[caption id="attachment_129262" align="alignnone" width="600"]Foto: Peet Mocke Woorde uit Maleis-Portugees wat in Afrikaans behoue gebly het, is onder meer katel, kraal, sambok, bredie, ramkie, tronk, nooi en tamaai. Foto: Peet Mocke[/caption]

Afrikaans. Jou hartstaal.

Maar so kleurryk is dié taal dat dit nie oral dieselfde klink nie. “Baie” is sekerlik ’n woord wat – wel – bitterbaie in Afrikaans gebruik word. Maar het jy geweet dié woord wat so lekker van Afrikaanssprekendes se tong rol, is aan Maleis ontleen en een van heelwat Oosterse woorde wat nog in hedendaagse Afrikaans gehoor word?

In die middel 1700’s, toe die VOC slawe uit Indonesië na die Kaap gebring het, is hulle gedwing om Nederlands te leer, anders sou hulle nooit hul vryheid kon koop nie, verduidelik dr. Michael le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en dosent in kurrikulumstudies aan die Universiteit Stellenbosch.

Maar dié slawe – uit plekke soos Angola, Guinee, Madagaskar, Indiese kusgebiede, die Oos-Indiese eilande en die Indiese Argipel – het ook hul stempel op Afrikaans afgedruk namate die taal uit Nederlands ontwikkel het.

“Woorde uit Maleis-Portugees wat in Afrikaans behoue gebly het, is onder meer katel, kraal, sambok, bredie, ramkie, tronk, nooi en tamaai.

“Die invloed van Maleis is opvallend in die uitspraak van die j- as dj-, soos in djy en djille (jy en julle),” sê Michael. Oosterse woorde soos blatjang, atjar, sambreel, ramkie, spens, piesang, piering, kierang, koejawel en baadjie weerklink vandag nog wanneer Afrikaanssprekendes klets.

Van die drie soorte Afrikaans – Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans – wat destyds ontwikkel het, kan ’n mens jou veral verlekker in die kleurryke uitdrukkings wat eie aan Kaapse Afrikaans is.

[caption id="attachment_129261" align="alignnone" width="600"]Foto: Peet Mocke Van die drie soorte Afrikaans – Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans – wat destyds ontwikkel het, kan ’n mens jou veral verlekker in die kleurryke uitdrukkings wat eie aan Kaapse Afrikaans is. Foto: Peet Mocke[/caption]

Michael lig dié voorbeelde uit:

  • Aansit: Sy kan baie aansit wanneer sy praat. (Sy is baie aanstellerig)
  • Aspris: Jy lewe aspris. (Om met opset iets te doen)
  • Brêggat: Jy kan mos sien hy’s ’n ou brêggat. (Hy is pierewaaier)
  • Bus: Sy is bus. (Sy is baie nuuskierig)
  • Ghasegh: Moet tog nie so ghasegh (gesig) verkoep nie. (Soek vir gunsies)
  • Huis: Moenie huisbou nie man, kry klaar. (Kry klaar)
  • Kart: Ek het hom ’n kwaai kart geskiet. (Ek het ’n goeie leuen vertel)
  • Karte: Hy is onner karte. (Hy is vol stories)
  • Kop: Waar kry jy daai kop? (Jy is seker mal)
  • Kwailappie: Mooi so!
  • Laa-die-daa: Hulle is laa-die-daa mense. (Gesiene mense)
  • Laai-laai: My ouma is baing laai-laai. (Sy is skerp met die tong)
  • Lag-lag: Ons het lag-lag gewen. (Ons het maklik gewen)
  • Ougat /poenankies: Sy is tog te ougat /poenankies. (Sy is baie oulik)
  • Poep: Hy is ’n poep-op-’n-lappie. (Hy is nikswerd)
  • Reent: Waar slaap jy as dit reent? (Waar kom jy vandaan?)
  • Toe: Sy is so toe soes OK op Sondags. (Sy is baie dom)

As jy in die Kaap kuier en wonder wat presies Kaapse Afrikaans so eie aan dié streek maak, kan jy uitkyk na dié eiesoortige kenmerke:

  • Die gebruik van ge- saam met Engelse woorde: ge-strike, ge-change.
  • Die weglating van medeklinkers aan die einde van woorde: vi’ pleks van vir, see’ pleks van seer, ma’ pleks van maar.
  • Die besitlike konstruksie wyk af van die standaard deurdat die voornaamwoord in sy verboë vorm gebruik word: onse mense, onse taal.
  • Die gebruik van Engelse woorde asof dit Afrikaans is: struggle, check jou later.
  • ’n Eiesoortige gebruik van woorde om na dinge te verwys: gangsters vir bendes; jintoe vir prostituut; goose vir meisievriend; biesaggeit in plaas van besigheid.
  • Assimilasie kom besonder baie voor: ammal, anners, kinders.
  • Ontronding van klinkers: yt pleks van uit, hyse pleks van huise, lyster pleks van luister.
  • Die vrye wisselwerking (“code switching”) tussen Afrikaans en Engels
  • Vokale met ’n onvaste lengte: lat pleks van laat; gat pleks van gaan.

So lyk Kaapse Afrikaans, maar hoe lyk jou Afrikaans?

Die vraag is natuurlik die spil waarom die opwindende nuwe Projek Afrikaans draai. Dis daarop gemik om Afrikaans se diversiteit en kleurrykheid in al sy vorme te vier.

Op die webtuiste afrikaans.com kan jy tot R10 000 wen as jy ’n foto daarop laai van hoe jóú Afrikaans lyk!

Gaan loer hier vir meer inligting en om te sien hoe JY kan inskryf.

Hoe lyk jou afrikaans Uniek

Besoek Afrikaans.com en kom gesels saam!