Dit is die wrede werklikheid waarmee die blogger en nuusleser  Stacey Skrysak, van Illinois in Amerika, die afgelope vier jaar moes saamleef.

Maar niks kon haar voorberei op die kwetsende opmerking wat ’n vreemdeling sou maak nadat sy met hulle oor haar verlies gepraat het nie.

Stacey het in ’n bloginskrywing op haar blog, Scary Mommy, ’n voorval gedeel wat plaasgevind het toe sy saam met haar vierjarige dogter in ’n parkie was.

“Dit was ’n tipiese dag in die park, die son het helder geskyn en ons ma’s het oor ditjies en datjies gesels terwyl ons ’n ogie op ons kinders hou,” skryf sy.

“Die ma langs my het vir my gevra: ‘Is sy jou enigste kind?’ My hart het amper gaan staan terwyl ek vinnig oor my omstandighede nagedink het.

Moet ek vir dié vreemdeling die waarheid vertel – wat tot ’n ongemaklike oomblik kan lei – of moet ek dit net oorslaan en sê: ‘Ja, sy’s my enigste kind."

“Ek het om die een of ander rede daardie dag gemaklik gevoel en verduidelik my dogter is ons wonderwerkkind. Ek het vir die vrou langs my vertel sy’s al oorlewende van ’n drieling en dat haar broer en suster binne twee maande ná geboorte dood is."

“Die onmiddellike reaksie was ’n bekende een: Die ma het my ’n geskokte en simpatieke kyk gegee wat ek al duisende kere tevore gesien het. Maar wat sy daarna gesê het, het my verras: ‘O, ek’s jammer. Ten minste het jy jou dogter.’ ”

Hierdie opmerking, vertel Stacey, was genoeg om ’n warboel van emosies by haar te laat ontstaan.  

“Ek kon voel hoe my gesig warm word terwyl ek die trane terugsluk. Ja, hierdie pragtige en sterk dogtertjie is wonderlik en sy’s die lig van my lewe, maar dit verander nie die feit dat haar broer en suster nie meer met ons is nie."

“Terwyl ek na die vrou se kinders gekyk het, was al reaksie waaraan ek kon dink: So, watter een van jou kinders sal jy bereid wees om te laat gaan?”

Stacey het egter geswyg en net die trane oor haar wange laat rol.

So aaklig soos wat die storie is, is hierdie ervaring is nie uniek tot Stacey nie. Talle ouers wat rou, moet ongevoelige opmerkings van ander, wat dalk nie lelik bedoel nie, hanteer.

As jy dus niks moois het om te sê nie, moet liewer niks sê nie. 

Hier is ’n lysie van vyf dinge wat jy nooit aan ’n treurende ouer moet sê nie:

1.Jy’s nog jonk, jy kan nog kinders hê.

Kinders kan nie vervang word nie. As jy dit sê, impliseer jy hul kind kan bloot met nog een vervang word.

2.Laat gaan en beweeg aan.

Enigiets wat daarop sinspeel dat die ouer “daaroor moet kom” is taboe. Dis nie so maklik om ná so ’n verlies “aan te beweeg” nie.

3.Alles gebeur met ’n rede. 

Wanneer iemand treur, het niks sin nie. En so ’n opmerking kan dalk ongevoelig voorkom, selfs al bedoel jy goed.

4.Ten minste . . . 

“Ten minste het jy ’n kind oor... ” “Ten minste kan jy nog kinders kry… ” Dit kan vir die ouer voel asof jy die kind wat hulle verloor het, as iets gerings afmaak. Daar’s geen silwer randjie aan die dood van ’n kind nie.

5.Ten minste was hy/sy nie ouer nie – dan sou dit soveel erger gewees het.

Hierdie opmerking is besonders onsensitief. Ongeag of ’n kind 21 of een dag oud was, die verlies is nie kleiner of groter nie. Dit was steeds ’n kind vir wie die ouers drome gehad het.

Ouderdom maak nie saak nie.

  • Hierdie inligting kom uit verskeie blogs van ouers wat ’n kind of kinders verloor het. 

Bronne: Still Standing Mag, Scary Mommy Blog, Her View from Home, Mommyish