.

[caption id="attachment_120482" align="alignnone" width="600"]Na 10 jaar as die Mej. SA-bewaker het Mama J 'n paar stories om te vertel! Foto: Tumelo Leburu Na 10 jaar as die Mej. SA-bewaker het Mama J 'n paar stories om te vertel! Foto: Tumelo Leburu[/caption]

Die 67-jarige Jeanitta is al amper tien jaar die chaperone van die finaliste van dié skoonheidskompetisie. Sy kry hulle betyds by geleenthede en werksessies. En sy is elke dag, heeldag, daar om leiding, beskerming en ondersteuning te gee.

Lees ook: Ontmoet die nuwe Mej. SA!

Ons ontmoet haar in Braamfontein, Johannesburg. Terwyl ons gesels hou sy ’n wakende oog oor drie skoonhede wat op ’n bussie klim vir ’n onderhoud met die kletsprogramaanbieder Gareth Cliff. Tevrede gaan sy dan weer na binne, waar die ander finaliste se hare versorg word.

Sy het haar bynaam gekry by die eerste groep vroue onder haar vlerk, vertel sy. Toe sy haarself voorstel, vra een: “Dis ’n lang naam, kan ons jou nie eerder net Mama J noem nie?” En so heet sy steeds.

[caption id="attachment_120483" align="alignnone" width="682"]Melinda Bam kan haar  die Mej. SA-kompetisie sonder Jeanitta nie indink nie, het sy aan Huisgenoot gesê. Foto: Tumelo Leburu Melinda Bam kan haar die Mej. SA-kompetisie sonder Jeanitta nie indink nie, het sy aan Huisgenoot gesê. Foto: Tumelo Leburu[/caption]

“Toe ons verlede jaar by die Sewes-rugbytoernooi in Kaapstad was en ek ons by die hotel wou inteken, kon hulle my naam nêrens kry nie. Toe sê ek: ‘Kyk dalk onder Mama J’.” En jou wrintiewaar, so staan dit toe daar.

In haar werk het sy bekendes soos die gholflegende Gary Player en die hotelmagnaat Sol Kerzner ontmoet.

En wanneer die nuwe Mej. Suid-Afrika op 19 Maart gekroon word, sal dit die tiende kroondraer wees met wie sy maande lank ’n pad geloop het. Deel van haar pligte is om die wenner nog ’n paar dae lank by te staan om die druk van byvoorbeeld media-onderhoude te hanteer.

Sy is vandag steeds vriendinne met talle voormalige wenners, soos Melinda Bam en ons Mej. Wêreld van 2014, Rolene Strauss. Hulle klets graag oor die telefoon.

“Met die jare besef ’n mens ook hoe baie hulle vir jou beteken het.” Baie van haar “dogters” het intussen ook al verloof geraak, getrou en kinders gekry.

Sy kan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie nie indink sonder Mama J nie, sê Melinda later in ’n boodskap aan Huisgenoot.

Jeanitta is al 45 jaar lank met James (72) getroud en die twee woon in Johannesburg. Hulle het drie kinders, Sean (45), Charmian Pearce (44) en Bernadine (38), en vier kleinkinders.

Hoe het dit gekom dat haar “kroos” so uitgebrei het?

Sy vertel sy was aanvanklik deel van die Mej. SA-produksiespan wat agter die skerms die hele kompetisie reël. Toe al was sy altyd die een wat gesorg het vir ’n kopseerpilletjie of ’n koppie tee as iemand dit benodig.

“Ek kry toe eendag ’n oproep van die direkteur van die produksiespan. En hy sê: ‘Ons het jou nodig om met die meisies te help.’ Ek antwoord: ‘Maar ek het nie die kwalifikasie daarvoor nie.’ Hy het net gesê: “Maar jy is ’n ma en ’n ouma – dis die enigste kwalifikasie wat jy nodig het!’”

Sy het die werk aanvaar oor die vertroue wat in haar gestel is. “Dit was vir my ’n opwindende uitdaging. Nou sien ek elke jaar daarna uit om my nuwe gesin te ontmoet.”

Vir haar is dit ongelooflik om te sien hoe elke jaar se finaliste groei. “Hulle kom hier aan as jong meisies. In die proses leer hulle so baie en blom eindelik as pragtige volwassenes.”

Elke jaar is daar 26 deelnemers, wat dan tot 12 uitgedun word. En dis dié 12 finaliste wat sy tot en met die kroningsaand begelei. Vir ’n week tot twee weke per maand, ses maande lank, woon hulle werksessies in Johannesburg by oor etiket, finansies en die media.

“Hulle kry ’n volledige oorsig van alle aspekte van Mej. Suid-Afrika en leer waardevolle lewenslesse,” verduidelik Jeanitta.

“Wanneer hulle hier aankom, staan hulle eers ’n tree terug, omdat ek aan die begin streng is . . . Maar ná die kompetisie is hulle skaars by die huis, dan kom die boodskappe oor hoe baie hulle my mis!”

Deur die jare was daar al benoude oomblikke. Soos die keer toe ’n finalis se ritssluiter net voor ’n onderhoud gebreek het. “Ek het gelukkig altyd ’n naaldwerkstel by my, en ek het die rok aan haar lyf vasgewerk. Ná die onderhoud het ons haar uit die rok gesny!”

Sy troos die vroue ná ’n slegte dag as hulle moeg is of huis toe verlang. Sy vertel een groep, uitgeput ná ’n lang dag van repeteer, het besluit om vitamien B12-inspuitings te kry vir energie.

“Toe ons by die apteek kom, was daar niemand om dit toe te dien nie. Toe sê ek een van ons finaliste studeer om ’n mediese dokter te word. En sý het toe die inspuitings toegedien.” En ja, dit was natuurlik Rolene Strauss. “Die vroue het in ’n ry gaan staan om hul inspuitings te kry. Dit was vir almal spesiaal omdat Rolene dit gedoen het.”

Dis seker moeilik om die mans van al die mooi vroue af weg te hou? “Hulle is ook net mense en mag maar kyk en foto’s neem,” sê Jeanitta. “Maar dit is waar dit eindig!”

’n Kansvatter by ’n gholfdag het byvoorbeeld sy nommer op ’n gholfbal vir ’n finalis geskryf. “Twee dae later het ons hom saam met sy vrou in ’n restaurant gewaar. ’n Mens wil nie ’n slegte naam as ’n nare mens kry nie en probeer om die situasies altyd diplomaties te hanteer.

Ek het verby hom gestap en gefluister: ‘Ek het nie geweet jy het ’n vrou nie.’ ”

So ’n klomp mooi vroue raak seker katterig met mekaar, of hoe?

“Dit gebeur selde,” verseker Jeanitta ons. “Ons raak soos ’n familie. Jy kan nie slegte vriende maak nie, want jou vyand kan môre jou kamermaat wees. Die vroue bly gewoonlik lank ná die kompetisie goeie vriendinne.”

Die groot hoogtepunt van haar loopbaan was to[caption id="attachment_120484" align="alignnone" width="682"]Mama J en dié jaar se 'kroos'. Foto: Tumelu Leburu Mama J en dié jaar se 'kroos'. Foto: Tumelu Leburu[/caption]e Rolene in 2014 as Mej. Wêreld gekroon is. “Ek is ewe lief vir al die vroue, maar ek was baie trots toe sy die kroon huis toe bring,” vertel Jeanitta.

“Sy is my Afrikaanse dogter. As sy in ’n kamer instap, is dit asof daar ’n lig aangaan.”

Die huidige Mej. Suid-Afrika, Liesl Laurie, is ook vir haar kosbaar. “Sy het die pragtigste glimlag. As ek na foto’s van haar kyk, kan ek haar giggellag hoor.”

Maar nee, sy het nie ’n gunsteling nie. “Hoe kan ’n ma ’n gunstelingkind hê? Ek is elke jaar baie trots op al 12 my pragtige dogters.”

Tydens die eerste fase van die kompetisie, wanneer daar 26 deelnemers is, word Jeanitta deur nog ’n chaperone bygestaan. Wanneer die 12 finaliste aangewys word, werk sy verder alleen met hulle.

Jeanitta glimlag breed terwyl sy vertel hoe een groep ’n informele prysaand vir haar en die ander chaperone gehou het.

“Hulle het ’n toespraak vir my geskryf en dit voorgelees. Ek het die prys gewen vir die liefdevolle mens wat altyd omgee. Dit was baie spesiaal.”

Sy kry ook elke jaar ’n koek en blomme op haar verjaardag van die vroue.

Haar regte dogters bel gereeld en sê: “Ons soek nou ons eie Mama J by die huis.” Tuis werk sy graag in die tuin of doen naaldwerk. Maar daar is nog nie sprake van aftree nie.

“Ek het al vir die vroue gevra wat van my gaan word as ek nie meer die werk kan doen nie. Hulle sê net: ‘Ons sal jou dan in ’n rolstoel moet rondstoot.’”

Sy lag weer, duidelik in haar skik met die antwoord.

“Dink net, 12 mooi vroue wat met Mama J in ’n rolstoel in die pad afkom!”

– Marisa Fockema

Ander stories op Huisgenoot.com

Hallo daar Richard Tiffany Gere: Dié bekendes het die vreemdste middelname denkbaar

Kyk: Dale Steyn deel stout selfie!

Kyk: Emosionele oomblik toe tiener ontvanger van haar wyle broer se hart ontmoet

Oe-la-la! Madonna se pragtige dogter hou haar lyf model

Man stel aanlyn profiel as vrou op, met skokkende gevolge

‘Ek hou jou dop!’: Man vind onheilspellende 15 jaar oue boodskap in sy kaggel

Almal se gunsteling-‘prinses’ binnekort weer op die silwerdoek