Op 4 Oktober 2012 is ’n span van die Newcastle-beskermingsdiens ontbied om ’n man te red wat deur ’n suigkrag by ’n lekkende grootmaatwaterpyp ingesuig is toe hy besig was om daaraan te werk. Die span moes onmiddellik optree. Die man se lewe het aan ’n baie dun draadjie gehang.

Die stasiebeampte Paul Minnaar het gesê die water is afgesny vir herstelwerk aan die pyp. Toe die stuk pyp breek, was die vakuum binne-in so sterk dat dit die man sowat 100 m die pyp ingetrek het.

Toe die drie brandbestryders daar aankom, het ’n geskokte groep mense hulle ingewag. Die waterinstandhoudingspan het hulle vertel wat gebeur het.

Nadat hy die situasie ontleed het, het Paul met die brandbestryders Zanele Sibisi en Caleb Ngema gepraat en verduidelik dat hulle ’n persoon met ’n klein bou nodig het omdat die deursnee van die pyp slegs 610 mm was. Volgens Zanele het sy ’n dowwe kreun in die donkerte van die pyp gehoor, wat haar genoop het om haar diens aan te bied.

Paul het met die leier van die instandhoudingspan gepraat en verseker dat die watertoevoer af sal bly.

Met haar gewone uniform het Zanele haar skoene uitgetrek en haar handskoene aangetrek om haar hande teen die veselglaspyp te beskerm. Paul het ’n tou om haar middel gebind en haar ’n flits gegee. Die span het haar by die pyp ingehelp en toe het sy in die rigting van die geluid begin kruip.

Eers het Zanele gedink die man was sowat vier lengtes in die pyp af. Toe sy eers binnekom, het sy besef hy was baie dieper. Sy het sy naam aanhou roep en hy het geantwoord.

Die man het haar vertel hy probeer sy bes om na haar te kruip, maar hy was beseer en uitgeput, en sy knieë was baie seer. Hy het gesê hy kon eenvoudig nie verder kruip nie.

Die flits se lig het ál swakker geword en Zanele het erken dat sy paniekerig begin raak het; sy het gevoel die pyp word smaller en donkerder. Haar eie vrees ten spyt het sy geweet sy moes die flits afskakel om die battery te spaar.

Toe sy agter haar kyk, kon sy nie glo hoe ver sy gekruip het nie. Paul en Caleb het die reddingstou gevoer, en elke keer dat sy stilgehou het, het hulle met haar gepraat en haar aangemoedig. Die dowwe eggo van hul stem het haar moed gegee. Sy het geweet sy is nie alleen nie.

Sy was vasbeslote en het die slagoffer eindelik gevind. Sy het gesien die mag waarmee die vakuum hom ingetrek het, was so sterk dat dit die klere van sy lyf geruk het. Zanele het die lig van die flits gebruik om hom in die beperkte ruimte na die beste van haar vermoë te assesseer. Daar was verskeie skaafwonde aan sy bolyf en ’n sny aan sy ken het kwaai gebloei. Maar hy was wakker en het gepraat.

Sy het haar span laat weet sy is by die beseerde man. Toe trek sy haar hemp uit en sit dit onder die man om verdere beserings te voorkom. Sy het die reddingstou om die man gebind en die sein gegee dat hy uitgebring kan word.

Sonder ’n ander keuse (omdat die pyp so nou is) moes Zanele agteruitkruip terwyl die span die reddingstou stadig en versigtig getrek het.

Paul en Caleb het steeds met Zanele gekommunikeer terwyl hulle die man na die opening getrek het. Zanele het die man deur die hele beproewing gehelp. Sy het haar bes gedoen om verdere beserings te beperk, al het die veselglas haar knieë en elmboë gebrand en het haar spiere van die inspanning gebrand. Teen daardie tyd het sy die lengte van ’n rugbyveld gekruip.

Ná twee uitputtende uur is die man uit die pyp gelig, gestabiliseer en na ’n hospitaal vervoer. Paul, met 20 jaar ervaring, het gesê Zanele was ongelooflik dapper. Hy het verduidelik dat die Newcastle-gebied nie ’n gespesialiseerde eenheid vir sulke gevalle het nie, en dat dit by die brandbestryders berus om dit te hanteer wat oor hul pad kom, soos Zanele en die span daardie dag gedoen het.

Ongelukkig het die slagoffer die volgende dag aan sy beserings beswyk.

Bewaker: Zanele Sibisi, leidende brandbestryder, Newcastle-brandweerdiens