Eskort word vanjaar 100 jaar oud en vier dit met die 100 Resepte vir 100 Jaar-kompetisie. 

Volgens Eskort is dit die mense wat hul produkte geniet wat die lewe lekker maak. Hulle het Suid-Afrikaners genooi om hul smaaklikste resepte met Eskort-produkte in te skryf en die storie daaragter te deel. 

Vyf Huisgenoot-lesers se resepte is gekies om opgeneem te word in die Eskort Eeufees-resepteboek. Elkeen kry ook R2 000 in kontant. Geluk aan al die wenners en dankie dat julle jul resepte met Suid-Afrika gedeel het. 

Hier is die liplek-lekker resepte en die stories daaragter.

WENNER 1: Elmarie Louw

“My ma het altyd die beste varkpasteie gemaak. Sy sou soggens vieruur opstaan om die deeg te begin maak en die vark is op die plaas geslag,” vertel sy. “Gelukkig kan ek nou klaargemaakte deeg en Eskort-varkvleis koop om dié familieresep te maak.” 

Varkvleis-potpastei
Genoeg vir 6 mense

Bestanddele
30 ml olyf- of avokado-olie
2 uie, fyn gekap 
2 groen appels, in blokkies gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk
2 x 375 g-pakkies Eskort Gold Medal-varkwors
200 g Eskort-spekblokkies 
60 ml koekmeel
375 ml hoenderaftreksel
varsgedrukte suurlemoensap, na smaak 
hand vol salieblare, gesny 
sout en vars gemaalde peper
400 g broskorsdeeg, ontdooi
1 eier, liggies geklop

Metode
Verhit 15 ml van die olie en soteer die uie, appels en knoffel ongeveer 8 min. tot bruin. Hou eenkant. 
Druk die worsvleis uit die omhulsels. Verhit die oorblywende 15 ml olie en braai die spek en worsvleis ongeveer 10 min. tot bruin. Breek in groter stukke op soos dit braai. Meng deur die uiemengsel. 
Meng die meel in, dan die aftreksel en bring tot kookpunt. Laat 10 min. prut of tot dit dik word en roer van tyd tot tyd. Meng die suurlemoensap en salie in. Voeg die sout en peper by na smaak. 
Voorverhit die oond tot 200 °C. Verdeel die vulsel tussen 6 oondbestande bakkies van 250 ml. Sny die deeg in 6 reghoeke en plaas bo-op die bakkies. Sny ’n klein kruis in die middel van elke deegdeksel met ’n skerp mes. Verf die eier op die deeg en bak 20 min. tot die deeg goudbruin en gaar is. 

WENNER 2: Lita Renney

“In ons huis was ontbyt nog altyd ’n groot bederf. Ek sal botterbroodjies of plaatkoekies maak en die gewone spek en eiers sal ’n nuwe baadjie kry, soos hierdie op-en-wakker-spekontbytkoppies.”

Op-en-wakker-spekontbytkoppies 
Lewer 6 koppies

Bestanddele
2 pakkies Eskort- korslose deurwaste spek
6 eiers
65 ml room
125 ml gesnyde tamaties
1 pak verwelkte babaspinasie
125 ml gerasperde cheddarkaas 
sout en vars gemaalde peper, na smaak
hand vol gekerfde pietersielie

Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Voer ’n muffinpan met 6 holtes met die spek uit. Klits die eiers en room saam. 
Voeg die tamaties, spinasie, kaas, sout en peper en pietersielie by.
Giet in die koppies en bak 15 tot 20 min. tot die spek krakerig en die eiermengsel gaar is.

WENNER 3: Vivia Grobbelaar

“Dié resep laat my altyd aan my ma dink. Sy het geweet sy kan my hiermee bederf,” onthou sy. 

Dit is ’n maklike, veelsydige resep. “Met hierdie gereg op die tafel sal niemand honger ly nie en almal sal sê hulle het lekker geëet!” 

Kerrie-varkwors met perskesous 

Bestanddele
1 ui, opgesny
olie of botter, vir soteer
12 Eskort Gold Medal-varkwors
1 blik (410 g) ingelegde perskes in stroop 
12,5 ml borrie
12,5 ml kerriepoeier, matig en skerp
10 ml asyn
12,5 ml suiker
12,5 ml Maizena

Metode
Soteer die ui in die olie of botter. 
Voeg die wors by en braai tot bruin. 
Sny die blik perskes oop en gebruik die stroop om die borrie, kerriepoeier, asyn en suiker te meng. Voeg by. Kook 5 min. en voeg dan die perskes en Maizena by. Bring 2 min. tot kookpunt. Sit voor saam met kapokaartappels.

WENNER 4: Rita Smuts

Rita se heerlike resep maak ’n vinnige, smaaklike ete wat sy graag saam met ’n slaai of as ’n versnapering voorsit. 

Kaserige spekrol
Genoeg vir 3-4 mense

Bestanddele
1 rol (400 g) broskorsdeeg
200 g (of meer) gerasperde goudakaas 
200 g Eskort- korslose rugspek 

Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Ontdooi die broskorsdeeg vooraf. Rol die deeg uit in ’n gesmeerde oondbak wat groot genoeg is dat die rol plat kan lê. Bedek die deeg met die kaas.
Plaas die repe spek bo-op die kaas en rol soos ’n rolkoek. 
Sny klein openings bo-op die rol. Bak 35 min. of tot liggies goudbruin. 

WENNER 5: Rina Vermeulen

“Die kombinasie van spek en aartappel in hierdie maklike resep is heerlik,” sê Rina. “Dit neem ’n mens nie lank om te berei nie en jou gesin of gaste sal lekker eet.”

Spek-en-aartappelkoekies

Bestanddele
2 middelslag-aartappels
1 middelslag-ui 
1 eier
75 ml melk 
300 ml meel
250g Eskort-spekblokkies
sout en vars gemaalde peper na smaak
5 ml gedroogde pietersielie 
olie vir braai

Metode
Was die aartappels; moenie skil nie. Skil die ui en rasper die aartappel en ui saam. Klits die eier en melk saam en hou eenkant. 
Voeg die meel by die aartappel-en-uimengsel. 
Voeg die spek, melk-en-eiermengsel, sout, peper en pietersielie by en meng in die aartappelmengsel in. 
Verhit die olie in ’n pan en skep eetlepelsvol van die mengsel in die pan en braai tot goudbruin.