OP SKOOL was Jackie die voorsitter van die ACSV (Afrikaanse Christen-Studentevereniging) en die KJA (Kerkjeugaksie)-voorman. Dit was ampte beskore vir voorbeeldige jong mans wat die Bybelse beginsels verstaan en uitleef. Onthou, dit was die 1980’s – sulke belangrike posisies was destyds nie eintlik jong meisies beskore nie.

[caption id="attachment_60453" align="aligncenter" width="600"]skoolfoto Op skool was Jackie ’n baie goeie sportman, wat erekleure vir rugby, gimnastiek en duik verwerf het. Hier is ons matriekklas in 1985. Ons staan in die tweede ry, Jackie en ek langs mekaar. Ons was ’n skoolkys. Jackie vra steeds gereeld uit na hierdie skoolmaats wat byna 30 jaar gelede laas deel van ons lewe was, asof ons hulle gister gesien het.[/caption]

En toe kom die weermag. Twee jaar in die armie verander mense, en Jackie het skielik baie vrae oor godsdiens gehad en met ’n innerlike stryd geworstel – ’n stryd wat ek nie kon begryp nie en wat ek later net nie meer wou stry nie.

Ons het uiteindelik nie meer oor God gepraat nie en ek het, tot my skaamte, die strydbyl begrawe, sodat ons nie meer kerk toe gegaan het nie.

En toe gebeur die ongeluk. En net hy kry so seer. En hy praat van mense wat hy sien . . . mense wat reeds oorlede is, maar hy besef dit nie.

Hy “sien” Jesus.  Maar Jesus was “ ’n bietjie kwaai” met hom. Hy vertel van die baie lang mense wat rondom sy bed was. Die lig. Sy ma en pa wat altyd by hom is. Hy stry met my as ek sê sy pa is 18 jaar gelede dood, want hy was dan nou net hier. So ook sy ma, wat vyf jaar gelede oorlede is.

En skielik begin die lig van ’n groter plan vir my opgaan. Daar is soveel wat ons nie verstaan nie . . . veral nie van tannie Mariëtta se “ander kant”* nie.

Saam met die onsamehangende, botsende gedrag word die Here weer die middelpunt van sy lewe.

Wonderwerke gebeur. Ons het byna vier jaar lank ’n plekkie in ’n aftreeoord vir my ma gesoek. ’n Maand voor die ongeluk kry ons die perfekte plek, en haar woonstel in Vryheid (in KwaZulu-Natal) word verkoop aan die eerste mens wat kom kyk. ’n Maand later woon sy ’n paar kilometer van ons af hier in Pretoria.

[caption id="attachment_60452" align="aligncenter" width="600"]Collage Links is ons seuns, Jacques (15) en Ruan (7), by my ma, Let, in haar tuin in Pretoria. Regs is die drie by Jackie twee weke voor hy onherstelbare breinskade in die motorongeluk opgedoen het.[/caption]

Dis asof die Here geweet het ons het haar nou naby ons nodig. Sy gee vir my die stabiliteit wat ons andersins nie nou sou gehad het nie, en sy is die skouer waarop ons kan huil.

Dit alles laat my met ’n gevoel dat daar na ons omgesien word.

Daar is beslis ’n groter plan.

* Mariëtta Theunissen het in die TV-program Die Ander Kant mense in aanraking met hul oorlede geliefdes “aan die ander kant” probeer bring.

- Michelle

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het. Lees haar volgende aflewering aanstaande Dinsdag.