Die paneel vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie het drie beoordelaars ryker geword, onder andere ’n voormalige Mej. SA.

Die Mej. Suid-Afrika-geleentheid, wat op 30 Maart by Sun City plaasvind, word deur Sun International aangebied en deur Cell C geborg.

Die nuwe beoordelaars is Amy Kleinhans-Curd, Kojo Baffoe en Bonang Matheba. Hulle sluit aan by die twee huidige beoordelaars, Anele Mdoda en Pnina Fenster.

As kenners op hul onderskeie gebiede gaan hulle die 12 deelnemers volgens ’n verskeidenheid kriteria oordeel, onder meer hul leierskap- en kommunikasievaardighede, skoonheid en talent, liggaamlike fiksheid en toewyding tot gemeenskapsdiens.

[caption id="attachment_70482" align="aligncenter" width="600"]Amy_Kleinhans_Curd_smaller Amy Kleinhans-Curd[/caption]

Amy, wat in 1992 gekroon is as Mej. SA, is aktief betrokke by sakebelange wat hoofsaaklik fokus op die opheffing van voorheen benadeelde gemeenskappe deur leer en ontwikkeling. Sy is die stigter van Dial-a-Teacher, wat steun aan meer as 280 000 leerders bied. Sy is ook ’n uitvoerende direkteur van Private Label Promotion (Edms.) Bpk (PLP), en sy is betrokke by Business Growth Solutions, ’n filiaal van PLP, wat klein, medium- en mikro-ondernemings met langtermyngroei en volhoubaarheid bystaan.

Die voormalige titelhouer verduidelik wat sy in ’n Mej. SA soek: “Mej. SA is ’n volwasse jong vrou, sy ken haarself en het vasgestel hoe sy die land se jeug kan aanspoor en hoop gee. Ek is opgewonde oor my posisie en die feit dat ek betrokke gaan wees by die proses waar ’n jong vrou die kans kry om haar stem te laat geld en die geleentheid het om lewe vir ewig te verander.”

Amy verduidelik watter bydrae sy tot die paneel maak: “Ek het al hierdie paadjie gestap en verstaan wat dit verg om die kompetisie te wen.”

[caption id="attachment_70481" align="aligncenter" width="600"]Kojo Baffoe Kojo Baffoe[/caption]

Kojo Baffoe is die redakteur van die manstydskrif Destiny Man. Hy is ook ’n digter, skrywer en entrepreneur. Hy is in Lesotho gebore, maar woon nou in Johannesburg. Kojo het ’n B.Com.-graad (met die hoofvakke ekonomie, bemarking en sakeadministrasie) aan die Universiteit van KwaZulu-Natal behaal en was al in verskeie sektore betrokke, onder meer handelswese, bestuurskonsultasie, die uitgewersbedryf, die geleentheidsbedryf, IT en die media (TV en drukmedia).

Hy sê hy soek iemand wat die vermoë het om die verskillende omgewings te hanteer waaraan haar titel gaan blootstel. “Mej. SA leef vandag in ’n wêreld wat voortdurend verander. Sy moet ’n ware ambassadeur wees wat met intelligensie, grasie, nederigheid, selfvertroue en (die belangrikste van almal) egtheid met mense kan omgaan.”

Hy sê dit is ’n groot eer om as beoordelaar gekies te word, al is die taak wat voorlê opwindend sowel as uitdagend: “Jy maak die besluit wat die potensiaal het om hierdie jong vroue se lewe onherroeplik te verander. Dit is ook opwindend om deel te wees van ’n kompetisie wat saam met die tye beweeg.”

Kojo bring ook sy “perspektief en fokus op konteks en toepaslikheid” na die paneel.

[caption id="attachment_70480" align="aligncenter" width="598"]Bonang Matheba Bonang Matheba[/caption]

Bonang Matheba is Revlon Cosmetics se handelsmerkambassadeur en die uitvoerende vervaardiger van die TV-program Lights, Camera, Fashion. Sy is ook die aanbieder van Clash of the Choirs op Mzansi Magic, sy was ’n YFM-omroeper en Top Billing-aanbieder en was verlede jaar op Forbes se lys van die 13 glansmense in Afrika om dop te hou.

Sy verduidelik watter eienskappe sy in die nuwe Mej. SA soek: “Sy gaan ’n ambassadeur van ons land wees en moet oor ’n paar eienskappe beskik: ambisie, skoonheid, persoonlikheid en selfstandigheid. Sy moet ’n band hê met ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse vroue, en daarmee gaan haar veelsydigheid getoets word.”

Sy is in die wolke om deel van die kompetisie te wees: “Ek kyk al jare die program en (die voormalige Mej. SA) Basetsana Kumalo is ’n groot ikoon. Mej. SA bemagtig jong vroue en stel vroue in staat om hul drome na te jaag en ’n verskil in die land te maak. My rol as beoordelaar maak dat ek deel van daardie proses kan wees; dit kan enigeen gelukkig maak.”

Die ander twee beoordelaars is al van die begin af betrokke by Mej. SA 2014. Anele Mdoda is ’n bekende radiopersoonlikheid, TV-aanbieder en seremoniemeester wat beïndruk het as die aanbieder van SA’s Got Talent. Sy was al op 5FM en 94.7 Highveld Stereo te hoor en sy was verlede jaar ook ’n beoordelaar.

Pnina Fenster is ’n alombekende naam in die joernalistiekwêreld; sy het by koerante en verskeie vooraanstaande vrouetydskrifte naam gemaak. Sy is tans redakteur van Glamour.

Die top-12-finaliste wat vir die kroon meeding, kom van alle uithoeke van die land: Gauteng en die Wes-Kaap het elk drie finaliste, die Vrystaat het twee en die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga het elk een. Hulle is: Abigail de Jager (Mpumalanga), Anzél Stofberg (Wes-Kaap), Caylene Marais (Gauteng), Dipalesa Mbola (Vrystaat), Jade Hubner (Wes-Kaap), Julia Petersen (KwaZulu-Natal), Matlala Mokoko (Limpopo), Mishka Patel (Wes-Kaap), Rolene Strauss (Vrystaat), Tidimalo Sehlako (Gauteng), Tshegofatso Monggae (Gauteng) en Ziphozakhe Zokufa (Oos-Kaap).