Santie was ’n gelukkige, gesonde werkende ma wat bedags as navorsings- en data-analis met gekompliseerde formules en ingewikkelde data gewerk het. Tot alles ses jaar gelede verander het . . .

"Ek het dekking gekry toe ek gesond was. Nou besef hoe belangrik dit is om dit betyds te doen”

“Een oomblik was ek nog besig om my kinders aan die slaap te kry en die volgende oomblik was ek in die hospitaal, waar dokters gesê het ek het ’n wurm in my brein. Dit was so onwerklik, maar op daardie oomblik het my lewe vir altyd verander.”

Die wurm het Santie se geheue en analitiese vermoë aangetas. Sy kon nie meer werk as data-analis nie en het ’n nuwe loopbaan as kinderboekskrywer begin. Gelukkig kon sy die finansiële impak hanteer omdat sy spaargeld en beleggings gehad het sowel as versekering in geval sy haar inkomste sou verloor.

“Al kon ek aanvanklik op my man se salaris staatmaak, was ek so bly dat ek my finansiële toekoms verseker het. Ek het dekking gekry toe ek gesond was. Nou besef ek hoe belangrik dit is om dit betyds te doen.”

Santie se lewensveranderende ondervinding is glad nie uniek nie. ’n Onlangse Sanlam-meningspeiling toon dat 78,5 persent van Suid-Afrikaners oor 50 al minstens een onverwagte verrassing in die lewe ervaar het.

Vyf stappe om te verseker dat jy gedek is teen die onverwagte:

  1. Begin en hou vol met ’n noodfonds: Dit moet gelyk wees aan drie tot ses maande se salaris. Die fonds sal nie jou probleme oplos nie, maar buffer bied in ’n noodgeval.
  2. Stel ’n finansiële plan op: Praat met ’n finansiële adviseur om ’n holistiese finansiële plan vir jou lewe saam te stel – vir die kort, medium en lang termyn. Stel jou die ergste moontlike finansiële situasie voor waarin jy jou kan bevind – soos verlies aan inkomste weens siekte, afdanking of die dood van ’n geliefde broodwinner – en neem dit in ag by jou beplanning.
  3. Kry finansiële beskerming teen lewensrisiko’s: Risikodekking is bedoel om jou finansieel by te staan as die onverwagte gebeur. Maak seker jou finansiële behoeftes is gedek om jou toekomstige welstand te verseker en jou gesin se toekoms te beskerm.
  4. Maak seker jy spaar genoeg: Om voorsiening te maak vir spaar, is nog ’n manier om voor te berei vir die onverwagte en dit kan help dat jy nie vir jou geliefdes ’n las word nie.
  5. Hou jou testament op datum: ’n Testament sal jou gesin beskerm in die nadraai van jou afsterwe. Jou testament moet jou wense duidelik uiteensit  sodat jou gesin nie finansieel swaarkry as jy nie meer daar is nie.

Lees Santie se volledige storie by www.sanlam.co.za