Ons koninklike blogger kan nie wag vir prins Georgie – oftewel klein GAL – se eerste amptelike fotosessie nie. ’n Babagesiggie kan mos baie in twee weke verander . . .

SO JA. Klein prins George is ’n bietjie meer as ’n week oud, en nadat almal nou eers klaar gegons het oor sy doopname (George Alexander Louis, oftewel Gallie, soos die rubriekskrywer Blou Willem hom dadelik gedoop het), verskuif die aandag weer na MC en PC (dis nou Mamma Cambridge en Pappa Cambridge).

Mamma en Pappa Cambridge word wyd geloof vir hul ontspanne en natuurlike vertoning voor die mediapeloton buite die St. Mary-hospitaal in Londen.

Met ’n arsenaal kameras op hulle gerig was albei so koel soos komkommertoebroodjies, en wie kan nou nie help om “aaaa” te sug oor pappa Cambridge se beskermende hand op sy vrou se rug en die feit dat hy haar “poppet” genoem het nie?

Die prins se behendige vasgespe van die babastoeltjie het ook menige manlike joernalis op Twitter sy bewondering laat uitspreek.

Nou gons almal weer oor wat PC se volgende skuif is. Gaan hy op Anglesey aanbly as reddingsvlieënier, of gaan hy, soos laas naweek eksklusief deur die Sunday Express berig is, hom by die Household Cavalry aansluit as offisier met sy basis in Londen? Sy teenwoordigheid in Londen sal baie help as hy meer koninklike verpligtinge begin nakom, iets wat dalk ál nodiger sal wees in die lig van sy grootouers koningin Elizabeth en prins Philip se gevorderde ouderdom.

Prins Philip het ná die verkennende buikoperasie wat hy vroeër ondergaan het, uit die kollig gebly. Hy is ook tans die enigste van die senior koninklikes wat nog nie sy nuwe agterkleinkind ontmoet het nie. Hy is ook nie verlede Vrydag saam met die koningin Balmoral toe nie en sal hom eers oor ’n paar weke by haar aansluit. Die moontlikheid bestaan dat hy die Cambridges plus kleinding binnekort in Sandringham sal ontmoet wanneer die gesinnetjie hul intrek in hul tweede tuiste, Anmer Hall, neem. Dié huis is op die Sandringham-landgoed geleë. Die huidige huurder is glo reeds besig om die huis te ontruim, berig die Daily Mail. Verbouings word ook daar beplan om plek te maak vir lyfwagte en meer privaatheid vir die jong gesin.

William se jaarlikse verlof is feitlik uitgeput en grootoupa Philip sal dus moet wag vir ’n naweek wanneer William nie aan diens op Anglesey is nie. William is bekend daarvoor dat hy nie graag spesiale verlof neem weens sy pligte as tweede aanspraakmaker op die Britse troon nie. Hy is tans met vaderskapsverlof van twee weke, maar daarna is dit terug helikopter toe!

Tydens pa se verlof is daar natuurlik die fotosessie waarna ons almal uitsien: prins George se eerste amptelike fotogeleentheid. Die eerste van vele vir dié jong prinsie . . .

Ek kan nie wag om te sien hoe die babagesiggie in twee weke verander het nie, want al wat my van die fotosessie buite die hospitaal bybly is daardie woelige handjies, groot voorkop en skreeuende gesiggie toe pa William hom motor toe gedra het! Met al die klikkende kameras was daar ook nie juis ’n kans om die jong man met die groot longe te hoor skreeu nie.

Hoewel Catherine nie ’n kinderoppasser wil hê nie, veral nie in die eerste paar weke van moederskap nie, is haar en William se Italiaanse huishoudster-cum-regterhand wel saam met hulle Bucklebury toe. Antonella Fresolone het lank in die huishouding van die koningin gewerk voor sy die pos as huishoudster en skoonmaker by die Cambridges aanvaar het.

Bou- en restourasiewerk is tans nog aan die orde van die dag in die Kensington-paleis, en ek is dus seker Catherine se ouerhuis in Bucklebury is vir al drie Cambridges ’n ontspanne en veilige toevlugsoord. Die eiendom word dag en nag deur die polisie bewaak, maar aan die binnekant is daar geen sprake van butlers of diensmeisies nie. Hier is dit net die Middletons en die Cambridges, sonder die onsigbare muur van diensknegte wat so tipies van die lewe in die paleis is.

Sodra die Cambridges hulle gevestig het in Woonplek 1A in Kensington-paleis, sal selfs ’n wandeling met prins George in sy stootwaentjie geskeduleer moet word. Catherine en kleinding sal saam met veiligheidswagte en natuurlik Lupo in die tuine kan gaan rondstap. Ek kan nie wag vir daardie foto’s nie . . .

- Arlene Prinsloo

Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Sy is ook Huisgenoot se koninklike blogger. Lees haar ander blogs by:

Welkom in die wêreld!

Is baba C stylvol laat?

Baba C gaan luid verwelkom word . . .

Harde werk tot Baba C opdaag!

Laaste sien van Catherine? 

Wie weet?

Dit is amptelik Julie, baba C se geboortemaand!