’n Hartlike welkom uit ’n warm en sonnige Londen! 

Ek het so ’n week gelede by my man, JP, aangesluit vir die IKR Kampioenetrofee-toernooi hier in Londen. JP is eindelik terug op die been (letterlik)! Die manne was eers by ’n oefenkamp in Amsterdam, wat deur die wêreldbekende ontdekkingsreisiger en avonturier Mike Horn aangebied is.

Mike het in 2000 roem verwerf nadat hy sonder gemotoriseerde vervoer ’n solo-reis rondom die ewenaar voltooi het. Hy het in 2002 twee jaar en drie maande lank alleen die tog om die Arktiese Sirkel aangepak en hy en die Noorweegse ontdekker Børge Ousland het in 2006 die eerste mans geword wat sonder honde of gemotoriseerde vervoer tot by die Noordpool gestap het – en dit in algehele donkerte.

Mike gebruik sy ervarings om sportmanne en ander mense wat moeilike take verrig te motiveer en aan te spoor.  In 2010 en 2011 was hy betrokke by motiveringsessies vir die Indiese krieketspan. Gary Kirsten, wat toe hul afrigter was, het dit gereël. Die span het daarna in 2011 vir die eerste keer in 28 jaar die Wêreldbeker gewen. Nadat Gary as die hoofafrigter van die Proteas aangestel is, het hy Mike gevra om ’n motiveringsessie met die Proteas te doen. Hulle het in 2012 op ’n ekspedisie na Switserland gegaan ter voorbereiding vir die toets teen Engeland. Die Proteas het gewen en ons is eindelik aangewys as die wêreld se nommereen-toetsspan. Gaan lees gerus oor Mike se ongelooflike reise en ervarings op www.mikehorn.com. Hier is so ’n paar foto’s van die Proteas se oefenkamp in Amsterdam.

  Die Protea-span in Amsterdam nadat JP 150 (nie uit nie) aangeteken het op hul eerste eendag-oefenwedstryd teen Nederland.

Die vroue agter die spelers . . .

Dis was so lekker om ná sewe maande by die huis weer by die Proteas aan te sluit. Ek is ongelooflik bevoorreg om in die posisie te wees waar ek saam met my man kan reis, die wêreld kan sien en hom terselfdertyd in sy beroep kan ondersteun. Die span is ’n familie, die Protea-familie, soos ons dit noem. Die vroue is almal vriendinne. Ons bring meer tyd saam in hotelle deur as by ons huise! Anders as die rugbymanne is die krieketspelers maande aaneen weg van die huis, so daar word voorsiening gemaak vir gesinne wat saam wil reis. Gary Kirsten is ’n ongelooflike rolmodel vir die spelers. Hy handhaaf ’n goeie balans tussen sy veeleisende beroep en sy gesin. Dis ’n moeilike leefstyl: Dit behels baie opofferings, tyd, geduld en vertroue. Dis swaar om slegs een of twee maande van die jaar by die huis te wees, so dis verstaanbaar dat hy wil uittree as die afrigter van die Proteas. Ons groet Gary met ’n swaar hart, maar weet sy twee seuns en babadogter het hom baie nodiger het. Dankie aan sy pragtige vrou, Debbie, wat hom so lank aan ons geleen het. Dit verg ongelooflik baie opofferings en ongerief om kinders in hotelle te probeer grootmaak. Ons land is baie trots op die Proteas te danke aan jou man! Nadat ek my graad in Pretoria voltooi het, was ek sterk besig om ’n werkie in die Kaap te soek. Toe ek JP in 2008 ontmoet, was dit love at first sight en the rest is history. Twee weke nadat ek hom ontmoet het, het hy vir twee maande Australië toe vertrek. Ek was dolverlief en met ’n gebreekte hart het ek die man van my drome gegroet. Dit was aaklig en die twee maande het soos twee jaar gevoel!

Ná sy terugkeer het ons ons verhouding hervat. Ses maande later is ek sak en pak Kaap toe, ’n jaar later was ons verloof en nog ’n jaar later was ons getroud.

Ek was net met my twee tassies in die Kaap toe JP op sy eerste toer vertrek. Ek moes my voete vinnig vind. My ma en pa was duisende kilometer ver en ek het alleen en ’n bietjie verward in ’n stil huis agtergebly. Drie weke later sou ek vertrek om my man te sien. Dis toe dat ek besef hierdie verhouding gaan anders wees, baie anders as enige van my vorige verhoudings. ’n Voltydse werk gaan nie werk nie, tensy ek 150 dae verlof per jaar kan kry om my man te kan sien!

Ná vier jaar kan ek eindelik sê ons het ons voete gevind en ’n goeie balans geskep tussen JP se beroep en ons huwelik. En nee, dit is nie so glamorous soos wat almal dink nie!

Ek sê altyd die voordele is groot, maar die nadele is net so groot. In die vier jaar was ek nog net een maal saam met hom op sy verjaardag (danksy sy besering!). My verjaardag val altyd tydens die Nuwejaarstoetsreeks, so geen partytjies nie. Ons was nog net een keer saam op Valentynsdag, hy was nie daar die dag toe ek my graad ontvang het, toe my boetie getrou het of toe sy beste vriend 30 geword het nie. Kort vakansies en selfs troues kan net dae of weke vooruit beplan word. Toe ek hom in 2011 op die lughawe groet, het ons nie geweet waar of wanneer ons mekaar weer sou sien nie.

As hulle ’n semi- of finaal sou haal, sou hy nie huis toe kom nie. Dit het beteken ek moes Indië of Wes-Indiese Eilande toe vlieg. Vliegkaartjies word dae voor die tyd bespreek, so tasse en visums moet altyd reg staan. Ons het darem al gewoond geraak aan die Skype-storie. As ek vir ’n Sondagete na JP se ma toe gaan, is die skootrekenaar op die tafel saam met ons en manlief eet saam. Baie weird! Mense vra my gewoonlik of dit nie irriterend is as mense ons so baie pla wanneer ons uitgaan nie. Nee, dit is nie, want wanneer ons by die huis is, is hy myne, maar wanneer ons buite is, is hy julle s’n.

 Ek en manlief op pad na ’n Sondagete by my skoonma. 

JP braai ’n vleisie saam met sy vriende en familie. Tog moes ek gewoond raak aan al die opmerkings van die publiek. Snags het ek al snikkend gaan slaap oor al die aaklige twiets en opmerkings wanneer die manne verloor. Dis so gerieflik vir party mense om van die paviljoen af te skree of via hul rekenaar lelike kommentaar te lewer oor hoe “useless” ons spelers is of dat die speler “ge-drop” moet word. Ná die wedstryd gaan daai persoon terug na sy gesin toe en slaap snoesig in sy eie bed en eet lekker gekookte kos terwyl die “useless” speler, wat agt uur lank in die son of koue moes staan en nou uitmekaar geskree en sleggesê is, alleen teruggaan na sy hotelkamer. . .

Die publiek dink dit raak die Proteas nie wanneer hulle ’n wedstryd verloor nie. Hulle dink so omdat hulle nooit die spelers se emosies agter geslote deure sien nie. Hierdie spel kan jou kop, moed en menswaardigheid vinnig affekteer. As ’n speler se kop nie in die regte plek is nie, sal sy spel ook nie wees nie. Baie van die mans verkies om hul vroue of gesinne saam op toer te hê, want dit skep ’n koesterende plek van vertroue en ondersteuning vir hulle. Daar is iemand met wie hulle kan praat as dinge te veel raak. Daar is darem ook ’n sielkundige wat saam met die span toer om met die manne te praat en hulle te motiveer. So speel optimisme en vertroue van die publiek ook ’n baie groot rol in hoe die manne speel. Ek dink as ons Suid-Afrikaners saamstaan deur die slegte en goeie tye, sal dit ’n baie groot verskil in toekomstige wedstryde maak.

Ek verstaan heeltemal hoekom party spelers “mislik” of “arrogant” voorkom. As jy goed speel, is jy ’n held, maar die volgende oomblik word jy sleggesê en vertrap die media en publiek jou in die grond.

Die spelers speel om elke wedstryd te wen. Hulle speel hul harte uit, maar dis menslik onmoontlik om elke liewe wedstryd te wen. Hulle is ook maar net gewone mense wat goeie en slegte dae beleef. Genoeg nou van al die slegte dinge . . . Dis wonderlik en ’n absolute voorreg om die vrou te wees van ’n man wat sy land verteenwoordig. Baie mense sien op na JP. Ek bewonder altyd sy pragtige gesindheid, die feit dat hy altyd die goeie in alles sien, dat hy niemand ooit oordeel nie, dat hy ander altyd bo homself stel en dat hy altyd na my kyk asof ek die enigste en mooiste vrou in die hele wêreld is. Ek is mal oor die feit dat aardse dinge en besittings hom glad nie pla nie; verhoudings, geluk, vreugde en vrede is die nommereen-prioriteit in sy lewe. Ek dank die Here elke dag vir hierdie pragtige man wat Hy vir my gestuur het. Ek voel soms ’n leeftyd saam met JP is te kort. Ek wil partykeer hê tyd moet net so ’n bietjie stadiger verloop dat ek net nog so ’n uur of twee in ’n dag saam met hom kan wees. Met so ’n geseënde huwelik is al die opofferings en tye alleen by die huis deur en deur die moeite werd . . . Vir al die meisies wat nog soek na Mnr. Reg: Gooi weg die lysie van wat hy moet en nie moet wees nie. Die lewe het ’n manier om jou iets onverwags te gee. Maak seker jy kyk dit nie mis nie. Groete uit Londen!

- Sue Duminy