Gehalte-onderwys is belangrik vir ’n land se volgehoue sukses. Talle uitdagings staar ons onderwysstelsel in die gesig, maar gelukkig het ons ook baie toegewyde individue en skole wat ondanks ’n tekort aan hulpmiddele hul bes doen.

Met hul Mobiele Onderwys-program help Vodacom, in samewerking met die Departement van Basiese Onderwys, ’n verskil maak deur verdienstelike onderwysers van uitstekende hulpbronne te voorsien. Daardeur help hulle sorg dat ons die volgende geslag topwetenskaplikes en -wiskundiges kan oplewer om die land na groter hoogtes te voer.

Sedert verlede jaar bou Vodacom inligtings-en rekenaartegnologiesentrums (IRT) in elke provinsie. Daar kan onderwysers van skole in die gebied aanklop vir opleiding in rekenaar- en internetgeletterdheid danksy vennootskappe met die internetleerspesialiste Microsoft, Cisco en Mindset. In elke provinsie het die Departement van Onderwys 20 skole uitgewys wat aan Vodacom se wiskunde-en-wetenskapprogram deelneem. Vodacom voorsien elke skool van ’n skoot- rekenaar,’n drukker, ’n simkaart vir onbeperkte, gratis internettoegang, ’n multimediaprojektor en ’n interaktiewe witbord.

Bongumusa Ngcobo (36), ’n onderwyser aan die Hoërskool Hlahlindlela in Hillcrest, KwaZulu-Natal, het al by die program baat gevind. Hy is die afgelope vier jaar ’n fisikaonderwyser vir gr. 10- en 11-leerders en help ook gr. 9’s met onderrig in natuurwetenskap om hulle vir fisika voor te berei. Hy geniet dit terdeë om sy vak te onderrig en jong mense se lewe met kennis te verryk, maar het gevind die gewone krytbord is nie genoeg om die wonders van die natuur vir sy leerders te ontsluit nie. “Dit was baie moeilik. Ek het hulle jare lank probeer help om die begrippe te visualiseer, maar hulle het gesukkel,” vertel hy.

Hy het prente in handboeke gebruik om begrippe te probeer illustreer en staatgemaak op laboratoriumeksperimente om die feite tuis te bring. Maar om iets behoorlik te verstaan moet die presiese prentjie regstreeks gewys word om seker te maak belangrike punte word nie verkeerd vertolk nie. Toe kry hy hulp danksy die nabygeleë Vodacom-IRT-sentrum in Pinetown. Bongumusa se skool is vir die wiskunde-en-natuurwetenskapprogram benoem en vier wiskunde-en wetenskaponderwysers, onder wie Bongumusa, het sowat ’n maand lank saam met onderwysers van regoor die provinsie kursusse bygewoon. Daar het hulle geleer hoe om met dié toerusting ’n omwenteling in hul klaskamers teweeg te bring. Bongumusa sê die opleiding was baie nuttig en lekker. Hy is eintlik al gewoond daaraan om as’t ware self op die skoolbanke te sit met dié dat hy in 2005 vir sy B.Ed.-graad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal ingeskryf het.

Die opleiding en nuwe hulpbronne het ’n groot verskil aan sy lesse gemaak, sê hy. Onderwysers het nou toegang tot ’n skatkis inligting op die internet, soos lesplanne, vorige eksamenvraestelle en webtuistes soos www.digitalclassroom.co.za en YouTube. Party hulpbronne het hy danksy Vodacom gekry en ander het hy deur die jare versamel om hom met sy eie studie te help. Veral die nuwe witbord is ’n groot plesier. Dit lei af wat jy wil skryf, bring korreksies aan en maak interaksie met skakels en multimedia-hulpmiddels moontlik. Bongumusa kan sien hoe sy leerders se houding verander het. Hulle skarrel nou om voor in die klas te kan sit en probleme op te los. “Dis fantasties. Hulle geniet dit werklik en dit loop gewoonlik op ’n baie interessante les uit. Dis ook wonderlik dat ons die werk baie vinniger as voorheen kan afhandel.”

Baie studente stel nou meer in wetenskap belang. “Daar was gerugte dat dit moeilik kan wees om wetenskap te slaag. Maar noudat hulle die toerusting het, dink hulle vir die eerste keer hulle kan dit baasraak en is gretig om daarmee aan te gaan,” sê Bongumusa. Dié passievolle onderwyser koester ook meer hoop vir sy studente se toekoms. “Die afgelope paar jaar was daar leerders oor wie ek bekommerd was. Ek’t gedink: Wat gaan ons met hulle doen? Baie van hulle sit nou by die huis sonder beurse en vooruitsigte. Die volgende geslag leerders geniet nou soveel meer voordele, al besef hulle dit dalk nie.”

Vir nog inligting en om na die twee minute lange dokumentêr te kyk, besoek www.vodacom.co.za/connectforgood.

Klik hier vir meer inligting.