Dis geen geheim dat Afrikaans ryk is aan gesegdes, idiome en uitdrukkings wat raak en op die man af is. Van hierdie uitdrukkings raak egter in die vegetelheid weg omdat ons nie almal ken of onthou nie.

Raai-raai watter idioom word in hierdie prentjie verskuil. (Loer heel onder vir die antwoord!)

Son trek water - Copy

Hoeveel van hierdie Afrikaanse idiome ken jy?

Sien betekenisse onder!

1. Die appel val nie ver van die boom nie.

2. Bloed kruip waar dit nie kan loop nie.

3. Vir iemand duim vashou.

4. Geld wat stom is, maak reg wat krom is.

5. Heelhuids van iets afkom.

6. Mal Jan onder die hoenders.

7. In dieselfde juk trek.

8. Doller as kop-af kan dit nie.

9. Jou nie onbetuig laat nie.

10. Dis ’n hele sabbatsreis daarheen.

11. As die kat weg is, is die muis baas.

12. Jou pen in gal doop.

13. Iemand met ’n kluitjie in die riet stuur.

14. Deur skade en skande word ’n mens wys.

15. My geheue speel my parte.

16. Onder valse vlag vaar.

17. Moenie jou kom haantjie hou by my nie.

18. ’n Ander man se briewe is duister om te lees.

19. Die achilleshiel van iemand.

20. Die mens wik; God beskik.

Kan jy raai watter idioom is in hierdie prentjie verskuil?

Op die draad sit - Copy
Dit is natuurlik "Op die draad sit", wat beteken om nie kant te kies nie.

Afrikaans.com is ’n nuwe webwerf daarop gemik om Afrikaans in haar volheid te vier en te verken.

Dit is daar waar jy op hul trivia-blad jou Afrikaanse taalkennis kan toets, of saamgesels oor jou gunsteling uitdrukking of idioom. Jy kan ook ’n illustrasie van jou gunsteling idioom instuur of self ’n lekker raaisel uitdink en aanstuur.

Neem deel aan die gesprek op die trivia-blad of gaan loer hier vir meer inligting en om te sien hoe JY R10 000 kan wen!

#myafrikaans #onthougoed

Hoe lyk jou afrikaans Trivia

Besoek Afrikaans.com en kom gesels saam!

Antwoorde op die idioom-raaisels:

1. Die kind is soos die pa of ma.

2. Vir jou familie doen jy altyd meer as vir ander mense.

3. Baie graag wil hê dat iemand sukses moet behaal.

4. ’n Mens kan baie met geld doen.

5. Ongedeerd van iets afkom.

6. Een kêrel onder baie meisies.

7. Om saam te werk.

8. ’n Mens is maar een dood skuldig; niks kan erger.

9. Die taak fluks aanpak en wys waartoe jy in staat is..

10. Dis ver soontoe.

11. As die baas (die ouers) weg is, maak sy werkers (die kinders) nes hulle wil.

12. Uiters bitsig skryf.

13. Iemand met mooipraatjies afskeep.

14. Deur sware ondervinding raak jy verstandig.

15. My geheue laat my in die steek.

16. Jou uitgee vir iemand anders as wat jy is.

17. Moenie so astrant wees in my teenwoordigheid nie.

18. ’n Mens kan nooit presies sê hoe dit finansieel, emosioneel of andersins met ’n ander mens gesteld is nie.

19. Die kwesbare plek van iemand of die swak punt in sy karakter.

20. Die mens oorweeg wel hoe om dinge te doen, maar God bestuur ons weë.

Die prentjie-raaisel heel bo is natuurlik "Die son trek al water", wat beteken: Dit word laat.