Kry dit nou op die internetstroomdiens, Showmax.

Al speel die reeks in die hedendaagse tyd af, het dit dieselfde formaat en die verteltrant is net so snaaks. 

Waar die stoepsitters en skinderbekke Mietie (Marie Pentz), Veldsman (Emgee Pretorius) en Genis (Jacques Loots) in Koöperasiestories die bindende faktor vir al die komiese verhaaltjies en staaltjies was, is Skroef (Deon Lotz), Han (Elize Cawood) en Toffie (Frank Opperman) die karakters in Pandjieswinkelstories. Hierdie drie hang in Skroef se pandjieswinkel rond en vertel staaltjies wat karakters kleurryk uitbeeld. 

IN REGTE PG-STYL

PG het net die slag gehad om ’n storie op sy unieke manier te vertel. Sy pittige humor grens soms aan die tragiese, waar ’n lag en ’n traan jou gelyktydig roer. Die veelbekroonde dramaturg se stories is inheems, die temas universeel en die karakters soms eksentriek (en ja, so effe bedenklik).

Lizz Meiring, wat die rol van Magda in Pandjieswinkelstories vertolk, sê PG het die Afrikaner, en die Afrikaanses, baie goed verstaan. “Sy stories verval nie in goedkoop grappies, politiekery of clichés nie,” sê Lizz. Hoewel die drie hoofkarakters en ’n paar ander karakters soos Donovan (Kaz McFadden) deurlopend is, het elke episode – net soos Koöperasiestories – sy eie afsonderlike verhaal (buiten episode 1 en 2 wat een storielyn het). En elke storie is omtrent komiekliker as die vorige. 

5 SKREEUSNAAKSE STORIES

Episodes 1 & 2:

Toffie se vrou (Sally Campher) hou niks van rugby nie en Toffie is ’n groot ondersteuner. Wanneer Toffie in ’n kroeggeveg ’n lelike pak slae kry en bedlêend is, probeer sy wederhelf hom van rugby speen. Toffie word genoodsaak om rugby op ’n geleende TV-stel te kyk. Dan haak Toffie bietjie uit en laat Donovan (Kaz McFadden) alles potblou verf.  Donovan werk by die ouetehuis en maak ekstra geld uit die gehoorstukke en valstande van die afgestorwenes wat hy verkoop. 

Episode 6:

Eerwaarde Mills (Norman Anstey) raak skoon onbeholpe wanneer hy voor ’n gemeente staan en kan nie ’n enkele woord uiter nie. Hy voel geroepe, maar kan glad nie preek nie. Die goedhartige prediker word egter in Johannesburg deur die straatkinders ingedoen en probeer ’n rekening in Hillbrow open – maar intussen beland hy tussen die onsedelike masseuses, met verreikende gevolge. 

Episode 8:

Oom Geel-Kerneels (David Butler) is ’n welgestelde boer, maar steek dit goed weg en maak of hy brandarm is. G’n wonder die weduwee Davel (Hél?ne Truter) behandel hom soos ’n skobbejak nie. Maar dan gewaar sy sy peperduur motor  en sing skielik ’n ander deuntjie. 

Episode 9:

Die kwaai juffrou Gous (Alexa Strachan) van die kantoor het ’n geheime lewe wanneer sy haar werkdeur agter haar toetrek – sy leef in ’n droomwêreld waar sy ’n ander karakter, Blossom, is. By ’n kantoorpartytjie haal die ware Blossom juffrou Gous in. 

Episode 11:

Die kroegman Jannetjie (Francois Stemmet) is opgesaal met die kroegvlieg Fred (Jakkie Groenewald) wat elke dag van oopmaaktyd af in die kroeg boer. Maar Fred kry vreeslik rukkings en praat deurmekaar en net een ding werk vir hom: drie dubbels riet. Maar hoe kan hy die drank drink as hy so aanmekaar ruk, want hy mors alles? Dan kry sy drinkpelle ’n idee en Jelly Labushaan (Jonathan Pienaar) gaan apteek toe en kry ’n bababottel met ’n tiet wat Fred se probleem hopelik kan oplos.