"EK HET my man en seun gesmeek en gesmeek,” vertel Denise Erasmus van die plaas Skoongesig buite Villiersdorp. “Elke keer dat ons verby die kerksaal ry, sien ek die Flora-plakkate en neul ek weer. Ek bedoel, die cholesteroltoets is gratis; dit neem net 10 minute, en wat anders sou hulle met daardie tyd doen?”

Eindelik het haar man, Francois (62), en seun, George (29), ingewillig. En toe kry hulle ’n verrassing: Francois se cholesterolvlak was 5,9 mmol/L en George s’n 6,5, al is hy nog nie eens 30 nie.

Denise sê sy was veral verbaas oor Francois se lesing. “Hy ondergaan elke jaar ’n gesondheidstoets vir sy bloeddruk en ander dinge en daar was nog nooit ’n probleem nie. Sy broer en suster se cholesterolvlak is wel bonormaal, so dit lyk of dit in die familie loop. Ek dink veral George het geskrik,” sê Denise, al skud George sy kop en lag.

Die mans wil nie juis erken dat hulle nou gesonder eet nie en sê hulle oefen nie meer as gewoonlik nie; hulle werk hard genoeg op die vrugteplaas wat hulle bedryf. “Ons stap, tel kratte op, pak in, pak uit. Dis genoeg oefening,” sê Francois.

George eet wel nou soggens hawermout- pleks van kitspap, terwyl hy en sy pa nou elke dag Flora pro.activ op ’n sny brood eet. George het ophou aartappelskyfies eet en brood met rogbroodkoekies vervang. Hulle eet ook minder rooivleis. “Die skaap is nie baie vet vanjaar nie,” skerts Francois.

Selfs hierdie klein veranderinge het ’n verskil gemaak, want toe hulle vir die tweede toets gaan, was hul cholesterolvlak reeds beter. Aan die einde van die uitdaging op 14 Februarie was Francois se cholesterolvlak 4,3 mmol/L en George s’n 5,2. “Dié uitdaging maak jou bewuster van jou cholesterol,” sê George. “Ons doen nie soveel dinge anders nie, maar dit het tog gehelp.” S BAs jy ’n familiegeskiedenis van cholesterol het, moet jy jou cholesterolvlak gereeld laat toets.

SO MAAK HULLE

  • Eet minder rooivleis.
  • Bak eerder vis in die oond as om dit te braai.
  • Eet gereeld vrugte vir aandete.
  • Hou aan met hul daaglikse oefening op die plaas.
  • Drink laevetmelk in plaas van volroom.

SO LYK ’N TIPIESE DAG OP DIE UITDAGING

Ontbyt: Weet-Bix of hawermoutpap en koffie met laevetmelk. Middagete (hoofmaaltyd): Vleis of hoender met groente en slaaie. Aandete: Vrugtebord met ’n sny brood en Flora pro.activ.

DENISE SE KORINGSLAAI

Francois sê van alles wat Denise tydens die cholesterol-uitdaging gemaak het, was dié slaai die heel lekkerste.

SLAAI

  • ½ suurlemoen
  • 3 vars pere, gesny
  • 375 ml (1½ k) stampkoring, gekook
  • kwart ui, fyn gekap
  • ’n hand vol gemengde rosyne
  • ’n hand vol gemengde neute, gekap

SOUS

  • 50 ml (¹/k) heuning
  • 25 ml (5 t) asyn
  • 5 ml (1 t) kerriepoeier
  • 50 ml (¹/k) olyfolie

Slaai Druk die suurlemoen uit oor die gesnyde pere. Gooi al die slaaibestanddele bymekaar.

Sous Meng die sousbestanddele goed. Giet dit oor die slaai. Denise sit dit voor saam met hoender en spanspek. Jy kan die slaai ook met ’n sny brood met Flora pro.activ geniet.