Suid-Afrika het meer as net antiretrovirale middels (ARV’s) nodig in sy volgehoue stryd teen die MIV/vigs-pandemie. In ’n land met ’n groot aantal MIV-positiewe mense kan inligting wat hulle bemagtig die sleutel tot sukses wees; daarom is die projek Vodacom Mobile Health verlede Junie in Hillbrow en Malvern in Johannesburg van stapel gestuur.

Vir hierdie projek word die grootskaalse beskikbaarheid van selfone in Suid-Afrika benut om MIV-positiewe mense met SMS’e te bereik. So ontvang 5 200 MIV-positiewe Suid-Afrikaners reeds broodnodige inligting. Deur Young Africa Live, ’n mobi-tuiste vir gesprekvoering, word voorkoming en bewustheid bevorder; Mxit, ’n gratis selfoonkitsboodskapdiens met gespreksforums, moedig gesprekke oor MIV aan, en les bes is daar die Please Call Me-veldtog wat mense aanmoedig om die oproepsentrum HIV-911 vir inligting te bel.

Thandiwe Ngoxeka (36) van Hillbrow is een van die mense wat by hierdie projek baat vind. Sy sê dit was die grootste keerpunt in die behandeling van haar siekte vandat ARV’s in 2004 die eerste keer algemeen beskikbaar geword het. Sedert MIV in 1999 by haar gediagnoseer is, besoek sy die kliniek in Esselenstraat, Hillbrow, gereeld om getoets te word vir seksueel oordraagbare infeksies en tuberkulose, en haar CD4-telling (’n bio-merker van immuungebrek) te kry. Sy het dadelik besef watter voordele die SMS-diens vir haar kan inhou toe ’n werwer haar by die kliniek nader.

Daar is drie soorte SMS-dienste. Die eerste stel mense in kennis dat die uitslag van hul CD4-telling gereed is. Tog kom die woorde “MIV” en “ARV’s” nooit in die SMS voor nie. Dit keer dat dié boodskappe die ontvanger se status bekendmaak.“Mense word getoets en kom dikwels nie terug vir hul uitslag nie,” sê Maya Makanjee, die hoofbeampte van korporatiewe sake by Vodacom. “Hulle vergeet of kan nie ’n dag verlof kry om terug te gaan kliniek toe nie. Ander pasiënte gaan wel terug, maar die uitslag is nie altyd daardie dag beskikbaar nie. Dit beteken hulle het hul tyd gemors. Met die program Vodacom Mobile Health wil ons pasiënte aanmoedig om in die gesondheidsorgstelsel te bly en behandeling te kry.”

’n Tweede SMS-diens herinner pasiënte aan hul afsprake by die kliniek. Jy ontvang ’n SMS twee weke voor die afspraak, nog een ’n dag voor die tyd en ’n derde die dag daarna om jou te bedank dat jy gekom het en jou te herinner om gou weer ’n afspraak te maak. Dit is besonder nuttig vir Thandiwe. Sy het dit voorheen vermy om afsprake te maak en het liewer gewag tot haar medisyne gedaan is voor sy teruggegaan het kliniek toe. “Hulle sê altyd jy moenie wag tot die medisyne op is nie, maar ek vergeet dit soms,” erken sy.

Die derde SMS-diens is waarskynlik die belangrikste. Weeklikse SMS’e herinner pasiënte om hul medisyne te drink.Daarby kry hulle ook gesondheidswenke oor hoe om die meeste te put uit ’n lewe met MIV. Die diens is veral belangrik omdat baie pasiënte nie internettoegang het of sal weet waar om dié inligting te kry nie. “Die SMS’e is nuttig en ek luister na al die raad. Dit beteken ook jy hoef nie kliniek toe te gaan elke keer dat jy siek voel nie. Dit het regtig my lewe baie verbeter,” sê Thandiwe.

Nicolette Naidoo, ’n navorser aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg se instituut vir reproduktiewe gesondheid, sê die SMS’e bied ook emosionele steun. “Die diens maak pasiënte daarvan bewus dat iemand vir hulle omgee en dat hulle nie hul situasie op hul eie hoef te hanteer nie.”

Mense moet weet MIV is nie ’n doodsvonnis nie. Thandiwe meen te veel mense met MIV berus hulle by ’n vroeë dood, al is hulp beskikbaar. “MIV maak nie dood nie; mense maak hulself dood. Omtrent 10 van my vriende is al aan vigs dood. Hulle het almal gevra: ‘Hoekom ek?’ Dis net ’n siekte. Mense moet leer om verantwoordelikheid te aanvaar.”

Vodacom Mobile Health probeer help deur pasiënte aan te moedig om in die openbaregesondheidsorgstelsel te bly. Daar is reeds ’n merkbare verbetering. Maya sê die projek se diens word nou na die Hillbrow-gemeenskapsentrum uitgebrei en hopelik ook binnekort na Johannesburg se algemene hospitaal.

Vir nog inligting en om na die twee minute lange dokumentêr te kyk, besoek www.vodacom.co.za/connectforgood.

Klik hier vir meer inligting.