Die aand van 1 Augustus 2010 het die Ekurhuleni-noodbestuurdienste benoude oproepe ontvang van berigte van ’n brand by die Peter Wessel-tehuis vir bejaardes in Dunnottar, Nigel. Spanne is onmiddellik ontbied; die situasie was kritiek.

Die reaksiespanne kon die lig van die brand selfs ’n kilometer daarvandaan sien. Hulle kon ook mense hoor roep na geliefdes terwyl die noodpersoneel hulle gehaas het om die brand te blus.

Die brand het begin in die verswaktesorg-eenheid op die hoek van die gebou, maar het in twee verskillende rigtings versprei. Sowel die voorkant van die gebou as dieper in die voorportaal en gange was onder vlamme – die rook en hitte het ’n reuse, dodelike inferno geskep.

Bewapen met twee vol brandslange het die eerste span van drie brandbestryders die gebou binnegegaan. Hulle het in kringe beweeg om die brand te blus. In so ’n situasie kan ’n brand gelyk uit alle rigtings kom. Die ruimte is driedimensioneel – en die vuur klim mure, vloere en dakke uit. Die span moes dieper die brand inbeweeg, en het deure oopgebreek en in oop ruimtes beweeg op soek na slagoffers.

Toe die bystandspanne opdaag, was die gebou al heeltemal deur vlamme verswelg. Binne-in kon die sigbaarheid beskryf word as pikswart sonder elektrisiteit om lig te verskaf. Pasiënte is deur vensters gelig, terwyl ander brandbestryders deure oopgebreek het om verswakte pasiënte op hul skouers of matrasse uit te dra. Die meeste pasiënte was bedlêend en party was verstandelik gestremd. Almal was bejaardes en vreesbevange.

In die meeste gevalle kan mense uit ’n brandende gebou na veiligheid hardloop, maar siekes en bejaardes kan ongelukkig nie so vinnig van gevaar af wegkom nie. Gevolglik moes die paramedici op soek na slagoffers so diep die vlamme en hitte inbeweeg as wat hul liggaam kon toelaat.

Baie pasiënte het buite gelê en het bystand by mediese personeel ontvang. Intussen het die brand deur baie dele van die gebou gewoed. Daar was nog baie pasiënte in die gebou vasgekeer. Brandbestryders het vensters gebreek en diefwering afgesny om mense te gaan red.

Met al die aksie was die asemhalingsapparaat gou leeg. Gewoonlik hou die apparaat deur die hele reddingspoging, maar weens al die hardloop en fisieke vereistes het die bestryders se apparaat veel gouer leeg geraak. Daar was eenvoudig nie tyd om te wag vir hervulde apparaat nie. Die brandbestryders het toe om die beurt in die gebou gegaan; kollegas het ingekruip om oor te neem sodra een uitkruip vir vars lug.

Die brand is as ’n “warm brand” geklassifiseer, want die ou gebou het soliede houtbalke en plafonmateriaal gehad wat warm gebrand het, terwyl die suurstofpype wat deur die hele gebou loop, veroorsaak het dat die brand vinnig versprei. En deurentyd was daar die gevaar van ’n ontploffing weens die teenwoordigheid van vloeibare petroleumgas.

Dit was ongetwyfeld ’n ramp van epiese omvang.

Paramedici het mense in ’n gebied agter die gebou vir brandwonde en rookinaseming behandel, terwyl drie prioriteit-een-pasiënte met ernstige brandwonde per lugambulans na ’n hospitaal gebring is.

Ambulanse na plaaslike hospitale het baie ander so gou moontlik vervoer. Mediese vloeistowwe, resussitasiemiddels en ander items is almal vinnig opgebruik weens die groot getal pasiënte wat hulle moes versorg.

In ’n wonderlike voorbeeld van ’n spanpoging het die verskillende spanne saamgespan en die hele nag deur gewerk.

Die personeel het volgens protokol gewerk, maar weens die aard van die voorval moes hulle ook buite hierdie beperkings werk. Daar was byvoorbeeld nie tyd om pasiënte mooi voor hul vervoer te verpak nie – dit was ’n geval van “optel en gaan”. Die risiko’s van die brand self, die moontlike ontploffing en die gebou wat inmekaar kan val, was te groot om selfs sekondes te vermors.

Ondanks alles het die span daardie nag al die moontlike gedoen, en het 99 pasiënte van die brand gered. Ongelukkig is 18 pasiënte oorlede, insluitend dié wat later in die hospitaal beswyk het. Sonder die merkwaardige moed en deursettingsvermoë van die reddingspersoneel, wat daardie tragiese aand reeds soveel verduur het, kon dit baie meer gewees het.

Centrum week 5

Bewakers: Nooddienste van die Ekurhuleni metropolitaanse munisipaliteit, ER24, nooddienste van die Gautengse provinsiale regering, Life Healthcare, Maponya 911-reddingsdienste, Netcare 911