Lank gelede sit ek eendag met my beste vriendin en gesels. Ek kan nie glo ek word môre 13 nie, sê ek toe vir haar.

Ek kon nie glo ek is amper ’n tiener nie, so asof my hele lewe skielik op die dag dat ek ’n tiener word anders sal wees. Dit was nie. My verjaardag was baie lekker, maar alles het presies dieselfde gebly, want op daardie ouderdom woon ’n mens in ’n beskermende borreltjie. Ons ouers hanteer al die admin en ons is salig onbewus daarvan!

En toe, 17 jaar later, dink ek: Genugtig, ek kan nie glo ek word môre 30 nie!

Vir my 30ste verjaardag het my man my na die Ritz-hotel in Londen uitgeneem. Dit was fantasties.

Hy het ook vir my een van die mooiste handsakke in die wêreld, ’n Chanel, gekoop, so hy het my regtig bederf.

Ek het soos ’n prinses gevoel – wel, ’n prinses met ’n groot maag, want ek was ook sewe maande swanger! Daar sit ons toe ’n heildronk en drink met ’n grenadelladrankie en lemoentee in die hand!

Dit was so ’n anderster 30ste verjaardag, maar ja, so het ek 30 getref!

Knip jy jou oog, is dit daar. Hulle sê mos dis hoe dit is! Maar hierdie mylpaalverjaardae kan so ver voel wanneer jy jonger is.

’n Paar dae gelede sê ek vir ’n vrou: Ek word nou oud; ek’s 30, waarop sy antwoord: “Wat praat jy nou, Morgan! Liewe hemel, ek is 52!” Toe dink ek: Jy weet goed sy’s reg, 30 is nie so oud nie, maar hoekom het ons so ’n ding oor 30 word?

Baie mense nader 30 vol vrees en dan sê ander: “Ouderdom is net ’n getal, waarvoor is jy so bang?” Maar ek het geleer dis nie die getal waarvoor ons bang is nie, natuurlik nie, maar vir die verwagtings en veranderings wat daardie getal bring.

Ons 20’s is daar om ’n werk te hê wat ons glad nie van plan is om vir die res van ons lewe te doen nie en om met ouens uit te gaan met wie ons asseblief tog net nie regtig die res van ons lewe wil sit nie. Dis daar om veels te laat partytjie te hou, elke sent wat ons verdien uit te gee op onbenullighede en ons dan heeltyd troos met die woorde: “Vir wat anders is my 20’s daar?”

My 20’s was so vol sports, ek sou ’n boek daaroor kon skryf. Ja, ek het foute gemaak, maar ek is oor niks spyt nie. Ek het gedoen presies wat ek wou en die lewe het my ’n paar lesse geleer.

Dan is jy skielik nie meer in jou 20’s nie. Jy is 30 en dadelik lyk dit ’n bietjie minder aanvaarbaar om sorgeloos te wees en nie ’n plan, ’n loopbaan, ’n wederhelf of ’n gesin te hê nie. Ek dink dis hierdie oorgang wat eindelik die vrees veroorsaak vir wat 30 inhou. Dis nie dat jy onmiddellik hierdie dinge nodig het nie, maar jy weet dis nou tyd dat jy ernstig daaroor moet begin dink.

Aanvanklik was dit vir my baie erg dat ek my 20’s sal moet groet, so erg dat my geboortedatum op my Facebook-blad die afgelope twee jaar 01-05-84 was. En dis verkeerd! Dit is 01-05-83. Ja, ek is skuldig aan ouderdomskaamte. Ek het vir myself nog ’n jaar in my 20’s probeer wen. Dis erg, ek weet, ek weet! Ek weet ook ek is nie al een wat dit op Facebook doen nie!

Mense kan verskil en sê dis nie waar nie, maar in die algemeen is ons geprogrammeer om te dink ons is in ons 20’s op ons begeerlikste; daarom is ons skaam om dit te erken wanneer ons ons 30’s bereik. Vroue ouer as 29 haat dit om oor hul ouderdom te praat! Dis ’n oeroue storie.

Maar die feit is dat vroue in hul 30’s fantasties is: Ons is sekerder van onsself as in ons 20’s, ons is slimmer as in ons 20’s, ons is onafhankliker, ons verstaan mans veel beter. En weet jy wat? Volgens statistiek bereik vroue eers in hul 30’s hul seksuele piek, wel, dis nou volgens Oprah! Dit beteken ’n beter sekslewe as in ons 20’s . . . Sien, daar’s soveel om na uit te sien!

Om ons 30’s te betree moet beslis nie veroorsaak dat ons onsself nie meer as prettig en begeerlik beskou nie, of om nie meer verskriklik verruklik aan te trek of nie meer grimering te dra of sexy te wees nie. Hemel, nee! Kyk, ek weet dis nie maklik as jy kinders het nie; jy't ’n werk en jy is saans moeg en jy’t nie ’n huishulp nie, maar waar ’n wil is, is ’n weg. My ma het vier kinders, ’n werk en geen huishulp nie en daar is nie ’n dag in haar lewe dat jy haar nie deur ’n ring kan trek nie. En sy’s 57! Sy maak altyd tyd om op haar beste te lyk. Moenie so maklik tou opgooi nie . . . maar moet dit ook nie vir ’n man of enigiemand anders doen nie. Doen dit vir jouself! Hou daardie vuur aan die brand. Elke vrou het ’n jong sekskatjie in haar, maak nie saak hoe oud sy is nie.

Ek glo vas as ons goed lyk, dra dit ongetwyfeld daartoe by dat ons beter voel.

Ek het nie meer ’n ewige vrees om in my 30’s te wees nie, want dis waar, ouderdom is net ’n getal! Ek het besluit dis belaglik om oud te wil voel in my 30’s. En ek hoop dat wanneer ek 40, 50, 60 of 70 is, ek nie die soort mens sal wees nie wat gaan lê en sê: Nou’s ek oud, ek kan net sowel depressief raak daaroor en wag om lepel in die dak te steek. Daar is baie sulke mense, eintlik te veel!

Ons behoort elk liewe ouderdom wat ons bereik aan te gryp, want ons lewensdae is bitter kosbaar! As jy van binne gelukkig is, as jou lewe die rigting inslaan waarin jy wil gaan, waarom sou jy dan ooit tyd wil hê om stil te staan en nie na die volgende hoofstuk om te blaai nie? Per slot van rekening, ons leer net die res van die storie ken deur daardie bladsy om te blaai! Ek is seker dit gaan opwindend wees!

– Morgan Deane Smith

* Morgan Deane Smith is met die krieketster Graeme Smith getroud.