Verstaan mooi: Dis nie om ’n slot aan die koelkas te sit of die spensdeur te sluit nie.

Almal op aarde is betrokke by voedselsekerheid, sommige meer as ander. Maar ons almal moet eet; daarom is voedselsekerheid so belangrik.

Dink hieraan: Jy draf by jou plaaslike supermark in, en sien ’n sak aartappels wat afgemerk is.

Jy koop dit omdat jy dink jy koop in grootmaat en bespaar. Maar jou gesin gebruik nie soveel stysel nie, en voor jy jou kan kry, is die helfte van die sak vrot.

Jy haal jou skouers op, gooi dit weg en dink nie weer daaraan nie. Jy moet. Wat jy pas onwetend gedoen het, was om die prys van aartappels op te stoot. As ons meer koop as wat ons nodig het en dit dan vermors, verhoog ons die vraag na die produk vinniger as wat die

voorraad vermeerder. Dit beteken ’n hoër prys vir almal.

Dink aan nog iets:

Baie Suid-Afrikaners is byna of heeltemal armoedig. Deur by te dra tot prysverhogings maak ons dit moeiliker almal om kos te koop. En honger is een van die enkele grootste struikelblokke in die weg van ontwikkeling, vooruitgang, voorspoed en vrede in die wêreld.

Die begrip voedselsekerheid het baie ontwikkel sedert dit in die wêreld se ekonomiese en politieke woordeskat beland het. Tog kan dit so beskryf word: wanneer alle mense, ten alle tye, liggaamlike en ekonomiese toegang het tot genoegsame veilige, voedsame kos, wat voldoen aan die voedingsvereistes (en voedselvoorkeure) vir ’n aktiewe en gesonde lewe. Dit berus op vier pilare: beskikbaarheid, toeganklikheid, benutting en stabiliteit.

  • Beskikbaarheid verwys na die beskikbaarheid van genoegsame hoeveelhede voedsel.
  • Toeganklikheid gaan oor die bestaan van voldoende bronne vir die verskaffing van voedsame voedsel.
  • Benutting verwys na die verbruik van voedsel volgens basiese voedings- en versorgingsbehoeftes, asook voldoende water en sanitasie.
  • Stabiliteit verwys na die voortdurende vermoë om voedsel oor tyd te verkry.

Genoeg oor teorie. In die praktyk is voedselsekerheid ’n baie ingewikkelde, volhoubare ontwikkelingsvraagstuk in baie wêrelddele.

Ingeligtes beweer die wêreldbevolking stuur af op ernstige probleme in die volgende paar dekades. Dis tensy die probleme wat voedselsekerheid in die gesig staar aandag kry en opgelos word, veral in ontwikkelende en jong nywerheidslande. Hoewel daar talle sulke lande wêreldwyd is, wend die internasionale gemeenskap hom nou tot Afrika.

Dis omdat navorsing toon 60 persent van die aarde se onbenutte landbougrond is op ons vasteland.

As onlangse neigings byvoorbeeld voortduur, sal Afrika ’n toenemend belangrike rol in die wêreldekonomie speel. Teen 2040 sal ons die tuiste wees van een uit vyf van die planeet se jong mense, en die grootte van ons arbeidsmag sal met China s’n meeding.

Tog lewer ons tans net ’n tiende van die landbouprodukte. Dit sal moet verander, en gou ook.

Wetenskaplikes en beleidmakers oral ter wêreld het soliede, werkbare strategieë bedink om baie van die probleme van voedselsekerheid op te los. Tog wag daar talle uitdagings, soos die bogenoemde vermorsing.

In die volgende artikel kyk ons hoe jy kan ophou deel wees van die probleem, en deel kan word van die oplossing. Dis baie makliker as wat jy dink.

Terloops, baie van die wetenskaplikes en beleidmakers wat te doen het met voedselsekerheid, sal binnekort hier wees vir die Derde Wêreldkonferensie oor Landbou-, Voedsel- en Voedingsekerheid en Klimaatsverandering. Dit word gehou van 3 tot 5 Desember in Emperors Palace in Kempton Park.

Die konferensie wil beplan vir genoegsame voedsel in ons toekoms.

As jy meer wil weet, besoek http://afcconference.agric.za of bel Wilfred Alcock op 012 427 9706

Lees ook:

Dink jy aan kos? Dink twee keer