Digitale geletterdheid word ál belangriker. Sonder ’n rekenaar en internettoegang sak jy gou uit.

Daarom verander Vodacom, in samewerking met die Departement van Basiese Onderwys, lewens ten goede met Vodacom Mobile Education, ’n deel van hul projek Connect for Good, wat kommunikasie-en-inligtingstegnologiesentrums in benadeelde gemeenskappe vestig.

Elke sentrum het 50 rekenaars met sagteware van Microsoft, Cisco en Mindset. Dis verbind met 200 omliggende skole en elkeen het ’n studieruimte en biblioteek. Loopbaanopleiding word aangebied en die sentrums help onderwysers om hul klaskamer te omskep in ’n digitale leersentrum met mobiele tegnologie en internettoegang. Sowat 80 onderwysers per provinsie word gekies vir ’n spesiale program wat onderrig in wiskunde en wetenskap opskerp. Hulle kry rekenaars, onbeperkte internet, multimediaprojektors en interaktiewe witborde. Die gemeenskap kan die sentrum en toerusting gratis gebruik.

Dit bied nuwe hoop aan jong mense en gee baie ’n tweede kans, onder wie Gugulethu Mahlangu wat die meeste van haar tyd deurbring in Vodacom se sentrum in Witbank. Dié 19-jarige het verlede jaar besef haar matriekpunte, veral in wiskunde en wetenskap, was te swak vir universiteitstoelating. Sy het op ’n brugjaar besluit sodat sy hopelik eendag biochemie kan studeer.

“Ek is gek oor biologie en chemie. Met biochemie kan jy die wêreld invaar op soek na opwindende ontdekkings,” sê sy. In Februarie het sy toevallig by die sentrum in Witbank beland toe haar pa vra sy moet saam met ’n familielid soontoe gaan. Hy wou eintlik hê sy moet die myn sien waar hy gewerk het, maar sy het soveel meer ontdek.

Die sentrum het haar verbeelding aangegryp. Van toe af bly sy by haar tannie in ’n informele nedersetting. Sy haal soggens halfsewe ’n bus vir die uur lange rit daarheen en studeer heeldag daar. Gugulethu kan skaars uitgepraat raak oor hoe dankbaar sy is teenoor die sentrum, want dit help haar om haar droom waar te maak. “Dit het ’n reuse verskil gemaak! Ek weet nie hoe ek dit ooit andersins sou kon doen nie. Ek boer hier.”

Gugulethu het toegang tot die internet en digitale klaskamers, kry onderrig en woon daagliks klasse by. En sy is gek oor die goed toegeruste wetenskapsentrum. “Ek hou daarvan om in ’n laboratorium te werk en kreatief te wees.” Die eksamen in November kom nader en daar wag nog baie harde werk. Tog is Gugulethu vol vertroue dat sy die vrugte van haar maande lange harde werk sal pluk en universiteitstoelating sal kry.

Sy wil eendag ’n skool stig en mense help, sê sy. En dit is presies wat Vodacom Mobile Education wil bereik: Groeipunte in opleiding waar die geleentheid wat een mens kry, omskep word in geleenthede vir ander, tot dit deur die hele gemeenskap en eindelik die samelewing uitkring. Die feit is dat 70 persent van Suid-Afrika se skole sonder rekenaars en internettoegang moet klaarkom.

Derduisende kinders stuur nooit ’n e-pos nie en bekom nooit inligting op die internet nie. Maar met projekte soos dié wil Vodacom jong mense ’n kans in die lewe gee en hulle bemagtig om hul potensiaal te ontsluit – veral in die afgesonderde uithoeke van ons land. Die jeug is die toekoms van ons land en dis noodsaaklik om hulle op die uitdagings van ’n digitale wêreld voor te berei.

Dis die begin van iets spesiaals en ononderhandelbaar vir die groei van ons land.

Klik hier vir meer inligting.