Afrikaans is ryk aan gesegdes, idiome en uitdrukkings wat raak en op die man af is. Van hierdie uitdrukkings raak egter in die vegetelheid weg omdat ons nie almal ken of onthou nie.

Raai-raai watter idioom word in hierdie prentjie verskuil. (Loer heel onder vir die antwoord!)

Ou bok jong blare[1] - resized

Hoeveel van hierdie Afrikaanse idiome ken jy?

Sien betekenisse onder!

1. Dis van nul en gener waarde.

2. Hy maak ’n skoorsteen van sy mond.

3. Die lendene omgord.

4. Dit gaan so tussen die boom en die bas.

5. Skoonheid vergaan, maar deug bly staan.

6. ’n Halwe eier is beter as ’n leë dop.

7. Elke hart het sy smart.

8. Iemand met ’n kluitjie in die riet stuur.

9. Van ’n padda vere probeer pluk.

10. ’n Gegewe perd moet jy nie in die bek kyk nie.

11. Dieselfde poeding met ’n ander sous.

12. Jou oor ’n dooie rot verheug.

13. Met jou siel onder jou arm loop.

14. Skoenmaker, hou jou by jou lees.

15. Jou dae in ledigheid slyt.

16. Een swaeltjie maak nog geen somer nie.

17. Sy turf sit.

18. Ver van jou goed, naby jou skade.

19. Gods water oor Gods akker laat loop.

20. Met die honde blaf en die wolwe huil.

Kan jy raai watter idioom is in hierdie prentjie verskuil?

Slang in die gras[1] - resized

Dit is natuurlik "Daar is ’n slang in die gras", wat beteken: iewers is iets nie pluis nie, dinge lyk verdag.

Afrikaans.com is ’n nuwe webwerf daarop gemik om Afrikaans in haar volheid te vier en te verken.

Dit is daar waar jy op hul trivia-blad jou Afrikaanse taalkennis kan toets, of saamgesels oor jou gunsteling uitdrukking of idioom. Jy kan ook ’n illustrasie van jou gunsteling idioom instuur of self ’n lekker raaisel uitdink.

Neem deel aan die gesprek op die trivia-blad of gaan loer hier vir meer inligting en om te sien hoe JY R10 000 kan wen!

Hoe lyk jou afrikaans Trivia

Besoek Afrikaans.com en kom gesels saam!

Antwoorde op die idioom-raaisels:

1. Dit beteken absoluut niks nie, dit het hoegenaamd geen waarde nie.

2. Hy rook baie.

3. Klaarmaak vir die stryd of werk.

4. Dit gaan so-so.

5. Deug alleen is onverganklik.

6. Liewer net ’n deel van iets ontvang of besit as om heeltemal niks te kry of te hê nie.

7. Elke mens het sy eie sorge en hartseer.

8. Iemand met mooipraatjies afskeep.

9. Die onmoontlike probeer vermag (soos om geld van iemand te probeer kry wat geen sent op sy naam het nie).

10. ’n Geskenk moet jy nie kritiseer nie.

11. Dieselfde ding in ’n ander vorm.

12. Oorhaastig bly wees oor iets; bly wees oor iets wat tog nie gaan gebeur nie.

13. Verveeld wees en nie weet hoe om die tyd te verwyl nie.

14. Bepaal jou by dit waarvan jy iets weet en moenie jou bemoei met dinge waarvan jy geen benul het nie.

15. Nooit ’n steek werk verrig nie.

16. Een goeie teken is nie genoeg nie.

17. Sy plan het misluk; hy kry dit nie reg nie.

18. As jy nie naby jou besittings is om ’n ogie daaroor te hou nie, word dit deur ander mense verniel.

19. Sake hulle loop laat neem.

20. Met almal saampraat.

Die prentjie-raaisel was natuurlik "’n Ou bok hou van jong blare", wat beteken: ou mans hou van jong meisies.