Maar die 31-jarige ma van Durban sê sy het sterker anderkant uitgekom. Sy wy nou haar lewe daaraan om slagoffers van verkragting en seksuele geweld te help.

Cindy Mzobe deel haar verhaal. Foto: Verskaf.

Dit is haar verhaal:

My ma is Indies en my pa swart. In my grootwordjare in ’n land wat nog van apartheid herstel het, is ek dikwels aan baie diskriminasie onderwerp. As kind moes ek baklei vir my plek in die wêreld. Dit het lank geduur tot ek eindelik die selfvertroue gekry en dit deur die hoërskool gemaak het as ’n toppresteerder en ’n vrou wat tevrede is met wie sy is. 

Toe ek 23 was en net met my lewe begin, het ek in Ndwedwe saam met ’n paar vriende in ’n taxi geklim. In die taxi was ses mans en ’n vrou. In die ry het die mans my vriende uitgegooi en was ek al wat oorgebly het. Hulle het sowat ’n uur lank gery voor hulle afgetrek het. Hulle het my uit die voertuig gedwing en my begin aanrand terwyl hulle my klere uitgetrek het. Hulle het beurte gemaak om my te verkrag en my halfkaal langs die pad gelos. Hulle het my gelos om naby ’n bos dood te gaan. 

Dit was baie moeilik vir my. Ek het gevoel ek het my waarde verloor. Ek was die oudste by die huis. Ek moes my sibbes versorg en in daardie tyd het ek het aan hulle gedink en aan niemand anders nie. 

In my gemeenskap word dit as ’n verleentheid beskou om verkrag te word. Niemand wou daaroor praat nie; wat nog te sê my help. Ek moes dit alleen oorkom. Gelukkig kon ek navorsing doen en die behandeling teen MIV neem en is ek nie aangesteek nie. 

’n Paar jaar later het ek my liefdevolle man, past. Nkosingphile Charles Mzobe, ontmoet. Om hom te ontmoet was ’n groot wonderwerk en seëning vir my. Hy het in ’n evangelisasieveldtog gepreek en ek is dronk daarheen, want ek het gedink drink sal my my probleme help hanteer. Maar terwyl hy gepreek het, het die Woord my geraak en is ek verlos. 

Cindy en haar man, past. Nkosingphile Charles Mzobe. Foto: Verskaf

Drie jaar later het hy my die jawoord gevra. Ek het ja gesê. Hy het my deur die helingsproses van my verlede gehelp. Hy was baie ondersteunend. 

Ek was 27 en swanger met my eerste dogter. In ongeveer dieselfde tyd is ek gevra om ’n televisieonderhoud toe te staan en ek was baie opgewonde om my storie te deel en dalk ander te help wat dieselfde ontbering as ek deurgemaak het. 

Die aand voor die onderhoud het ek saam met my niggie na nabygeleë winkels gestap. Toe ons huis toe stap, het ’n man ons agtervolg. Hy het ons toe met ’n vuurwapen gedreig en ons na ’n verlate bos daar naby geneem. Hy het ons albei aangerand en verkrag, eers my niggie en toe my. Daarna is hy met al ons besittings weg en het hy ons daar gelos.

Dit was die mees traumatiese gebeurtenis van my lewe. Ek het meer pyn ervaar as met die eerste verkragting. Ek was ’n sterk gelowige en toegewyde Christen. Ek was sterk in gebed en het na die Here gekom met die wete hy is my toevlug en beskerming. Daarom het ek nooit gedink so iets sou my weer oorkom nie. 

Ek het daarmee geworstel en dit het teen my geloof gestry.

Nadat ek die ergste pyn in my lewe ervaar het en vertroosting gevind by familie, het ek eindelik ’n punt bereik waar ek besef het moes die twee voorvalle van verkragting in my lewe vir iets goeds gebruik. Ek was moeg daarvoor dat mense my jammer kry. Toe begin ek Natakhon South African Youth Organization met die oogmerk om kwesbare kinders te versorg en teen mishandeling en verwaarlosing te beskerm. 

Cindy het die Natakhon South African Youth Organization gestig. Foto: Verskaf

Natakhon reis oraloor met programme teen verkragting, dwelms en tienerswangerskap. Dit is ’n organisasie sonder winsbejag en het nog geen steun ontvang nie. Ek bied dit aan met die hulp van my man. Hy is ’n voltydse pastoor by die Marashanta International Ministry.

Al het ek nooit berading gekry nie, het ek deur my geloof die mans vergewe wat my verontreg het. Dit was nie maklik nie en dit het lank geduur. En terwyl ek dit gedoen het, het God ingegryp. Een van die skuldiges van my eerste verkragting het hom by die polisiekantoor gaan oorgee. Hulle is tot 24 jaar tronkstraf gevonnis. 

Ná al die pyn het ek besef ek leef, ek het oorleef en God het my ’n manier gegee om my pyn te omskep in ’n boodskap van hoop vir ander mense. 

My boodskap aan elke mishandelde vrou is dat vergifnis die sleutel tot geluk is. Laat dit net gaan en vertrou op die Here. Dit is baie pynlik, maar ons kan nie vir ewig vashou nie. Ons moet genees sodat ons kan leef en ek glo sonder enige twyfel as dit nie vir my Here en Redder Jesus Christus was nie, sou ek dit nie te bowe gekom het nie.”