Die Afrikaanse taal het ontstaan uit ’n mengelmoes van rasse, tale en volke wat hier aan die suidpunt van Afrika in ’n smeltkroes saamgegooi is.

Benewens die invloed van Hollands, het Afrikaans ook Oosterse invloede uit Nederland se kolonies in die Verre-Ooste, soos Batavia. Daar is ook Portugese invloede omdat die meeste handelaars en matrose dié taal gepraat het.

Oorblyfsels van Maleis en Portugees is steeds in moderne Afrikaans te vind in woorde soos baie, koejawel, makou, blatjang, sosatie, bobotie en piesang.

Op eie bodem het Afrikaans ook van sy ryk woordeskat te danke aan die inheemse Khoi-bevolking wat woorde soos abba, boegoe, dagga, kanna, kierie, koedoe, kwagga, eina en aitsa daaraan gegee het.

Maar het jy geweet ’n woord soos kantien, wat vandag na ’n drinkplek of kroeg verwys, se betekenis het oor die jare heeltemal verander? Volgens AF Prinsloo se boek ’n Dief aan die Kers was die vroegste betekenis van dié woord ’n soetelaar, dit wil sê iemand wat agter leërs aangeloop en snuisterye en drinkgoed aan die soldate verkoop het. Mettertyd het dié drinkgoed sterk drank geword, maar dit is net in die soldate se kantien voorgesit.

Vandaar het die betekenis eindelik nader beweeg aan die betekenis wat ons vandag ken.

Ken jy die oorsprong van dié Afrikaanse woorde?

Pynappel:

Volgens Prinsloo het die naam pynappel uit ’n misverstand ontstaan. Christopher Columbus het in 1493 op die Karibiese eiland Guadeloupe aangekom. Daar het hy vir die eerste keer pynappels teëgekom en hom toe misgis en gedink dis ’n dennebol omdat albei ’n stekelrige voorkoms het. Daarom noem hy toe die vrug ’n piña, die Spaanse woord vir dennebol. Eers later het die Spanjaarde die onderskeid tussen ’n piña en die ware jakob getref.

Intelligensie:

Die oorsprong van die woord kan gevind word in die Latynse intus lego. Volgens Prinsloo moet elkeen van ons êrens in ons eie lewe begin weet of jy Nobelprys-materiaal is al dan nie. En aangesien niemand jou so goed soos jyself ken nie, is dit nie verbasend waar die betekenis van intelligensie vandaan kom nie. Intus lego beteken immers: “Ek lees binne my.” Enigeen wat dit kan doen, het die mag om te verstaan en iets vinnig te begryp.

Beskuit:

Dié gebak wat in die oond uitgedroog word, kom al van Romeinse tye aan, maar hulle het dit as ’n soort brood beskou. Die Engelse het die Franse woord daarvoor, biscuit, oorgeneem. Hierdie woord bestaan uit bis wat “twee” beteken en cuit wat deur die Franse werkwoord cuire “kook” of “bak” beteken. Beskuit word tot vandag toe twee keer gebak.

Ambisie:

Die oorspronklike betekenis van dié woord was nie altyd die byna onbedwingbare drang om vooruitgang te beleef nie. Trouens, die woord het destyds bloot verwys na iemand met die ambisie om van huis tot huis te wandel. As ’n man in Rome hom vir ’n openbare amp (soos die senaat) beskikbaar wou stel, moes hy soos in die ou Suid-Afrika voor ’n verkiesing van huis tot huis loop en stemme werf. Dit was die letterlike betekenis van die Latynse woord ambitio (ambo “rond” + itus “gaan”). Die ambo- vind ook neerslag in die Afrikaanse woord ambulans: ’n rondlopende hospitaal.

Salaris:

Volgens oorlewering was sout so skaars in Italië dat dit ’n inherente waarde ontwikkel het en as ruilmiddel ingespan is. Vandaar die Afrikaanse uitdrukking “jou sout werd wees”. In die geval van ’n Romeinse soldaat is dié uitdrukking letterlik opgeneem. Salaris was dus eintlik soutgeld. Tog verskil bronne vandag oor wanneer sout so skaars geraak het dat dit in ’n ruilmiddel ontaard het. Sommige meen dit het eers in die 12de eeu gebeur toe sout as betaling vir belasting ingestel is.

Bronne: ’n Dief aan die Kers; Juig

Dis waar net ’n paar interessante Afrikaanse woorde vandaan kom. So hoe lyk jou Afrikaans?

Dié vraag is natuurlik die spil waarom die opwindende Projek Afrikaans draai. Dis daarop gemik om Afrikaans se diversiteit en kleurrykheid in al sy vorme te vier.

Op die webtuiste afrikaans.com kan jy tot R10 000 wen as jy ’n foto daarop laai van hoe jóú Afrikaans lyk!

Gaan loer hier vir meer inligting en om te sien hoe JY kan inskryf.

Hoe lyk jou afrikaans Uniek

Besoek Afrikaans.com en kom gesels saam!