Die spul pryse wat Mej. Suid-Afrika gaan ontvang, maak die skoonheidskompetisie een van die duurste skoonheidskompetisies ter wêreld.

Die wenner – wat by ’n spoggeleentheid op Sondag 30 Maart by Sun City gekroon sal word – sal kontant, ’n motor en produkte ter waarde van meer as R1.3 miljoen ontvang. Sy kry ook duisende rande kontant en studiebeurse wat sy moet toeken aan Suid-Afrikaners wat sy tydens haar kroningsjaar ontmoet.

Die Mej. SA 2014-pryswenner se wenpakket sluit in:

  • ’n Volvo V40 T3 – R335 000
  • Die gebruik van ’n ten volle gemeubileerde en versorgde woonstel tydens haar kroningsjaar – R240 000
  • Africology-produkte en spa-dienste – R130 000
  • ’n Sun International-kontantprys – R120 000
  • Call It Spring-skoene – R120 000
  • Exclusive Dry Cleaners-dienste  – R100 000
  • Smashbox-grimering – R90 000
  • Opleiding in etiek en haar beeld deur Professional  Impressions – R80 000
  • ’n Sun International Dreams-wegbreek, alle uitgawes gedek – R80 000
  • Cell C – R60 000 lugtyd-kontrak
  • ’n Samsung Galaxy Tab 3 25 cm-tablet – R4 000

Cell C gee ook die wenner R200 000 om aan weldade te bestee.

Varsity College het twee beurse ter waarde van R330 000 geskenk wat Mej. Suid-Afrika aan twee ekonomies benadeelde studente moet toeken. Hulle moet ’n maksimum van drie jaar vir ’n volledige graad of diplomakwalifikasie op ’n voltydse basis by Varsity College studeer. Daar is ook 10 beurse vir kort leerprogramme ter waarde van R150 000 wat Mej. Suid-Afrika aan NRO’s of liefdadigheidsorganisasies moet toeken.

Ervaar al die glans en opwinding regstreeks van die Sun City Superbowl wanneer 12 van die land se talentvolste en pragtigste vroue om die Mej. Suid-Afrika-kroon meeding. Van die kunstenaars wat gaan optree, is Micasa, Matthew Mole en Bucie. Brendan Jury, wat ’n 13-stuk-orkes gaan dirigeer, is die musikale direkteur vir die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie.

Die 12 finaliste wat vir die titel gaan meeding, kom van van alle uithoeke van die land. Hulle is: Abigail de Jager (Mpumalanga), Anzél Stofberg (Wes-Kaap), Caylene Marais (Gauteng), Dipalesa Mbola (Vrystaat), Jade Hubner (Wes-Kaap), Julia Petersen (KwaZulu-Natal), Matlala Mokoko (Limpopo), Mishka Patel (Wes-Kaap), Rolene Strauss (Vrystaat), Tidimalo Sehlako (Gauteng), Tshegofatso Monggae (Gauteng) en Ziphozakhe Zokufa (Oos-Kaap).

Die Mej. SA-kompetisie word deur Sun International aangebied en deur Cell C geborg. Dit vind plaas op Sondag 30 Maart. Dit word regstreeks op Mzansi Magic (DStv-kanaal 161) om halfses uitgesaai.