Die vroue het ’n halfuur lank in doodse stilte voor die kantoor van die destydse eerste minister, JG Strydom, gestaan. Toe begin hulle ’n lied sing wat spesiaal vir die geleentheid geskep is: Wathint’Abafazi Wathint’imbokodo! Losweg kan dit vertaal word as: “Noudat jy die vroue aangeraak het, het jy ’n rots getref.”

Ons almal het daardie een vrou wat vir ons die wêreld en soveel meer beteken. Drie van Huisgenoot se lesers het hul roerende boodskappe met ons gedeel.

Jolene Smit skryf dié brief aan ’n "ander ma" in haar lewe:

Mamma Luc,

Vyf jaar gelede het die lewe my harder getref as ’n trein uit die bloute. Die pad was duister en ek het nie geweet wat voorlê nie. Alles wat eens vir my bekend was, het verdwyn soos as in die wind. Ek was moedeloos. Ongelukkig. Het myself afgebreek.

Ek het ophou soek na die goeie in die lewe, tot jy in my lewe ingestap het. Jy het my hangende voorkop opgetel en my geleer om dapper te wees teenoor al die hartseer, met die Bybel in my hand en ’n glimlag op my gesig. 

Dankie dat jy my leer om die positiewe raak te sien in elke situasie

Jy is een van die beste mense wat ek ken. Op skool was jy dalk net die onderwyseres wat my deur matriek gedruk het, maar min het een van ons besef hoeveel meer jy in my lewe sou beteken. Ek is elke dag dankbaar vir alles wat jy doen en gee.

Jou liefde, hulp, steun, motivering en preke. Niks daarvan sal ek ooit vir enigiets verruil nie; daarsonder sou die lig op my pad weer verdwyn. Dankie dat jy my leer om die positiewe raak te sien in elke situasie; om goed te doen teenoor ander mense; om nederig te wees; om te vergewe; om aan te hou glo in myself en om selfs meer te glo in wat God vir my beplan; om die lewe te geniet, net myself te wees en elke dag ’n glasie wyn te geniet. Wit. Sonder ys.

Ek hoop jy kan sien hoe ongelooflik jy is, selfs in die dae waar jou eie voorkop hang

Dankie meestal dat jy net jy is. Jy is goud. Jy het soveel waarde in mense se lewe. Jy is baie werd, soos Spreuke 31:10 sal sê: “ ’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.” ’n Vers wat direk aan jou verbind kan word. Iemand wat ’n sterk karakter het, groot wysheid, baie vaardighede en deernis. Mooier kan ’n mens jou nie beskryf nie. 


Jy verdien dit deur en deur om gevier te word op hierdie Vrouedag. Ek hoop jy kan sien hoe ongelooflik jy is, selfs in die dae waar jou eie voorkop hang. Hoewel ons duisende kilometers uitmekaar is, klink ek ’n glasie op jou en al die vroue wat God gebruik om ander mense se lewe te verryk. Dankie vir die afgelope paar jaar. Ek sien uit na die volgende 50 wat op ons wag. My liefde vir jou is onbeskryflik groot!

Liefde,
Jollie 

Wilma O'Neill wil graag haar ma spesiaal laat voel. Lees haar brief hier:

’n Geliefde vrou, ma en ouma

Dié brief is om die wêreld te vertel van ’n asemrowende, godvresende vrou wat ek die voorreg het om my ma te noem.

My ma en pa is as jong volwassenes getroud. Ná twee jaar van getroude lewe het my ma aan my die lewe geskenk. Twee jaar later is my broer gebore. My ma het haar lewe lank alles opgeoffer om haar gesin te versorg.

Nooit was sy te moeg of ontsteld om haar plig as vrou, ma en ouma na te kom nie

Toe ek baie klein was, is my ma se ma oorlede en my oupa het by ons kom woon. Toe ek in die hoërskool was, is kanker by my oupa gediagnoseer en my ma het hom versorg tot hy oorlede is. Hoewel my oupa nog vier kinders gehad het, het my ma hom eiehandig versorg en nie ’n dag daaroor gekla nie. Sy het hom met soveel liefde en sorg versorg en hom in sy laaste dae so gemaklik moontlik gemaak.

My ma bedryf ’n snoepwinkel by ’n laerskool. Gaan loer gerus op ’n winteroggend in en jy sal klein, halfverkluimde lyfies voor die oond sien, warm sop in die hand. Die snoepie-mamma tel hulle net voor sesuur voor die skoolhek op as hulle so vroeg van die trein moes klim en so bitter koud op die sement voor die skool se hek sit en wag.

As sy sien die lyfies het nie ’n trui nie, maak sy ’n plan om een te kry. Op ’n Saterdag kan jy beswaarlik deur ’n winkelsentrum stap, want om elke hoek en draai is ’n ander gesiggie wat drukkies uitdeel en vir hul ma wys wie hul snoepie-mamma is.

Twee jaar gelede is kanker by my pa gediagnoseer. Dit het ons almal verpletter. Ek kan my nie indink hoe my ma gevoel het nie. Dit was nie net die tweede man in haar lewe wat deur die siekte afgetakel word nie, maar haar lewensmaat, haar rots, haar koning.

Hoewel sy verpletter was, het sy haar kop opgelig en haar positiewe houding het ons almal se gemoed verander. Sy het my pa gedra. Sy het hom elke keer die positiewe laat sien, selfs met elke negatiewe uitslag van sy toetse. Amper twee jaar lank het sy hom emosioneel en fisiek gedra en op haar spesiale manier versorg.

Met elke hospitaalopname sou jy my ma nêrens anders as langs my pa se bed sien nie. Nie eens die kwaaiste suster kon haar uit sy kamer kry nie; sy was altyd daar vir hom. Dit het haar gebreek om die groter-as-lewensgroot man van haar so te sien wegkwyn, maar sy het altyd ’n glimlag gehad om hom gerus te stel. 

My ma het haar eie behoeftes opsy geskuif om na ons en my pa om te sien. Boonop is sy nog die soort ouma wat saam met haar kleinkind buite speel en op die grond sit en blokkies bou. Nooit was sy te moeg of ontsteld om haar plig as vrou, ma en ouma na te kom nie.

Ek voel so trots om te kan sê sy is my ma

My pa is oorlede en my ma was steeds die een wat ons bymekaar gehou het. Hoe sterk is dié vrou dan nie.

Ek voel so trots om te kan sê sy is my ma. Die vrou wat my leer vrou wees en wat my van onvoorwaardelike liefde, geduld en geloof leer. Ek wil dankie sê aan God vir die voorreg om dié besonderse vrou as my ma te hê en ook dankie sê vir my ma wat nog nie een dag te besig was vir enige van ons nie.

Haar gesin en die mense rondom haar is altyd haar eerste prioriteit en sy stel haarself altyd tweede sodat sy kan omsien na elkeen wat haar nodig kry.

Dankie, Mammie, jy is die beste!

Liefde,
Wilma

Aneeda Pekeur skryf haar brief aan haar ma, Elna Sacco:

Mamma, waar begin ek om dankie te sê vir die wonderlike vrou wat ek my ma kan noem? Hardwerkend en nederig en sterk.

Maar ma moes ook al baie kronkelpaaie stap. 

Spesiale vrou en ma van my, dankie dat Ma my en Boeta so mooi grootgemaak het. Alleen, nadat pa besluit het die gesinslewe is nie vir hom nie. 

Ma werk hard elke dag, verloor nooit moed nie en is ’n vrou van innerlik krag

Ma het toentertyd vir R50 per week begin werk, en kyk hoeveel het jy vandag bereik. Opgee was nooit ’n opsie nie, want sterk wees is deel van jou karakter. Vas geanker in Ma se geloof het jy jou afgesloof sodat ons net die beste kan kry. Glimlag en rooi lippe maak alles reg. Jy is so dapper; niks kry jou onder nie. Ja, selfs met baie gesondheidsterugslae gaan jy net aan, want jy is ’n spesiale vrou.

Ek onthou ’n paar weke gelede, toe Ma die groot K aan my noem. Ek was so geskok, want my beeldskone, sterk ma kan tog nie so iets makeer nie. Gelukkig het die dokter alles uitgesny en is jy nou kankervry. Ek is so dankbaar, want wat sal ek tog sonder jou doen. 

Ma werk hard elke dag, verloor nooit moed nie en is ’n vrou van innerlik krag.

My hondekind het Ma nou ook Ouma gemaak. Ook met al my miskrame was jy altyd daar om trane af te droog en my te verseker ek is meer as dit.

In my rebelse tienerjare het Ma my altyd bygestaan, soms nie verstaan nie, maar deurgedruk met ’n traan. Ma is die vrou wat ek bewonder, want deur jou het ek geleer wat ’n sterk vrou is. Ek kon deur jou lewenspad leer, en so bewandel ons weë wat net sterk vroue kan stap.

Baie dankie, Ma, jy is baie spesiaal.