Almal doen dit. Jy storm vinnig by die apteek in vir iets vir daardie kloppende hoofpyn, jou kind se naarheid of die verkouesimptome wat jou kop laat dik voel.

Maar op grond waarvan koop ons wat ons koop? Dit wat jou ma vir jou as kind gegee het? Die impak wat ’n televisieadvertensie op jou gemaak het? Of vertrou jy slegs op die apteker se kennis?

Om die voubiljet te lees help soms, maar ’n mens verstaan nie aldag die farmaseutiese name nie.

So kan jy sin maak van inligting wat oor-die-toonbankmedisyne vergesel.

Die Selfmedikasievervaardigersvereniging van Suid-Afrika (Smasa) sê of jy nou ’n spesifieke soort oor-die-toonbankmedikasie die eerste keer gebruik of handelsmerke op die rak vergelyk, jy sal ’n beter ingeligte verbruiker wees as jy ’n basiese begrip het van farmaseutiese etikettering en die voubiljet wat by alle medisyne ingesluit is. Albei kan jou ’n deurdagte keuse van die produkte help maak.

Aanbieding

Nicola Brink, uitvoerende direkteur van Smasa, sê daar is fisieke karaktereienskappe van die medikasie, soos kleur, vorm en tekens wat jou kan help om te verseker dat jy die regte medisyne drink.

Volume

Volume verskyn as die aantal tablette, ’n volume in milliliter of ’n gewig in gram. Dit is die hoeveelheid van die produk, wat jou sal help verseker daar is genoeg om te hou vir die duur wat jy veronderstel is om die medisyne te neem. So kan jy ook soortgelyke produkte vergelyk wat koste betref.

Dosis

Die hoeveelheid medisyne wat geneem moet word, word gewoonlik gelys vir volwassenes en kinders (met ouderdomsafdelings): hoeveel jy moet neem, hoe jy dit moet neem en hoe gereeld en vir hoe lank jy dit moet neem. As jy twyfel oor die regte dosis vir ’n kwaal, gesels met jou apteker of ander gesondheidsorgpraktisyn.

Aktiewe bestanddele

Dit is die farmaseutiese naam van die terapeutiese stof van die produk – die een wat verantwoordelik is vir die aksie van die medisyne. Jy sal ook die hoeveelheid van die aktiewe bestanddeel per voorgestelde dosiseenheid sien, in ml of in mikroliter. (µl). Dit is belangrik om dit te weet wanneer jy handelsmerke vergelyk, ingeval jy ’n hipersensitiwiteit (allergie) het vir ’n bestanddeel of daar ’n medikasie-interaksie met ’n medisyne of aanvulling is wat jy reeds gebruik.

Skedule

As die medikasie ’n skedulemedikasie is, moet dié inligting op die etiket verskyn, sê Nicola.

Skedules strek van S0 tot S6, met verhoogde regulatoriese beheer vir die groter nommers.

Terwyl S0 (aspirien, vitamiene en sommige rome vir uitwendige gebruik) in supermarkte, gesondheidswinkels, diensstasies, apteke en ander winkels verkoop mag word, moet enigiets vanaf S1 in ’n apteek verkoop word. S1 en S2 (verkoue- en griepmedikasie, antihistamine en anti-inflammatoriese middels), kan sonder voorskrif gekoop word, asook sekere S3-medikasies vir sekere simptome en vir ’n beperkte tydperk. In Suid-Afrika word ’n voorskrif benodig vir enigiets hoër as S3.

Vervaldatum

Alle medisyne se vervaldatum moet ernstig beskou word, omdat die sterkte mettertyd kan verander. Daar kan ’n uiteensetting van sommige van die bestanddele wees wat moontlik gevaarlike byprodukte afskei namate dit verouder. Oogdruppels is ’n bekende voorbeeld van medikasie wat vinnig verval.

Bergingsinstruksies

Die meeste medisyne moet op ’n koel, droë plek, onder 25 °C gehou word. “Gee noukeurige aandag aan hierdie instruksies, omdat die medisyne bederf kan word deur dit te ignoreer,” sê Nicola.