Laktose-intoleransie is nie ’n melkallergie nie, maar ’n spysverteringsteuring wat ontwikkel wanneer jou liggaam meer laktose inneem as wat hy kan hanteer. Dit is dus bloot die onvermoë om laktose, die suiker wat van nature in melk en melkprodukte voorkom, effektief te verteer.

Laktose bestaan uit twee suikerkomponente, naamlik glukose en galaktose, wat in ’n verbinding is. Die liggaam vervaardig normaalweg ’n ensiem genaamd laktase om dié twee suikerkomponente te skei sodat hulle in die bloed opgeneem kan word.

Wanneer die liggaam nie genoeg laktase maak nie, kan die twee suikerkomponente nie geskei word nie. Omdat die melksuiker dan begin gis, kan dit tot ongemaklike simptome soos opgeblaasdheid, winderigheid, los stoelgang en maagkrampe lei.

Die meeste mense wat laktose-intolerant is, kan tot 12 g laktose in ’n enkeldosis hanteer en min of geen simptome ervaar nie. ’n Koppie melk (250 ml) bevat normaalweg 12 g laktose. Suiwelprodukte soos melk, maas, jogurt en kaas verskaf belangrike voedingstowwe, soos proteïene, kalsium en kalium. Almal – jonk en oud – benodig dié voedingstowwe.

Moenie dat laktose-intoleransie jou daarvan weerhou om ’n gesonde, gebalanseerde dieet te volg wat melk en suiwelprodukte insluit nie.

Maak so om laktose beter te verdra:

  • Neem klein hoeveelhede melk of suiwel op ’n slag in en versprei jou inname deur die dag. Volroommelk word beter verdra as laevet- of vetvrye melk.
  • Gebruik melk en suiwelprodukte saam met ander kos. Giet byvoorbeeld melk oor graankos of pap, roer ongegeurde jogurt in sop in of eet kaas op brood. Op dié manier word die vertering van laktose vertraag en ongemaklike simptome dus bekamp.
  • Kaassoorte soos cheddar, gouda en mozzarella bevat baie min laktose (minder as 1 g laktose in ’n porsie van 40 g) en word in die algemeen maklik verdra.
  • In gefermenteerde suiwelprodukte soos jogurt en maas is die laktose reeds gedeeltelik afgebreek. Boonop bevorder die lewende kulture in gefermenteerde suiwel laktosevertering, wat van jogurt en maas ideale keuses maak as jy laktose-intolerant is.
  • Jy kan ook laktosevrye produkte probeer.

Suiwelprodukte help om sterk bene en tande te bou en dra by tot algemene goeie gesondheid. Jy hoef nie van suiwel weg te skram nie: Baat by die voedingswaarde daarvan, selfs al is jy laktose-intolerant.

Vir meer inligting gaan na www.rediscoverdairy.co.za.