, Ryan en Richard, sien verdrink het. Aan die einde van die tweede seisoen begin sy bietjie praat. “Haar ontwikkeling in die reeks is besonders. Van hoe sy vrede maak met die dood, tot hoe haar vriendskap met Bertito Lopez van Rhijn (Charl Timotheus) ontwikkel in iets meer,” sê Tinarie.
  • Tragedies waarmee jy kan identifiseer: Die storielyne is eg en vervleg met hartseer waarmee kykers hulle kan vereenselwig, soos Con de Bruyn (At Botha) se vrou Frederika wat op ’n vroeë ouderdom aan kanker dood is. Markus (Marco van der Colff) en Emma (Michelle Burgers) van Rhijn het net een kind, Monique (Jana Fischer). Emma se tweede swangerskap is ná vier maande deur komplikasies beëindig en sy kon nie meer kinders hê nie. 
  • Ligte oomblikke: Byvoorbeeld in die eerste episode van die derde seisoen, wanneer die pas geskeide verleidster Chloe (Yvonne van den Bergh) terug is in die Vallei en vir Hugo (Stian Bam) vra om sy klere uit te trek terwyl sy gou-gou ’n draai gaan loop. Jy mag dalk dink jy is in vir ’n sexy blik op sy agterstewe, maar oeps! Chloe se sekretaresse stap dan onverwags by die kantoor in . . .

Seisoene 1 tot 3 is nou beskikbaar op Showmax internet-TV. Kliek op showmax.com en kyk dit nou.