Op 13 Oktober om sowat halfdrie is nooddienste en reddingspanne ontbied ná berigte dat die 10 m lange gehuurde boot Miroshga by Duiker-eiland naby Houtbaai omgeslaan het. Die presiese getal mense aan boord was onbekend – dit het gewissel van 34 na 50 – nietemin was daar verskeie beseerdes. Die situasie was kritiek en die spanne moes vinnig optree.

Die duiktoesighouers en reddingstegnici Fabian Higgins en Elvin Stoffels  het ’n oproep via die Metro-beheersentrum ontvang waarvolgens mense vermis is wat moontlik onder die omgekeerde romp vasgekeer is.

Dr. Robertson, ’n direkteur en duiktoesighouer, het Elvin en Fabian by die Houtbaai-hawe ingewag. Die operateur van ’n hoëspoed-toeristeboot het aangebied om hulle na die toneel te bring. Hulle is met sewe bemanningslede daar weg, onseker van wat op die toneel op hulle wag.

Die see was uiters onstuimig, met deinings van 3 tot 4 m. Dr. Robertson, wat die span op hoogte gebring het, het hulle toestemming gegee om die duiksending te onderneem. Fabian en Elvin het hul duiktoerusting gekry en in die onstuimige water geduik. Aangesien Fabian die senior duiker is, het hulle besluit hy sou die aanvanklike assessering doen, terwyl Elvin ’n ogie oor hom hou. Hulle het hul dryfvermoëbeheertoestel afgeblaas en onderwater gegaan.

Die onstuimige water het dit moeilik gemaak om die ingang van die kajuit te kry. Fabian het geen idee gehad hoe die boot veronderstel is om te lyk wanneer dit regop is nie en moes sterk strome onder die boot trotseer. Hy het hom langs die kantreling getrek en na die deur beweeg wat hy raakgesien het. Terwyl hy steeds teen die seestrome gestry het, het hy dit reggekry om hom in die kajuit te trek. Sy oë het eers ná ’n paar sekondes aan die lig gewoond geraak; toe het hy versigtig voortgegaan.

Die kajuit was met wrakstukke besaai – sakke, dokumente, reddingsbaadjies, kameras, verfblikke en toue. Fabian het die rugleuning van die sitplekke vir ondersteuning gebruik en het binne begin soek, steeds met die seestroom en beweging van die boot. Die stroom het hom na die regterkant van die boot gedwing, die teenoorgestelde kant van die vrywilligers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), wat op die oppervlak op die romp was. Hy het aan die reelings vasgehou vir stabiliteit. Hy het ’n oop luik van sowat 50 cm gesien en instinktief daarin geloer.

In die klein lugruimte het hy twee paar bene van die knieë af ondertoe gesien. Albei was bewegingloos. Fabian het aan die paar bene aan die linkerkant getrek en geen reaksie gekry nie. Hy het dieselfde gedoen met die bene aan die regterkant en tot sy ongeloof het die persoon beweeg. Die res van die persoon se lyf was uit die water. Dit het alles in die donker gebeur, tot die boot beweeg het en ’n oomblik of twee lig verskaf het.

Hy kon nie by die deur inkom sonder om sy toerusting af te haal nie; toe druk Fabian sy regterarm en kop in. Hy het sy ekstra asemhalingsapparaat gevat en teen die paar bene gedruk en die lugvloeiklep aangeskakel en gehoop dat die persoon sou besef dis asemhalingstoerusting. Tot sy verbasing het ’n hand dit gegryp. Oomblikke later is dit weer in die water laat val. Sy moed het gesak. Weer het hy die klep aan die persoon gegee deur dit teen hul bene te stamp en hard aan hul bene te begin trek en het gehoop dat hulle sou verstaan.

Ná nog ’n paar trekke het die persoon na hom toe begin beweeg. Fabian het agtertoe uit die opening beweeg en die persoon ondertoe getrek. Hy het gesien dis ’n vrou. Nadat hy haar uit die opening gekry het, het hy verseker dat die klep reg in haar mond was. Hy het sy linkerarm om haar lyf gevou en sy regterhand gebruik om hulle uit die kajuit te navigeer. Net voor hulle die deur bereik het, het die boot beweeg en iets (vermoedelik die rugleuning van ’n sitplek) het hom teen die kop getref. Fabian was ’n paar sekondes verbyster, maar het nooit sy houvas op die vrou verslap nie. Hy het aanhou beweeg, steeds met die seestrome wat hul beweging bemoeilik en toe laer as die boot afgesak om daaronder uit te kom.

Net nadat hy by die reelings verby was, het hy na links beweeg tot hulle weg van die boot was. Hy het toe weer sy duiktoerusting opgeblaas om hulle na die oppervlak te bring. Oomblikke later het hulle die oppervlak bereik; die vrou het steeds aan hom vasgeklou. Teen daardie tyd het hy die NSRI-span gevra om hom te help. Hulle was geskok om iemand saam met hom te sien en het in die water gespring om te help. Die vrou is in die boot gelig en het mediese behandeling ontvang. Daarna is Fabian ook in die boot gehelp.

Dr. Robertson het die plek ondersoek waar Fabian die stamp teen die kop gekry het; daar was nie bloed nie en dus was alles in die haak. Ná ’n paar minute se rus en ’n bietjie water is Fabian weer die water in. Die vrou wat gered is, het gesê daar is minstens nog twee mense in die boot vasgekeer.

Fabian se tweede keer in die kajuit was makliker omdat hy geweet het waarheen om te gaan. Hy het weer sy kop en arms in die opening gedruk en rondgekyk. Die bene het verdwyn; Fabian het geweet die persoon lewe nog. Al was sy suurstofvoorraad laag, het hy die ekstra lugvloeiklep in die opening gedruk en lug laat uitkom in die hoop dat die persoon dit sou vat. Daar was geen reaksie en sy lugvoorraad was amper op; Fabian moes dus gou onder die boot uitkom.

Nadat hy weer in die boot gelig is, het Fabian gesien die polisie se duikers het ook opgedaag.

Kapt. Van der Merwe het gesê by sy aankoms kon hy skaars die boot se omgekeerde romp met die twee reddingsduikers sien. Hy het die gevare vinnig geëvalueer en al die duikers vertel dat hulle onder geen verpligting was om aan die sending deel te neem of te duik nie, aangesien daar verskeie lewensgevaarlike elemente teenwoordig was. Al die duikers het onmiddellik gesê hulle sal steeds duik. Hy het toe die duikers in drie groepe verdeel – kapt. Eben Lourens en konst. Heino Uhde, ao. Gert Voigt en sers. Merwin Nel, met hom en ao. Douglas Jones as die derde groep.

Dr. Robertson het die polisieduikers in kennis gestel dat een van sy duikers ’n oorlewende kon uitkry wat in ’n lugborrel onderin die omgekeerde boot vasgekeer was. Hy het ook gesê daar kan moontlik nog twee passasiers wees wat óf vasgekeer is óf verdrink het. Verder het die duiker beweging onderin die romp gesien, maar hy was onseker daaroor. Hy is onder die boot rondgeslinger en het sy kop gestamp.

Fabian het na die polisie se boot gegaan en aan kapt. Van der Merwe en sy span verduidelik hoe die boot gelyk het en waar die oorblywende slagoffers is sodat hulle sou weet waarheen om te gaan. Hy het genoem die duikers sal hul toerusting moet afhaal om in die klein ruimte te kom.

Daarna het die eerste twee duikers ingegaan.

Eben en Heino het eerste gegaan; Gert en Merwin was die bystandsduikers. Op die boot was Douglas en Kaptein van der Merwe ook gereed in geval van nood.

Intussen was die weerstoestande ook goor: Die stormsterk wind het van tyd tot tyd reuse golwe oor die romp van die omgekeerde boot laat breek. Kaptein van der Merwe het ao. Sutton in die gesamentlike operasionele sentrum gebel en gevra hy moet reël vir sakke en nog suurstof van die Vloot wat hulle aan die boot kon vasmaak om dit drywend te hou. Hy het ook nog suurstofsilinders gevra.

Onderwater in die boot het Eben en Heino gegaan tot by die beperkte ruimte waar die ander slagoffers vasgekeer is. Heino het die slagoffers se voete gesien en by die klein ruimte ingegaan, waar hy die twee oorlewendes aangetref het. Hy het hulle probeer kalmeer terwyl hy vars lug in die ruimte geblaas het. Hy het uitgekom en vir Eben gewink om in te gaan. Dié kon net die boonste helfte van sy lyf in die ruimte kry. Hy het sy mondstuk verwyder om met die twee vroue te praat, van wie een histeries was. Hy het haar sonder sukses probeer kalmeer en die rowwe toestande het veroorsaak dat hy verskeie kere water gesluk het. Die brandstofdampe was so oorweldigend dat hy moes konsentreer om kalm te bly. Hy het swaar asemgehaal en die dampe het sy oë laat brand, wat sy sig belemmer het.

Hulle het besef hulle moet (herorganiseer?) reorganiseer; Eben het die vrou vertel hy gaan terugkom. Hy en Heino het albei lug uit die kleppe in die holte gespuit om die vrou se lugvoorraad aan te vul en is saam terug boontoe.

Op die oppervlak het hulle gemeld dat daar inderdaad twee vroue vasgekeer is in ’n lugholte gevul met brandstof en giftige dampe. Eben het Merwin en Gert in kennis gestel, ekstra maskers gekry en die vier duikers is weer ondertoe.

Terwyl Eben en Heino by die vroue was, het Merwin en Gert die wrakstukke en toue weggeruim om ’n taamlik veilige roete vir die duikers te verseker vir wanneer hulle die slagoffers uitbring.

Terug by die twee slagoffers het Eben verduidelik dat hulle nou uitgehaal gaan word. Hy het hulle elkeen ’n masker gegee en die vrou wat naaste aan die opening was, se reddingsbaadjie probeer afkry. Hy kon nie die bande loskry nie; dit was te styf vasgemaak. Hy het dit oorweeg om dit te sny, maar het die idee laat vaar omdat die rowwe toestande (onder meer die risiko dat daar haaie naby was) ’n te groot gevaar ingehou het.

Die mondstuk van sy tweede asemhalingstoestel kon nie die vrou se mond bereik nie; hy moes dus sy toerusting verwyder en die silinder tussen hulle twee hou. Hy het verseker dat sy met die tweede mondstuk kon asemhaal. Maar weens die rowwe toestande het sy mondstuk verskeie male uitgekom en het hy meer water gesluk. Hy het die vrou probeer aftrek, maar haar instink was om terug te trek elke keer wathaar gesig die water geraak het. Eben het besef hy moet iets anders probeer.

Hy het Heino beduie om oor te neem, sy duiktoerusting aangegee, na Merwin beweeg en dié se suurstof gedeel. Weer het die onstuimige toestande dit onmoontlik gemaak. Eben het geweet hy is ’n las vir die span as hulle hul aandag moes verdeel tussen hom, sonder sy duiktoerusting, en die vroue. Hy het dus beduie dat hy oppervlak toe gaan en hulle het verstaan hulle moet sonder hom aangaan.

Eben het onderuit gevryduik en Merwin is agterna om te verseker hy is veilig uit. Toe hy die oppervlak bereik, het Eben kwaai gebraak weens die dampe in die kajuit. Later het hy gesê hy was verbaas dat die slagoffers wakker was ten spyte van die sterk dampe in die ruimte.

Heino, Merwin en Gert het met die redding voortgegaan. Heino het sy kop in die ruimte gedruk en verduidelik hulle moet onmiddellik optree. Hy het geweet hy moet die eerste vrou uittrek en het aan Merwin en Gert beduie hy gaan dit doen. Hy het verseker die vrou het die mondstuk in haar mond en al sy krag ingespan om haar deur die opening te trek. Daarna het Merwin en Gert hom gehelp om haar heeltemal deur te trek.

Dit was moeilik om haar onder die water te neem omdat haar reddingsbaadjie haar bo water wou hou. Die span het al hul krag gebruik om die vrou onder te hou. Sy is toe saam met Heino uit en op na die oppervlak. Daar het die NSRI-span onmiddellik bystand gelewer. Hulle het die vrou vir onmiddellike mediese behandeling geneem en was verbaas dat sy nog lewe.

Die drie duikers is weer ondertoe. Die tweede vrou het reeds geweet wat om te doen en het saam met die duikers gewerk en is vinnig onderuit die boot gehaal. Douglas is saam met die duikers om bystand te verleen.

Die vrou is in die boot gesit saam met dr. Robertson, waar sy ondersoek is en bystand ontvang het.

Kaptein Van der Merwe het gesê hy kon sien die duikers was oukei, net baie moeg. Hy het die boot se kaptein gevra om nader aan die duikers te probeer beweeg. Die toestand in die water was uiters swak en die duikers het gesukkel. Douglas het die duikers nader aan die boot help kom, waar Kaptein Van der Merwe ’n tou om elkeen gesit en een-een na die boot getrek het. Hulle was so uitgeput dat hulle nie self in die boot kon klim nie; Van der Merwe moes hulle self – duiktoerusting inkluis – in die boot lig. Hulle het almal in die boot gelê en braak, maar was oukei.

Die temperatuur in die water was sowat 8 °C en sulke water kan energie tap. Tesame met die gedurige adrenalien het die duikers gesê toestande was baie moeilik.

Die boot het op ’n diepte van sowat 50 m gelê, en as dit gesink het, sou die duikers beslis nie betyds kon uitkom nie; dit kon hul lewe gekos het.

Hulle moes al hul ervaring, vaardighede en stamina oproep om lewens te red, sonder dat hulle hul eie verloor.

Bewakers: Fabian Higgins (duiktoesighour, reddingstegnikus, ILS), Elvin Stoffels (duiker, reddingstegnikus, ILS), Wes-Kaapse regering – gesondheid; Kapt. P.J. van der Merwe (duiktoesighour, provinsiale koördineerder) Duik- en Waterpolisiëring; kapt. Eben Lourens en konst. Heino Uhde (afwesig op die foto) (bomverwydering, polisieduikers); sers. Merwyn Nel (Ravensmead-polisiekantoor, polisieduiker), Wes-Kaap, Suid-Afrikaanse Polisiediens

In memoriam – Agt maande nadat sy uit die Miroshga gered is, het Bronwyn Kruger op 9 Junie 2013 die lewe geskenk aan Lexie. Lexie is op 20 Maart vanjaar oorlede ná ’n pynlike stryd met Krabbe se siekte.