[caption id="attachment_58932" align="alignnone" width="600"]Illustrasie: WikiHow Illustrasie: WikiHow[/caption]

IN OMTRENT al my blogs het ek die manne al kwaai oor die vingers getik, maar glo my, ’n afspraak het altyd twee kante. Moenie dink hulle ly nie ook onder vroue nie. Om die waarheid te sê, die stories wat ek al gehoor het oor wat met die mans op liefdesoekwebwerwe gebeur, is net so erg soos myne.

Daar is die geldsoekers en mannejagters en liefdesbeheptes van wie ’n mens nie ontslae kan raak nie. Vreemde siele en versteurde vroue en vreemdetjies wat kaal foto’s stuur saam met ’n versoek vir ’n deposito in haar rekening. Een man vertel dat hy een keer ’n halfuur lank gewag het vir sy afspraak. Uiteindelik het sy daar opgedaag – met bloeiende vingers en rooigehuilde oë. Sy het pas haar werk verloor. Toe kom dit later uit dis nie al wat sy verloor het nie; haar man het haar ook gelos. Jip, sy was nooit enkellopend nie en haar man het van haar kaskenades op die liefdesoekwebtuiste uitgevind. Van vroue wat nog steeds getroud is of jaloerse kêrels het, is daar glo baie. Kies maar ’n vrou wat dit duidelik uitspel dat sy geskei is, en pas op vir profiele waar sy noem sy is van bed en tafel geskei. Partykeer bly sy en manlief nog in dieselfde huis en is die tafel en bed net ’n muur ver.

Dit was egter nie die laaste sien van die waansinnige wyndrinker nie

Vroue wat waansinnige obsessies ontwikkel, blyk ook volop te wees. Ek het al talle stories gehoor van vroue wat ongenooid by die man se huis opdaag of histeriese SMS’e stuur met liefdesverklarings en troudatumvoorstelle ná net een of twee afsprake.

Vroue is dus ook nie altyd engeltjies nie. Baie vroue het meer bagasie as die pakkamer op ’n treinstasie en sommiges het al so baie treine deur hul stasies gehad dat hul spoorlyne skoon deurmekruis is.

Soos die vrou wat wyn soos water gedrink het. Een man vertel dat sy die wyn so vinnig afgesluk het dat hy op die ou einde drie bottels wyn bestel het, waarvan hy self nie veel gedrink het nie. Dit het gou duidelik geword dat sy heeltemal gekletter is, en toe sy boonop aankondig dat sy haar kinders by die skool moet gaan haal, het hy bekommerd aangebied om vir haar ’n huurmotor te kry. Hy het begin rondbel, maar toe hy omdraai, was sy skoonveld.

Dit was egter nie die laaste sien van die waansinnige wyndrinker nie. Later, toe hy op pad huis toe was, het hy gesien daar is ’n groot drama by die polisiekantoor: Iemand het reg voor die gebou in ’n polisievangwa vasgery. Natuurlik was dit niemand anders as die wynvlieg nie. Sy het hom later weer gebel – nie om om verskoning te vra nie, maar om hom weer uit te vra.

Want die vorige keer was dan so lekker . . .

[caption id="attachment_58930" align="alignnone" width="600"]Illustrasies: Wikihow Illustrasies: WikiHow[/caption]

’n Ander man het weer ’n vrou ontmoet wat baie geheimsinnig was oor wat sy doen en hoe sy lyk. Tog het hy ingestem om haar te ontmoet. Op ’n parkeerterrein . . .

“ ’n Parkeerterrein?” vra ek geskok toe hy my die storie vertel. “Wie ontmoet iemand op ’n parkeerterrein!”

“Wel, dit was darem voor die winkelsentrum waar ons afspraak was, en ek het maar aangeneem sy wou nie alleen die restaurant binnestap nie,” was sy verweer.

Op die parkeerterrein was daar geen spoor van die geheimsinnige vrou nie. Maar hy was net van plan om te ry toe is daar ’n klop aan sy venster. Dit was sy. En sy was so lelik soos die nag.

“Sy het glad nie soos haar foto gelyk nie, maar dan weer – die foto was ook so klein . . .”

Dit was nie die ergste nie. Sonder om ’n woord te rep het sy vir hom ’n papiertjie in die hand gestop. Hy het verbaas daarna gekyk.

Dit was ’n “spyskaart”. ’n Lysie van al die dienste wat sy aanbied. En dit was nie tik nie . . .

So ja, al kla ek, kla ek met deernis. Want ek weet aan die ander kant van die draad, aan die mans se kant, is die gras maar ewe groen danksy al die mis wat daar gestrooi word . . .

- Erla-Marie Diedericks

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor verhoudings, liefde  en die ervarings van ’n volwasse enkellopende die era van internet-afsrake.  Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com. As jy ook ’n storie in jou onderste laai het, skryf gerus in vir Erla se aanlyn-skryfkursus by http://www.learninggroup.co.za/online-creative-writing-course.php

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/