“Hy is ’n sjarmante skrywer. Ongelukkig vir hom hou ek nie van vleiers nie.”

So sê ’n 44-jarige vrou van Grabouw wat onlangs geteiken is deur iemand wat sy geglo het ’n sosialemediaswendelaar is wat haar probeer sagmaak het sodat hy haar geld in die hande kon kry. Sy het begin lont ruik, en met behulp van haar 18-jarige seun het sy aanlyn uitgevind dat iemand met dieselfde naam verlede jaar ’n vrou in Gauteng uit ’n groot som geld bedrieg het. Hy het dieselfde metode gevolg. Die geskeide ma van drie het aan News24 gesê dat sy ’n vriendskapsversoek op Facebook aanvaar het omdat sy gedink het hy is die vriend van ’n familielid.

'Ek meen, ek is ’n oorgewig vrou met drie kinders.'

“Toe stuur hy vir my die mees patetiese boodskappe oor hoe wonderlik en pragtig ek is. Ek meen, ek is ’n oorgewig vrou met drie kinders en daar bestaan geen aanlyn foto’s van my nie!

Sy het ’n e-posboodskap wat hy na haar gestuur het aan News24 gewys. Daarin beweer hy dat hy gedeeltelik Suid-Afrikaans is en dat hy by ’n olieraffinadery in die Verenigde State werk. Hy beweer dat hy SA vir ’n jaar gaan besoek, dat hy vriende soek en dat hy graag meer van haar sou wou weet. Die boodskap was deurtrek van taal- en spelfoute.

Die foto’s wat hy gestuur het, skets ’n prentjie van ’n enkelpa met spoggerige motors, ’n ordentlike huis en ’n liefde vir motorfietse en bootreise.

Sy wou hom verhinder om ander vroue te bedrieg en nader toe die polisie op Grabouw. Hulle het egter gesê hulle kan niks doen nie. Sy kon nie ’n klag indien nie, want daar is geen bedrog gepleeg nie. Sy het ook die polisiekantoor gebel in die omgewing waar die ander vrou bedrieg is, maar sy het óf gesukkel om deur te kom óf sy is van Pontius na Pilatus gestuur.

Forensiese Ondersoek

Glenda Paul, ’n bestuurder by IRS Forensiese Ondersoeke, het aan News24 gesê bedrieërs of sindikate teiken kwesbare vroue wie se profiele ’n aanduiding gee van toegang tot geld of tot ’n lonende werk. Haar kliënte is beroepsvroue in ’n pos waar hulle goed betaal word.

Volgens haar vra mense dikwels hulp by hulle, want polisiebeamptes op voetsoolvlak het ’n swak begrip van wat internetbedrog en aanlyn afsprake behels. “Ons het al kliënte gehad wat ons bel en sê hulle was by die polisie, maar die polisie het net omgedraai en vir hulle gesê dit is ’n siviele saak, aangesien hulle in ’n verhouding was.” Die maatskappy sal wel kan help deur die polisie te oorreed om ’n dossier te open en die prooi se verklaring af te neem, en ook hul verklaring daarby te sit, maar hy het beperkte mag om die saak te ondersoek.

'Daar is die afgelope twee jaar ’n toename in sulke gevalle opgemerk.'

Daar is die afgelope twee jaar ’n toename in sulke gevalle opgemerk, in ’n tyd dat daar uitgebreide toegang tot die internet gekom het en Suid-Afrikaners meer internetslim geword het.

Die vrou van Grabouw het aan News24 gesê sy het geen benul hoekom ’n enkeling of ’n sindikaat haar sou teiken nie, maar sy raai dat hulle aangeneem het dat sy ’n florerende onderneming het, of dat sy selfwerksaam is, of dat sy liefde gesoek het as gevolg van haar verhoudingstatus.

“As jy na my tydlyn kyk, sal jy sien dat ek nie bedroef is nie. Dit handel hoofsaaklik oor skoolsake, Bybelversies of kuns,” het sy met ’n laggie gesê.

In die spesialishof vir handelsmisdaad in Bellville is daar tans drie verhore aan die gang ten opsigte van aanlyn afsprake wat slagoffers van oral in die wêreld betrek.

Twee van die sake het betrekking op onderskeidelik ses en agt aangeklaagdes. ’n Sentrale tema was dat sindikate na bewering vals profiele op maatsoekwebtuistes geskep het om vertroue op te bou voor hulle hul prooie geld gevra het vir oënskynlike noodgevalle.

Vishnu Naidoo, woordvoerder van die veiligheidspolisie, het News24 se vrae omtrent kubermisdaad na die Valke verwys.

Hangwani Muladsi, waarnemende woordvoerder van die Valke, het nog nie die vrae beantwoord nie.

Bron: News24