PROMOSIE

IMG_9794

Mense in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verdien ’n inkomste en voer ’n bestaan deur die ikoniese Kaapse aalwyn, Aloe ferox, op ’n volhoubare manier te oes.

Aloe ferox is op die Konvensie betreffende die Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (KIHBS) se plantspesielys en al is dit nie kritiek bedreig nie, is dit noodsaaklik om seker te maak dat komende geslagte ook dié plant se voordele kan benut.

Die Aalwyn-oes-trust in Albertinia is in 2008 van stapel gestuur omdat daar ’n groter aanvraag na aalwynprodukte en ’n tekort aan tappers was.

IMG_9865

Deesdae voeg die tappers hul oeste saam om plaaslike kopers se bestellings te lewer. So neem baie mense in Albertinia op ’n volhoubare manier deel aan die biodiversiteitsekonomie. Die tapper verdien twee derdes en die boer een derde van wat die koper betaal.

Wat is ’n biodiversiteitsekonomie?

Biodiversiteit is die mate van verskeidenheid onder plant- en dierspesies in ’n ekostelsel. Met tot 10% van alle bekende spesies hier verteenwoordig, is Suid-Afrika een van die mees biodiverse lande ter wêreld.

As hierdie rykdom aan plante en diere verantwoordelik en volhoubaar gebruik word, kan dit ’n aansienlike bydrae tot ekonomiese groei maak. Hierdie ekonomiese groei lei tot werkskepping en sosio-ekonomiese ontwikkeling wat gemeenskappe bemagtig.

Hoe word Aloe ferox volhoubaar geoes?

Aloe ferox kan van so jonk as vier jaar oud getap word en as dit volhoubaar gedoen word, kan dit tot op 150 jaar gedoen word. Tappers sny die onderste rye blare van elke plant af. Die blare word dan in ’n sirkelvormige stapel gepak sodat die vog uit die blare kan dreineer. Die vog word dan in dromme van 25 L gegiet en in vloeibare of kristalvorm verkoop. Die plant word dan vir 12 tot 18 maande gelos om te groei voor dit weer getap word.

IMG_9783

Wilhelmina Phigeland is ’n aalwyntapper wat trots is op haar werk. Sy sê: “Dit is ’n voorreg om ’n tapper te wees. As ek gaan sjampoe koop en daar staan ‘aalwynsjampoe’ op die bottel, voel ek trots. Omdat ek aalwyne tap, kan ander mense ook aalwynsjampoe vir hul hare kry.”

IMG_9776

Boi Adams werk al 20 jaar as aalwyntapper en het ’n span wat vir hom werk. “Ek het by die vorige geslag tappers geleer. Ek en my span sny aalwyn en verkoop dit aan die fabriek vir R20 per kilogram. Ek betaal my span en die boer kry sy derde.”

Terwyl gemeenskappe leer hoe om die ikoniese Kaapse aalwyn op ’n volhoubare manier te oes, leer Kinders in die Park die jongspan ook meer van bewaring.

West Coast

“Ons oogmerk met Kinders in die Park is eenvoudig – om soveel kinders as moontlik bloot te stel aan Suid-Afrika se diverse natuurerfenis om ’n lewenslange liefde vir bewaring te kweek,” verduidelik Sanparke se bestuurder van omgewingsopvoeding en -bewustheid, Maria Moate, die program.

"Ons verseker dat voorheen benadeelde kinders, veral kinders wat nog nooit die geleentheid gehad het nie, die park op hul eie kan besoek."

Dit is ’n vennootskap wat in 2005 tussen die departement van omgewingsake (DOS), Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke), die departement van basiese onderwys en Pick n Pay begin is.

Daar is 19 nasionale parke in die land, maar die meeste kinders wat naby hierdie parke woon, kry nooit die geleentheid om dié wilde wonderwêrelde te besoek nie. Hierdie program wil dit verander deur skoolkinders en hul onderwysers die geleentheid te gee om ’n nasionale park te besoek.

Hier kan hulle dan eerstehands leer oor Suid-Afrika se natuur- en kultuurerfenis. Die drie dae lange program bied toegepaste ondervinding in die wildernis vir voorheen benadeelde kinders.

West Coast

Met spesiaal beplande aktiwiteite leer hulle oor die wesentlike belang van waterbesparing in ons waterskaars land. Die oornagkamp is ook die ideale kans om jong mense bewus te maak van loopbane in bewaring.

Tot dusver het meer as 51 000 leerders van gr. 5 tot gr. 7 danksy hierdie program een van die 16 deelnemende nasionale parke besoek.

Besoek hul webwerf om meer te leer oor Aloe ferox en die departement van omgewingsake se bewaringsprojekte. Jy kan ook op Facebook en Twitter saamgesels.