Eindelik is dit weer hier, die een dag in die jaar waarna feitlik die hele wêreld uitsien: Valentynsdag.

Sedert gister is dit ’n gejaag van ’n ander aard om ruikers en geskenkpakkies betyds afgelewer te kry. Al die ruikers bestaan hoofsaaklik uit vars blomme, en moet ook nie vergeet van die tonne en tonne sjokolade wat vandag verorber gaan word nie.

Lees ook Irma en Sampie se wenverhaal

Sampie is baie romanties. Ek is baie lief vir blomme en vandag is dit Valentynsdag no. 33 vir ons as getroude paartjie. Tog kry ek al die afgelope 32 jaar glad nie blomme van hom af nie. Nie een nie, zero, niekies, zilch!

Om te verduidelik hoekom, moet ek heelwat verder terug begin.

Toe ek klein was, het ons gereeld by my ouma-hulle gekuier. Een van my take was altyd om die kunsblomme te was wat die hele huis vol in vase gestaan het. Doerie jare was dit gemaak van sulke harde plastiek, presies dieselfde soort as wat gebruik is vir die kransies by ’n begrafnis.

Elke jaar op Kersdag is so ’n bos kunsblomme begraafplaas toe geneem en in bondeltjies op al die geliefde gestorwenes se rusplekke geplaas. Dus het ek hierdie soort blomme met hartseer en die dood geassosieer.

Jare later word sykousblomme toe die gier. Dis gemaak van draad in die vorm van blomblare en oorgetrek met skelhelder sykouse van verskillende kleure. Dit was eintlik aaklig, maar almal het dit gemaak en hul huise daarmee versier.

Nog later is die blomme gemaak van kerswas. Mense het baie geld betaal vir die lelike goed wat sommer in erge hitte weggesmelt het. Kitsch op sy beste, maar almal het daarvan gekoop.

Nou is ek by ons blommestorie. Dis ons eerste Valentynsdag as getroudes en ons is sewe weke getroud. Ek is by die hospitaal aan diens en tot my verbasing word ’n enorme ruiker na my gebring. Dis potblou, ’n kleur waaroor ek nie mal is nie.

Die ergste is: Dit bestaan uit daardie harde plastiekblomme wat my altyd aan die dood laat dink. Ek neem die kaartjie en bêre dit in my sak. Dit het ’n lieflike boodskap van Sampie op. Die blomme gooi ek summier in ’n drom; ek kan net eenvoudig nie die assosiasie met die dood afskud nie!

Lees ook: Die Vir die Voëls-DVD is amper hier – dis wat resensente van die fliek dink

Tuis gekom, bedank ek Sampie hartlik. Hy vra: “Nou waar is die mooi ruiker dan?” “In die drom,” antwoord ek.  Ons het nie toe nie en jok ook nie nou vir mekaar nie. Voor ek nog kan verduidelik, sê hy teleurgesteld: “Ek koop nooit weer vir jou blomme nie. Klaar!”

Sampie het standpunt ingeneem en daarby gebly, ten spyte van my verduideliking later.

Want sien, net soos ek die reg het op my geite en vreemde redenasies, het hy die reg gehad om geaffronteer te voel en dit te wys.

Tot vandag toe kry ek nie blomme van hom af nie en ek neul nie daaroor nie. Dis daardie dag reeds uitsorteer, en dit is dit. Daar is altyd vars blomme in ons huis, wat ek self gepluk of gaan koop het. Ek is vreeslik lief vir blomme.

Wat ek wel kry, is lekker sjokolade. Hope daarvan, en gereeld ook. En liefdesbriefies by die dosyne en oproepe elke dag om te sê hy is lief vir my. Want soos genoem, is Sampie baie romanties en ’n voorval met plastiekblomme gaan dit nie uitdoof nie.

Lekker hartjiedag julle almal!