Miljoene kykers dwarsoor die wêreld verlustig hulle deesdae in vraatkyk: hulle ontvlug na ’n wêreld waar hulle vir ure en ure onophoudelik na boeiende drama-, komediesreekse of sepies kyk. 

Gedurende die wintermaande is marathon-TV-kyksessies ’n bielie van ’n bonus, want dan kan jy jou na hartelus onder ’n snoesige kombers toewikkel en voor die televisie of rekenaar opkrul en episode ná episode van jou gunstelingreekse op Showmax kyk.

Foto: Verskaf

Showmax bederf kykvrate in Julie met ’n reuse-kykextravaganza: die eerste seisoen van die dramareeks Sterlopers, die eerste 11 seisoene van die hospitaal-sepie Binnelanders, die volledige 18 seisoene van Egoli – Plek van Goud, die eerste 4 seisoene van die realiteitsreeks Boer Soek ’n Vrou en seisoen 1 van Die Boekklub.

DIE VRAATKYK-FENOMEEN

Die bekende Afrikaanse skrywer, vervaardiger en rolprentresensent Leon van Nierop sê daar’s verskeie redes waarom kykers daarvan hou om in marathon-sessies te kyk. “Wanneer ’n reeks so boeiend is met soveel naelbyters dat jy letterlik nie kan wag nie, raak dit verslawend, want jy wil vóór die skrywer bly en nie agterna kom en wag nie,” verduidelik Leon. Dit is soos ’n goeie boek soos Daphne du Maurier se Rebecca wat jy nie kan neersit nie, voeg hy by. “Jy koop in die atmosfeer en boeiende storie en wil daardie genot nie deur jou vingers laat glip nie.” 

VOORDELE VAN MARATHON-SESSIES

Daar’s natuurlik meer as een voordeel om jou gunstelingsepie of dramareeks sonder onderbrekings op Showmax te kyk. “Jy kan die draad van die storie behou en van die een klimaks na die ander beweeg sonder enige onderbrekings of advertensies,” sê hy. “Omdat kykers vandag ’n korter aandagspan het, wil hulle op een ding fokus – anders word hul aandag deur ander dinge afgelei en voel hulle nie meer so betrokke by die karakters en storielyn nie.”

IETS VIR ALMAL

Haal solank die springmielies en jou kniekombers uit. Daar is soveel om van te kies, jy sal nie weet waar om te begin nie. En moenie die goue oues vergeet nie. Die volledige reeks van Egoli – Plek van Goud (al 18 seisoene) of die eerste 11 seisoene van Binnelanders sal beslis net so ’n groot bederf vir enige sepie-liefhebber met lang asems wees. 

En jy hoef ook nie te wag vir ’n volgende episode om te wonder watter boer nou watter meisie gaan kies nie – jy kan sonder onderbreking na al vier seisoene van Boer Soek ’n Vrou kyk. En ingeval jy die eerste seisoen van Die Boekklub op kykNET misgeloop het, Showmax gee jou nou die kans om die bekoorlike dramareeks sonder enige verposing te kyk.     

Gaan na showmax.com vir nog kykgenot.